Vandag heers daar groot opwinding by die skool, want ons hou vir die eerste keer ‘n Waterbuffel-‘Hamburgerdag’ en beoog om 1 700 ‘burgers’ te braai. In goeie en suiwer Afrikaans moet ek seker na frikkadelbroodjies verwys. Die ‘burgers’ word vandag as ‘n wegneemete verkoop of vanaf 16:00 as ‘n aansitete beskikbaar wees. Waterbuffelvleis word as een van die gesondste rooivleise beskou, met heelwat minder vet as beesvleis, en gaan verseker binnekort ‘n alternatief vir gesonder vleis op die winkelrakke wees. Dit is hoog in proteïene, sink, yster en Omega-3, dus moet jy seker maak jy mis nie uit op die geleentheid om ‘n smullekker waterbuffel-frikkadelbroodjie te kom geniet nie. Daar gaan spesiaal ‘n markiestent vir die feestelike geleentheid op die mini-sportveld agter die skool opgeslaan word, terwyl lekker musiek in die agtergrond speel, wat ‘n feestelike atmosfeer gaan skep. Die snoepie sal ook hul dienste daar verskaf en staan gereed vir enige ander aankope. Ek kan nie wag om julle almal vanaf 16:00 te ontvang nie en saam met julle die waterbuffel-frikkadelbroodjies te proe en daaraan te smul nie. Laat my toe om veral vir Susan Derksen hartlik te bedank, saam met haar OOV-span, wat aan die reëlings van die unieke dag staan, asook ons pa’s wat as braaiers optree. Gister het ons 500 van die ‘burgers’ gebraai en aan ons susterskool, naamlik Laerskool Prestwich, geskenk om vir hul leerders te gee.

Verlede Vrydag het ons o.11 – o.13 netbalspanne, asook ons o.7 – o.13 rugbyspanne, aan die Bulfees-sportdag in Porterville deelgeneem. Dit was bloedigwarm, met die kwik wat op ‘n stadium tot bo 37°C gestyg het. Nie eers die hoë temperature kon ons Jannies se geesdrif demp nie, en hulle het met oorgawe aan hul eerste wintersportwedstryde vir 2025 deelgeneem. Ons spanne het werklik goed tydens die voorseisoentoernooi gevaar, wat deel van die voorbereiding vir die opwindende winterseisoen wat voorlê, vorm.

Vandag en môre ontvang ‘n geselskap van personeellede noodhulpopleiding wat oor die naweek by die skool aangebied word. Dit sluit ook ‘n praktiese eksamen in om ‘n noodhulpsertifikaat te kan verwerf. Noodhulpopleiding vir ons personeel is noodsaaklik en bevorder natuurlik die gevoel van veiligheid. Kennis van noodhulp help hulle ook om meer waaksaam te wees ter beskerming van ons leerders. Of dit ‘n geringe neusbloeding of ‘n ernstige allergiese aanval is, moet personeel voorbereid wees op enige iets wat in die klaskamer of op die perseel mag gebeur. Noodhulpopleiding help dus die personeel om spoedig en doeltreffend op te tree, indien leerders, personeel of ouers dalk mediese hulp verlang.

Op Maandag, 10 Maart, het Hoërskool Jan van Riebeeck ons leerderraad uitgenooi om vanaf 07:30 ‘n leerderraad-ontbyt saam met verskeie ander laerskole by die statige Welgemeend te geniet. Tydens die spoggeleentheid het die bekende Suid-Afrikaanse verspringatleet, wat al aan die Olimpiese Spele deelgeneem het, naamlik Rushwahl Samaai, ons as gaspreker toegespreek. Sy motiveringspraatjie was merkwaardig en het inderdaad almal geïnspireer om spreekwoordelik aanhou om ‘groot’ te droom, in jouself te glo en elke dag net ‘n beter weergawe van jouself te wees. Hy het as kind in ‘n baie arm, informele woonbuurt in die Paarl grootgeword. Hy en sy ouers het in ‘n karige pandok gewoon. Hulle was brandarm en hy moes elke dag 10 km stap na ‘n atletiekveld om sy passie vir verspring uit te leef. Hy het onwrikbaar in homself geglo en stel vir ons almal ‘n goeie voorbeeld van hoe om uitdagings te oorbrug en sy passie na te volg. Sy boodskap was duidelik: ons moet nooit ons omstandighede blameer indien ons nie suksesvol is nie. Baie geluk en hartlike dank aan mnr. Pieter Rademeyer en sy span met die puik leerderraad-ontbyt wat ons leerderraad terdeë geniet het.

Op Dinsdag, 11 Maart, tydens die weeklikse saalbyeenkoms het juf. Lucia en ‘n groep graad 6-leerders ‘n bewusmakingsessie aangebied om ons te herinner dat ons ‘n Afrikaanssprekende skool is en dat leerders hulle in Afrikaans met mekaar by die skool moet kommunikeer en nie in Engels nie. Daar is nou ‘n tendens dat ons leerders verkies om in Engels met mekaar, veral voor- en na skool en tydens pouses, te kommunikeer. Jy mag dalk wonder wat nou hiermee verkeerd is. Behalwe dat ons ‘n trotse Afrikaanse skool is, verloor die leerders die vermoë om in korrekte Afrikaans te praat en sukkel hulle al hoe meer om in Afrikaans te lees met begrip. Dus word leerders nou aangespreek wat Engels tydens skoolure praat en versoek ek ook julle hulp in die verband om jou kind/ers aan te moedig om korrekte en suiwer Afrikaans te praat. Hulle vermoë om in Engels te kommunikeer en te lees, is uitstekend, want ek glo dit is as gevolg van die blootstelling dat in moderne tye omtrent alles in Engels geskied. Ons het dus ‘n verantwoordelikheid om ons pragtige taal te beskerm en te bevorder.

Op Woensdag, 12 Maart, het ons gr. 5- en 6-leerders vir die eerste keer ‘n Wetenskap Ekspo in die skoolsaal onder die leiding van juf. Marianne Conradie (NWT-Vakhoof) aangebied. Die tema was Suid-Afrika, ons wonderlike plante en diere. Die Gr. 5- en 6-leerders het hul puik NWT-projekte vir die res van die skool uitgestal om te kom besigtig. Leerders het ‘n spesiale toegangskaartjie ontvang om die saal, wat spesiaal soos ‘n museum opgemaak is, te besoek. Ek was aangenaam verras met die kwaliteit van die NWT-projekte, veral die detail wat daarmee gepaard gegaan het. Die doel van die Ekspo is om die bewustheid en wonders van wetenskap te verhoog, asook om hul kennis op die vakgebied uit te brei. Ek glo ook dat dit ‘n wonderlike geleentheid vir leerders bied om innoverend saam in ‘n groep te werk. Baie dankie, juf. Marianne, vir die puik inisiatief en baie geluk, juf. Shahneé, met jou leerders se puik projekte. Julle maak ons baie trots en ek glo dat dit ‘n jaarlikse instelling gaan word.

Ek herhaal graag, soos in verlede week se nuusbrief, rakende ‘n skrywe vir ouers/voogde en donateurs se oorweging om ‘n finansiële bydrae vir die beoogde opgradering van sportfasiliteite agter by die mini-sportveld te maak:

Fase 1 behels die lê van ‘n veeldoelige kunsgrasbaan. Die projek word moontlik gemaak deur die ondersteuning van die Opvoedingtrust uit fondse van ons mees onlangse skoolveiling, en daarmee saam die gawe hand van Gerhard Conradie, wat die grond- en siviele werk van die projek gaan hanteer en borg.

Fase 2 van die projek behels dat ons graag die fasiliteite verder wil opgradeer met ‘n volledige sportsentrum met pawiljoene, kleedkamergeriewe, twee klaskamers, sportstore en ‘n mini-klubhuis.

Fase 3 sluit ook in die plaveisel agter onder die bome om die hele area esteties af te rond.

Die kosteberaming van die opwindende projek beloop R7,76m. Baie dankie aan die donateur wat na afloop van verlede week se nuusbrief (28/02) vir ons geld vir die projek bewillig het, maar ons benodig nog heelwat fondse om die projek ‘n moontlikheid te maak. Ek sluit dus weer ‘n skakel in wat al die planne en motivering bevat, soos dit in verlede week se nuusbrief verskyn het. Baie dankie vir julle goedgunstige oorweging om die infrastruktuur by die skool op te gradeer en esteties af te rond. Kontak my gerus indien jy sou belangstel om ‘n bydrae tot die wonderlike projek te maak. Hartlike dank aan Stephen Hitchcock (ouer op ons Beheerraad en argitek) wat die ongelooflike planne ontwerp het.

Sien die planne hier: JVR SPORTSPAVILJOEN

Geniet ‘n heerlike naweek saam met jul gesinne. Sterkte aan juf Rolene, mnr. Leon Starker en die senior koor wat die naweek aan die MCC deelneem. Hulle het baie hard gewerk en is goed voorberei vir die koorfees. Ek sluit dan die week af met ‘n bekende Afrikaanse idioom om ons pragtige taal te bevorder:

‘Ledigheid is die duiwel se oorkussing.’

Vriendelike groete,

Naas Beets

SKOOLHOOF