Soos ons die vorige keer genoem het, is dit belangrik dat my kind PRESIES weet wát boelie is. Ons het genoem dat ons dit in eenvoudige taal só vir ons kind kan verduidelik:

Boelie is:
Iets wat jou laat sleg voel oor jouself en jou hartseer maak
Iets wat ‘n maatjie opsetlik en aspris doen
Iets wat vir jou moeilik is om op jou eie te stop
Iets wat oor en oor gebeur
Iets wat nie by die skool mág gebeur nie

Met bogenoemde in gedagte, wat moet ek doen as my kind ontsteld by die huis kom en sê hy/sy word geboelie? Ouers kan op een van twee maniere reageer. ‘n Mens kan dit eerstens afmaak as: “Ag, jy verbeel jou; dit kan nie so erg wees nie!”… Of ‘n mens kan sê: “Ek gaan onmiddellik sy/haar ouers bel…” Dalk help nie een van hierdie twee reaksies op daardie oomblik regtig jou kind nie.

So, wat moet ek doen? Die volgende mag help:

1. Wys jy gee om. Net om na jou kind te luister wat hulle ookal met jou wil deel, help al klaar. Dit bemagtig jou kind om die volle storie met jou te deel.

2. Kry al die feite. Wanneer jy min of meer kan aflei wat gebeur het en jou kind minder ontsteld is, kry die spesifieke feite.
– Waar gebeur dit?
– Wanneer?
– Hoe gereeld?
– Wat presies word gesê of gedoen?

Ek gebruik gewoonlik die volgende drie riglyne om presíés die omvang van die situasie te probeer verstaan. Dalk kan dit jou as ouer ook help:
-Frekwensie: Hoe gereeld gebeur dit? ‘n Paar keer per dag? Een maal in die week wat verby is? Of was dit net een terloopse opmerking wat jou kind ontstel het?
-Intensiteit: Hoe “erg” is dit? Word jou kind élke pouse opsetlik uitgesluit? Wanneer en waar gebeur dit? Wat word gesê wat jou kind so seermaak?
-Duur: Hoe lank gebeur dit al?

3. Dokumenteer die feite. Skryf al die details neer. Probeer om ‘n tydslyn te skep: wat het waar gebeur en wanneer? As jy voel jou kind kan dit self hanteer, gaan saam met hom/haar deur die tydslyn en wat gebeur het.

4. Deel die inligting met iemand wat jy vertrou. Vra vir terugvoer nadat jy dit gedeel het. Het jy by die feite gebly? Raak jy te emosioneel wanneer jy dit vertel?

5. Vergewis jou met jou skool se boeliebeleid. Dit sal jou die riglyne gee watter stappe jy moet volg om dit te rapporteer en wie jy om hulp kan vra. Deel hierdie inligting met jou kind sodat hulle weet die skool het ook reëls in plek en glo óók hierdie gedrag mag nie toegelaat word nie.

6. Monitor die skool se reaksie. Indien die boeliegedrag voortgaan, dokumenteer nuwe insidente en lig die skool onmiddellik hiervan in.

7. Maak jou kind bewus van boeliegedrag en praat daaroor. Dit gaan jou kind help om te leer watter gedrag is aanvaarbaar en watter gedrag is nie.

8. Bly ingelig en op hoogte van jou kind se gedrag en leefwêreld. Probeer monitor hoe jou kind optree in verskillende situasies wanneer jy by is. Weet jy wie jou kind se maats is? Ken jy die ouers? Wat doen jou kind in sy/haar vrye tyd? Hoe en wanneer gebruik jou kind sosiale media? Volgende keer gesels ons oor wat ons as ouers nog kan doen om ons kind emosioneel weerbaar te maak.

Marike Badenhorst
Opvoedkundige Sielkundige