Dit is nie aldag dat die nuusbrief op ‘n Valentynsdag gepubliseer word nie. Vandag word Valentynsdag wêreldwyd gevier waar mense die geleentheid gebruik om die liefde te vier. Verseker sien sommige mense Valentynsdag as ‘n kommersiële foefie en ‘n geldmaakspul, maar tog word hierdie gewilde dag geassosieer met die stuur van kaartjies, geskenke en blomme aan ‘n geliefde. Volgens nuttelose statistieke het die Amerikaners in 2023 meer as $26 miljard aan Valentynsdag spandeer. Dalk gaan President Trump hiervoor ook ‘n stokkie steek.

Vandag vier ons egter as leerders en personeel saam die liefde en omgee vir mekaar en trek ons tradisioneel ‘iets’ rooi, pienk en/of wit aan. Op ‘n manier sluit die Valentynsvieringe by een van ons kernwaardes, naamlik OMGEE, aan. Ons kinders word groot in ‘n era en ‘n wêreld waar alles resultaatgedrewe en materialisties van aard is. Ons vergeet dat ons kosbaarste kommoditeit nie in die bank lê nie en dat liefde alle kwaad oorwin. Die leerders kan verseker ook nie vir die gewilde Valentynsdagverkope wat tydens eerste pouse plaasvind, wag nie. Baie dankie aan al ons ouers/voogde vir al die wonderlike Valentynsdagitems wat te koop is. Ek hoop en vertrou dat julle ook op hierdie Valentynsdag tot in die afgrond bederf sal word, julle jul geliefdes sal bederf en mag ons nooit die krag van liefde en vergifnis onderskat nie. Daar is vandag ontelbare mense in die wêreld wie se mees basiese behoefte om geliefd te wees, nie eers amper vervul word nie. Die rede hiervoor is seker dat die mensdom vandag so behep is met hul eie dinge en gefokus is om hul eie doelwitte na te streef, dat hulle nie tyd maak om liefde vir hul medemens te gee nie. Kom ons maak tyd vir ons medemense, selfs in ons eie skoolgemeenskap waar daar mense leef sonder liefde. Laat ons nooit vergeet dat omgee ‘n positiewe krag van deernis besit wat mense oor kulture saambind. Mag ons skoolgemeenskap omgee as ‘n lewensfilosofie uitleef om ‘n verskil in die brose wêreld te maak.

Op Vrydag, 07 Februarie 2025, het ons weer ‘n suksesvolle senior swemgala aangebied. Moeder Natuur het hierdie keer haar samewerking met ‘n heerlike warm en sonnige dag gegee. Baie geluk aan die onderstaande swemmers wat na afloop van die gala die volgende bekers ontvang het:

  • Junior dogterswemmer (o/10 & o/11) vir die jaar: Ellen van Heerden

  • Junior seunswemmer (o/10 & o/11) vir die jaar: Daniel van den Berg & Jan-Jurie Fourie

  • Senior dogterswemmer (o/12 & o/13) vir die jaar: Jeanne van Heerden

  • Senior seunswemmer (o/12 & o/13) vir die jaar: Nils le Roux & Dane Botha

Baie geluk aan die twee sussies wat met die bogenoemde louere weggeloop het—dit is so spesiaal. Laat my ook toe om al ons ouers, voogde, oumas en oupas wat die gala bygewoon het om hul kind/ers en kleinkinders te ondersteun, hartlik te bedank. Dit is ‘n riem onder die hart om te sien hoe ons ouers, voogde en grootouers ons leerders in alle opsigte ondersteun. Baie dankie aan ons Hoof van Sport, mnr. Leon, wat die gala gereël het, asook ons Hoof van Swem, juf. Ilse-Marié, saam met al die ander personeel wat as beamptes opgetree het. Die hoogtepunt van die dag was natuurlik waar die mamma-span teen die onderwyserspanne meegeding het. Die aflositems het groot vermaak en opwinding verskaf en graag wil ek die mammas en die onderwysers hartlik bedank vir die wonderlike gees waarmee dit plaasgevind het.

Ek klink dalk alweer soos ‘n platespeler wat vasgehaak het, maar ek gaan julle weer ernstig versoek om samewerking met ons terreinmanne wanneer julle jul kinders by die skool kom aflaai en/of optel. Probeer asseblief so spoedig moontlik jou kinders aflaai en/of optel sodat ons die wagperiode vir ander voertuie wat in ‘n ry staan, kan verminder. Indien my program dit toelaat, probeer ek sommige dae tydens aflaai en optel saam met die terreinmanne diens doen, maar ons kan net die verkeersvloei deur die skoolterrein verbeter met julle samewerking. By voorbaat dankie vir julle geduld – dit sal middae so ongeveer 10–15 minute duur om al die leerders saam met die voertuie vanaf die skoolperseel te verdaag. Daar is weinig skole waar ouers/voogde hul kinders op die skoolterrein kan optel en aflaai – dit is ‘n voorreg wat bittermin skole beskore is.

Maak ook asseblief seker dat jou voertuig ‘n plakker op het om toegang tot die skoolperseel te verseker. Moet asseblief nie die sekuriteitswagte aanvat omdat hulle weier om jou toegang sonder ‘n plakker te gee nie. Ons het darem vir almal meer as twee weke kennis van die sekuriteitsreëling asook twee gratis plakkers gegee. Hierdie nuwe reëling is ingestel om almal se veiligheid by die skool aan te spreek.

Ek sluit dan die week af met die fokus op liefde en deel die onderstaande aanhaling van Moeder Teresa rakende die liefde. Geniet ‘n heerlike naweek saam met jul gesinne.

“Small things done with great love will change the world.’’ 

Vriendelike groete,

Naas Beets
SKOOLHOOF