Hierdie week het vier Nederlandse proefstudente vanaf Saxion Universiteit in Enschede by ons skool aangesluit. Hulle is almal derdejaar-onderwysstudente en doen by ons ‘n internskap tot einde April 2025. Gedurende hierdie tydperk ontvang hulle opdragte/projekte van hul universiteit om vir hul studies te voltooi saam met die proeftydperk en praktiese ondervinding wat hulle by ons kom aflê. Aangesien hulle ook by uitreikprojekte in minder bevoorregte areas betrokke gaan wees, sal hulle slegs drie dae per week by ons skool wees. Hierdie ooreenkoms met die universiteit gee weer vir ons as skool blootstelling aan hul leer- en onderrigmetodiek. Baie welkom aan die volgende vier Nederlandse onderwysstudente wat almal studeer om laerskoolopvoeders te word, en mag hulle horisonne by ons verbreed word terwyl ons ook van hulle kan leer:

  • Pien van Dam

  • Robin Groot Rouwen

  • Jette Somsen

  • Kaylee Taken

Ons is so opgewonde om die bogenoemde vier oorsese studente by ons te akkommodeer, want ons weet dat ons leerders en personeel met hul besoek aan ons ‘n breër perspektief van onderwys en opvoeding in Nederland sal kry. Hierdie uitruil-ooreenkoms stel ons in staat om ‘n eerstewêreld-metodiek van leer en onderrig direk in ons klasse te ervaar. Hulle gaan verseker ook ons kulturele diversiteit verder verryk, en ons gaan ‘n dieper begrip van hul denkwyses en kultuur ervaar.

Op Dinsdag, 18 Februarie, het ons skool weer die jaarlikse Interskole Atletiekbyeenkoms by Hoërskool Jan van Riebeeck se sportveld aangebied, en 53 van ons atlete het deelgeneem. Baie dankie en baie geluk aan mnr. Leon en sy span met die suksesvolle atletiekdag waaraan ses skole deelgeneem het. Baie geluk aan die volgende 23 atlete wat na afloop van die Interskole atletiekbyeenkoms gekwalifiseer het om môre aan die sonebyeenkoms te Vygieskraal deel te neem:

  • Gia Kruger o.10

  • Lukas Loubser o.10

  • Mateo Perreira o.10

  • Louis Hofmeyer o.10

  • Maia du Toit o.11

  • Lea Jacobsz o.11

  • Willem Viljoen o.11

  • Stef Nel o.11

  • Ellen van Heerden o.11

  • Rafa Lampbrecht o.12

  • Dane Botha o.12

  • Zander Smit o.12

  • Ella van der Walt o.12

  • Andree Steyn o.12

  • Anabella Boshoff o.12

  • Ynes Samba Kabassidi o.13

  • Stella Pansegrouw o.13

  • Jeanne van Heerden o.13

  • Zani Scholtz o.13

  • Jack Dawes o.13

  • Nils le Roux o.13

  • Carter Schoeman o.13

  • Rudi Badenhorst o.13

Ons is baie trots op julle en hou styf duim vas dat julle almal vir die WP-kampioenskappe op 27 Februarie 2025 sal kwalifiseer.

Op Dinsdag, 11 Februarie, om 12:30 het ons ‘n beplande ontruiming vir brand by die skool geoefen. Ons oefen een keer per kwartaal ‘n veiligheidsontruiming sodat ons leerders en personeel presies weet watter prosedure om te volg indien een van die volgende gevaarlike situasies homself voordoen:

  • ‘n brand

  • ‘n bomdreigement

  • stakings en siviele onrus

Baie dankie aan al ons leerders en personeel wat so vinnig en ordelik ontruim het. Hierdie is ‘n belangrike oefening om die veiligheid van ons leerders en personeel te verseker.

Baie dankie aan MC du Toit, een van ons ouers, wat een oggend lekker saam gespeel het om die rol as skoolhoof te vertolk. Hy het baie deftig agter my lessenaar gelyk, maar was egter nie bereid om my werk te doen nie. Dit is juis wat ons skool so uniek maak – met ‘n ouer wat sommer vir tien sekondes kom skoolhoof speel om ons almal se dag te vermaak. Baie dankie, MC, jy is ‘n groot sport.

Ons skool presteer weer eens op verskeie gebiede, want ons fokus op uitnemendheid in alles wat ons by die skool doen en aanpak. Dus sluit ek die week af met die bekende aanhaling van Aristotle rakende uitnemendheid. Ek sien baie uit om julle en jul kinders vanaand by die jaarlikse klasbraai by Conradieveld vanaf 18:00 te ontvang. Mag julle dit terdeë geniet en ek weet die samesyn gaan voortreflik wees!

Geniet ‘n heerlike naweek saam met jul gesinne en sterkte aan ons atlete en mini-krieketspelers wat môre gaan deelneem.

“We are what we repeatedly do.
Excellence then is not an act,
but a habit.”

Vriendelike groete,
Naas Beets