Kan julle glo, vandag is dit reeds die 2de week nadat die skool sy deure geopen het. Tyd vlieg ongelooflik vinnig verby. Roetine word stadig maar seker weer deel van ons leerders se daaglikse lewe en dit is verblydend om die stralende gesiggies te sien wat soggens by die skool opdaag. Ek glo julle as ouers is ook bly om nie meer die rol van ‘huisonderwyser’ te vertolk nie.

Leerders het dit die afgelope week geniet om weer aan skoolsport saam met hul klasmaats deel te neem aangesien die buitemuurse program op Maandag, 22 Februarie 2021, afgeskop het. Kooroefeninge het ook begin wat bydra tot ons skool se gebalanseerde, holistiese benadering. Ek glo dat buitemuurse aktiwiteite fiksheid, konsentrasie, deursettingsvermoë, dissipline, spierontwikkeling en samehorigheid ontwikkel.

Vir ‘n kind om ‘n ontwikkelingsvoordeel uit aktiwiteite te trek, moet hy/sy dit in die eerste plek geniet. Help dus jou kind om die regte sport of aktiwiteit vir hom/haar te vind. Wees egter versigtig om nie te veel druk om te presteer op hulle te plaas nie. Die fokus moet op deelname en karakterontwikkeling wees. Die pandemie het bygedra dat kinders te veel tyd voor die skerms deurbring en daarom is dit belangrik dat ons kinders aanmoedig om te beweeg en aktief te wees. Die beste manier om kinders aan te moedig om meer aktief te wees, is deur self die voorbeeld te stel. Dit kan gedoen word deur eerder te gaan stap of draf as om self voor die TV te gaan lê. Ons moet altyd onthou wat die waardes en prioriteite is wat ons onbewustelik aan ons kinders kommunikeer. ‘n Leefstyl en ingesteldheid van aktief wees vanaf ‘n vroeë ouderdom kan ook help om leerprobleme aan te spreek en geestelike/emosionele gesondheid te verseker wat deur die pandemie onder geweldige druk geplaas is. Ons eie Madiba het die volgende rakende gesondheid gesê: “Exercise is the key not only to physical health but to peace of mind’’. Skep dus geleenthede waartydens julle as ‘n gesin saam iets aktief kan doen.

Neem asseblief kennis van die volgende:

1. Verkiesing van die 2021 Beheerraad:
Die amptelike datum vir die BR-verkiesing is Dinsdag, 30 Maart 2021. Maak asseblief ‘n aantekening in jul dagboeke. Ons het toestemming ontvang om die BR-verkiesing virtueel d.m.v. VotingCrowd af te handel. Inligting en dokumentasie rakende die nominasieproses sal so spoedig moontlik aan julle voorsien word.

2. Buitemuurse program:
Graag herinner ons julle om asseblief die Covid-protokol te handhaaf deur sover moontlik nie julle voertuie te verlaat wanneer julle die skoolperseel of sportgronde betree nie.

3. Terugvoering: Sosiale byeenkoms
Soos verwag was die reaksie van ouers oorweldigend. Die vrywillige sosiale funksie geskied dus op Vrydag, 5 Maart 2021, vanaf 18:00 tot 22:00 en soos volg:

Formaat en reëlings:

● Slegs piekniekmandjies, geen braaidromme word voorsien nie.
● Weens die getalle gaan die funksie by twee plekke moet plaasvind, nl. die Conradieveld en agter op die skoolveld met ingang vanaf Nuwe Kerkstraat.
● Oranje-kleurgroep woon die funksie te Conradieveld by.
● Blou-kleurgroep woon die funksie by die skoolveld (toegang Nuwe Kerkstraat) by.
● Graag versoek ons dat julle van Uber gebruik maak, aangesien parkering ‘n groot probleem is. Geen voertuig mag op enige van die twee velde parkeer nie.
● Hierdie funksie is nie die gewone klas- of graadbraai nie.
● Ons sal streng Covid-protokol moet handhaaf. Bring dus maskers en handsaniteringsmiddels saam. Sosiale afstand sal sover moontlik gehandhaaf moet word.
● Indien die funksie suksesvol verloop, sal ons dit weer vir kwartaal 2 beplan en dan sal die plekke vir die onderskeie kleurgroepe omruil.

4. Verlore goedere
Graag versoek ons jul om asseblief jul kinders se skoolklere en persoonlike items duidelik te merk aangesien ons ‘n magdom verlore goedere het met geen naam daarop nie. Baie dankie aan een van ons ouers, Colitha Janse van Rensburg, wat bereid is om vir ons die verlore goedere te bestuur. Sy kort egter hulp en indien jy sou belangstel om vir haar te help, kontak haar gerus op 082 868 0906.

5. Swemgala
Ons beplan ‘n swemgala wat op Vrydag, 12 Maart 2021, in graadverband sal plaasvind. Reëlings sal binnekort voorsien word. Ongelukkig sal ouers a.g.v. Covid-protokol nie die geleentheid kan bywoon nie

6. Toesig van leerders na skoolure
Soos julle bewus is, het ons buitemuurse program op 22 Februarie 2021 afgeskop. Opvallend is dat daar na skoolure meer leerders sonder toesig hulself op die skoolperseel bevind totdat ouers hulle kom afhaal. Sommige leerders word eers na 17:00 afgehaal. Ek verstaan dat ons ‘n stadskool is en dit moeilik vir ouers is om hul kinders heen en weer te vervoer, maar ek hoop dat julle sal verstaan dat ons nie personeel net vir die toesigdoeleindes kan aanwys nie, aangesien hulle by die buitemuurse program betrokke is. Daarom wil ek julle aanmoedig om van die nasorgfasilitei gebruik te maak en in die proses ons leerders se veiligheid te verseker. Baie dankie vir jul samewerking in die verband.

7. Verwelkoming van mnr. Pieter Rademeyer
Graag wens ons mnr. Rademeyer, wat op Maandag, 1 Maart, sy pos as die nuwe skoolhoof van Hoërskool Jan van Riebeeck inneem, die beste toe. Mag hy en sy gesin die nuwe hoofstuk in hul lewe terdeë geniet. Ons sien uit daarna om goeie bande te smee.