Kan jy dit glo? Desembermaand het homself kom tuismaak in ons kalenders en dit beteken ‘n welverdiende vakansie en Kersfees is net om die draai. Ek glo almal is druk besig om die finale take en/of projekte vir die jaar so spoedig moontlik af te handel voordat die Desembervakansie aanbreek.

Op Donderdagaand, 28 November, het ons musiekdepartement ‘n wonderlike kerskonsert vanaf 19:00 in die saal aangebied. Die indrukwekkende draaiboek is deur juf. Raché (Hoof van die Grondslagfase) geskryf en die storievertellers is deur twee graad 7-leerders, naamlik Jessica Schincariol (Ouma Berna) en Daniella Boshoff (Ouma Susan) vertolk. Hulle twee het hulle puik van hul taak gekwyt terwyl die senior- en junior koor onderskeidelik onder leiding van Leon Starker en mnr. Ben opgetree het. Die skoolkore en die ouerkoor het die aand met hul pragtige kerssang betower en onwillekeurig die gevoel van nostalgie en heimwee by ‘n mens laat opkom. Die ongelooflike aand is verder gekomplimenteer met die fantastiese optrede van die senior ensembles asook Mika van der Walt (graad 3) en Elisabet Marais (graad 6) met die puik voordra van hul kersgedigte. Die aand is op ‘n hoë noot met die samesang van “Stille Nag” afgesluit. Sjoe, dit was ‘n belewenis met die hele saal wat die pragtige kerslied met soveel deernis gesing het.

Alhoewel Kersfees die afgelope klompie jare ‘n kommersiële geldmakery geword het, is dit tog vir ons belangrik om dit saam met ons gesinne, familie en vriende te vier. Kersfees is vir my ‘n spesiale tyd van die jaar, want dit is ‘n simbool van liefde, vrede, omgee en veral word daar sommer weer hoop in ‘n mens se hart geskep dat mense in harmonie kan saamleef. Kom ons skep as ‘n skoolgemeenskap ‘n tradisie van liefdebetoning en omgee oor die Kerstyd.

Hierdie week het die jaarlikse prysuitdelings vir grade 1 tot 7 plaasgevind. Graag fokus ek eers op die grondslagfase asook grade 4 en 5-prysuitdelings aangesien die saktyd vir die weeklikse nuusbrief te vroeg in die week is om ook die prysuitdelings vir graad 6 en 7 in te sluit. Ons prysuitdelings geskied op ‘n informele manier, maar tog uiters stylvol. Prysuitdelings is op die beste van tye ‘n sensitiewe en kontroversiële onderwerp van bespreking en ek wil julle die waarborg gee dat ons as skoolbestuur en beheerraad baie begrip daarvoor het. Ek glo dat ons skool die erkenningsproses so verfyn het dat ons dit regkry om erkenning aan presteerders te gee sonder om die ander leerders te na te kom. Ons neem dit egter nog ‘n stappie verder en gee vir elke leerder persoonlike en unieke erkenning in die saal. Ons fokus beslis nie net op ons presteerders nie en wil graag ons leerders te alle tye beskerm, maar ons besef ook dat dit ons plig as ‘n laerskool is om ons leerders te bemagtig vir die hoërskool asook die grootmenswêreld wat voorlê. Daar was baie hoogtepunte tydens die prysuitdelings, maar opvallend was die Gr. 4 – 5-leerders se toejuiging tydens die bekendmaking van die presteerders. Dit is ‘n riem onder die hart om te sien dat ons leerders mekaar se prestasies vier, nog iets wat ons skool uniek maak. Hierdie trotse oomblikke koester ek vir ewig en bevestig net weer dat daar ‘n plek vir akademiese erkenning is op die voorwaarde dat ‘n skool waardegedrewe moet wees en ‘n spesiale etos van omgee en respek omhels. Baie geluk aan al ons leerders, julle maak my baie trots!

Op Woensdag, 05 Desember, het die velditems van die jaarlikse kleure-atletiekbyeenkoms te HS Jan van Riebeeck se sportvelde plaasgevind. Die weer het heerlik saamgespeel en ons leerders het in massas deelgeneem en veral ‘n dag buite in die opelug na die eksamens terdeë geniet. Daar is bittermin mooier plekke in die wêreld as die Boshoff-veld met die ikoniese Tafelberg, Seinheuwel en Leeukop as agtergrond. Baie dankie aan mnr. Leon en sy span vir die puik reëlings om die sukses van die dag te verseker. Die baanitems geskied dus op Maandag, 09 Desember, as gevolg van die gure weer wat vir Vrydag voorspel word. Weereens my verskoning vir enige ongerief in die verband, maar ons het nie juis ‘n ander keuse gehad as om dit op Maandag aan te bied nie.

Ek sluit dan die tweede laaste week van kwartaal 4 af met ‘n bekende aanhaling van John F Kennedy rakende dankbaarheid aangesien ons skool in soveel opsigte so geseënd is. Ek wens vir julle ‘n wonderlike naweek saam met jul gesin en/of vriende toe.

“As we express our gratitude, we must never
forget that the highest appreciation is not to
utter words, but to live by them.’

Vriendelike groete,
Naas Beets
SKOOLHOOF