Graag wil ek almal bedank wat die sosiale buitelugfunksie op Vrydagaand, 5 Maart bygewoon het. Dit was ‘n groot voorreg om julle te kon ontmoet en ‘n heerlike aand se samesyn te geniet. Ek is oortuig dat die kinders heel moontlik die piekniekfunksie die meeste geniet het. Wanneer laas kon soveel kinders net lekker saam speel, rondhardloop, mekaar rondjaag en net lekker laf wees soos slegs kinders dit kan doen. Dan besef ‘n mens net weereens die negatiewe impak van die grendelstatus op ons land se kinders.

Ek het ook die voorreg gehad om op Dinsdag, 9 Maart ons prefekte se balkies in my kantoor te oorhandig. Groot was my verbasing om te ervaar hoe die 12 prefekte met soveel selfvertroue hulle aan my voorstel, my verwelkom en hul visie vir die skool met my deel. Ek het ook saam met hulle en juffrou Izel Storm op Woensdagoggend, 10 Maart om 07:30 ‘n leierskapontbyt by Hoërskool Jan van Riebeeck bygewoon. Die gasspreker was Cabous Meiring en die prefekte van die verskillende laerskole het behoorlik aan haar lippe gehang. Prefekte het tydens die funksie ook die geleentheid gekry om hul opinies oor verskeie onderwerpe met almal te deel. Hulle het spontaan en met soveel selfvertroue en insig gekommunikeer. Hartlike dank aan mnr. Pieter Rademeyer, die nuwe hoof by die Hoërskool, vir die uitnodiging en vriendelike ontvangs. Terwyl leierskapvaardighede in die meeste gevalle natuurlik kom, glo ek dat elke kind oor leiereienskappe beskik en dat dit ons verantwoordelikheid is om geleenthede te skep vir alle leerders waartydens dit ontwikkel kan word. Ons kan voorwaar trots wees op elke leerder by ons skool, want ek sien potensiaal in elkeen. Hulle is immers môre se leiers.

Vrolik het my Donderoggend begin toe mnr. Ben Reyneke en me. Helecia Groenewald my saal toe genooi het om die seniorkoor aan te hoor terwyl hulle die eeufeeslied sing. Dit was ‘n baie spesiale oomblik wat ek graag met die hele skoolgemeenskap wou deel. Hulle het my asem behoorlik weggeslaan met die hoë uitvoeringstandaard inaggenome die minimale tyd wat die koor tot hul beskikking gehad het. Ek is baie trots op julle en ek kan nie wag om die juniorkoor te hoor nie.

Ons is geseënd met wonderlike personeel en ek wil ook van die geleentheid gebruik maak om ons opvoeders en ondersteuningspersoneel hartlik te bedank vir die skep van ‘n bevordelike leeromgewing vir ons leerders. Ons het die voorreg om met jul talentvolle kinders te werk wat ons daagliks uitdaag, akademies stimuleer en motiveer. Wees verseker dat ons julle kinders se beste belange te alle tye op die hart dra. Ons land het ‘n groot behoefte aan kwaliteit leer en onderrig. Graag haal ek Madiba se stelling oor opvoeding aan: “Education is the most powerful weapon which you can use to change the world’’.

Neem asseblief kennis van die volgende:

1. Verkiesing van die 2021 Beheerraad (BR):

Ons het tans nog net 4 nominasies ontvang. Ek wil julle weer aan die volgende herinner:
● Die ouerkomponent van die BR bestaan uit 5 posisies.
● Benoeming/nominasie sluit op Dinsdag, 16 Maart 2021 om 10:00.
● Benoeming/nominasie moet met ‘n kort CV en foto vergesel word.
● Voltooide benoemings/nominasies moet by Adri (ontvangs) ingehandig word.
● Benoemings/nominasievorms is beskikbaar by Adri (ontvangs).
● Termyn: 2021 – 2024 (3 jaar).
● Indien daar net 5 nominasie is, word ‘n verkiesing nie verlang nie.
● Indien daar meer as 5 nominasie ontvang word, sal die verkiesing virtueel d.m.v. VotingCrowd op Dinsdag, 30 Maart 2021 geskied. Verdere reëlings en tydsgleuf om aanlyn te stem sal spoedig volg.

2. Visie vs sig

Ek het die week ‘n baie interessante en insiggewende gesprek met een van ons ouers, Karen Koen, oor visie en sig gehad. Ek het so baie van visie geleer en graag wil ek julle uitnooi om die SKAKEL te volg vir haar besondere storie met haar kinders.