Met die aanvang van die 2de week van die nuwe kwartaal is alle skoolaktiwiteite in volle swang.

Op Maandag, 22 Januarie 2023, het die somerbuitemuurse program amptelik afgeskop en ons is baie opgewonde rakende die opkoms van leerders wat aan die verskillende somersportkodes deelneem. Baie dankie aan al die ouers/voogde vir julle aandeel om jul kinders te motiveer om vanjaar weer aktief te wees deur aan skoolsport deel te neem en dit saam met hul maats te geniet.

Baie geluk aan die volgende leerders (alfabeties) wat op Dinsdag, 23 Januarie, tydens die saalbyeenkoms hul leerderraadbalkies ontvang het:

  • Delmar Benecke
  • Leah de Kock
  • Izzy du Plessis
  • Ruben Eksteen
  • Jeanne Koen
  • Anna Louw
  • Michaan Naylor
  • Karu Rademeyer
  • Emma Snijders
  • Bailey Thomson
  • Frank van der Walt
  • Willem Vorster
  • Stella Zulch

Baie dankie aan hul trotse ouers wat die spesiale geleentheid bygewoon het om die tradisionele aansteek van hul balkie te behartig. My beste wense vergesel hulle vir die belangrike rol wat hulle as leerderleiers by ons skool gaan speel.

Graag wil ek al ons ouers/voogde wat die gewilde inligtings- en bekendstellingsaand op Dinsdag, 23 Januarie 2024, bygewoon het, hartlik bedank en gelukwens met die opkoms. Dit is werklik ‘n riem onder die hart om te sien dat soveel ouers/voogde werklik betrokke by sy/haar kind se skool wil wees en dit koester om deel van ‘n spesiale skoolgemeenskap wat omgee, te wees. Laat my toe om ons OOV-voorsitter, Coreen Scholtz, en haar span hartlik te bedank vir die puik reëlings en harde werk wat die sukses van die aand verseker het. Die samesyn was kosbaar en die positiewe ‘gees’ onder die ouers/voogde was amper tasbaar. Die doel van die aand was natuurlik om inligting oor jou kind/ers se nuwe graad ouers/voogde oor te dra, asook om die personeel bekend te stel. Ek dink almal stem saam dat die funksie absoluut die regte geleentheid was om die jaar op ‘n hoogtepunt af te skop. Ek glo ouers/voogde het ook die geleentheid gebruik om mekaar beter te leer ken, veral die graad 1-ouers asook al die nuwe ouers en daardeur nuwe vriendskappe te bewerkstellig.

Die pret en samesyn vir die week het egter nie by Dinsdagaand gestop nie, dus glo ek dat ek weer almal môre tydens die Ouer- en Kindsportdag by die Conradieveld sal sien. Laasjaar was dit vir die eerste keer aangebied en dit was ‘n reuse sukses. Ouers/voogde en kinders word op die dag in spanne van 6 lede gedeel wat bestaan uit 3 volwassenes en 3 kinders. Julle kan aan sokker, mini-krieket, ‘tag-rugby’ en veldnetbal deelneem. Neem gerus deel, geniet die dag saam met jou kind/ers en indien jy bekommerd is oor ‘n ‘ou’ besering, ons gaan spesiaal van professionele noodhulp gebruik maak. Daar sal ook heerlike koffie, eet- en drinkgoed te koop wees. By voorbaat dankie dat julle die dag gaan ondersteun. Groot dankie aan die personeel wat as beamptes gaan optree asook registrasies en die snoepieverkope gaan hanteer.

Baie geluk aan Susan (nasorg) wat vandag verjaar, ons wens vir haar ‘n geseënde nuwe lewensjaar toe!

Graag sluit ek af met die volgende aanhaling oor die lewe en groei-ingesteldheid deur George Bernard Shaw en wens vir julle ‘n wonderlike naweek toe:

“Life is not about finding yourself.
Life is about creating yourself”

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF