Die Bokke het hul wêreldbeker-rugbyveldtog goed afgeskop deur die Skotte 18 – 3 te klop tydens hul eerste wedstryd op Sondag, 10 September, te Stade De Marseille. Ek is seker daarvan dat dit almal se hoogtepunt van die naweek was. Dit is dus belangrik dat jy vandag weer “#Bok-Friday” ten volle ondersteun deur jou springboktrui, of ‘n springbok t-hemp of net iets groen en goud met trots aantrek om die Bokke te ondersteun in hul soeke na glorie. Mag die Bokke die naweek teen Roemenië vir al die ander spanne wys ‘waar Dawid die wortels gegrawe het’.

Op Vrydag, 04 September, het ek al ons gr. 1’s na HS Jan van Riebeeck vergesel om vir elke matrikulant ‘n spesiale kaartjie vir goeie eksamen-wense in die saal te oorhandig. Dit het ons gedoen net voordat hulle met Wiskunde en Wiskundige geletterdheid begin skryf het. Ons gr. 1’s het die pragtigste boodskappe geskryf wat ‘n kosbare glimlag op elke matrikulant se gesig veroorsaak het en ook sommer in die proses die eksamenstres verlig het. Een van die boodskappe het soos volg gelees: “Ek weet wiskunde is baie, baie moeilik, maar ek weet jy kan!”. Hierdie tipe van uitreik na die HS Jan van Riebeeck gaan ‘n jaarlikse instelling word. Volgens die gr. 1’s was dit die beste uitstappie van hul lewe, want hulle kon die ‘groot’ skool besoek. Ons wens HS Jan van Riebeeck se matrikulante alles van die beste vir jul rekord-eksamen toe asook die nasionale seniorsertifikaat-eksamen aan die einde van die jaar.

Op Saterdag, 09 September, het 19 van ons leerders aan die jaarlikse WOW-spelkompetisie se provinsiale rondte te Stellenbosch deelgeneem en soos oudergewoonte puik gevaar, Baie geluk aan die volgende vyf leerders wat vir die Nasionale kompetisie gekwalifiseer het:

Graad 1: Wrensch Silvis (2de)
Graad 4: Ghia Perreira (3de)
Graad 5: Katryn Silvis (1ste) en Amelie van der Walt (2de)
Graad 6: Isabella Marais (4de)

Ons wens vir hulle alle voorspoed en sterkte vir die nasionale rondte toe. Julle maak ons baie trots en ons hou styf duimvas. Baie dankie Ilse-Marié, Raché en Erick wat ons leerders vergesel het.

Baie geluk en sterkte aan die volgende drie leerders wat in die kinderkoor vir die produksie Tosca by die Kunstekaap Opera Huis vanaf 12 –17 September optree:

Karu Rademeyer
Abigail Fourie
Jacob Venter

Ons is baie trots op julle drie en ons weet dit het baie harde voorbereiding geverg.

Hierdie week het die kwartaallikse boekverkoping vanaf 11 – 12 September in ons biblioteek plaasgevind. Baie dankie aan al die leerders wat dit ondersteun het en geniet julle nuwe leesstof terdeë. Baie dankie Marlize vir al die puik reëlings om die dag moontlik te maak.

Alhoewel die weer net eenvoudig nie wil saam speel nie, want die lente het nog nie sy opwagting in die pragtige Moederstad gemaak nie, het ons die afgelope week alreeds met somersportoefeninge begin. Ons moedig al ons Jannies aan om aan ‘n somersport deel te neem en hope pret te hê.

Graag sluit ek af met die onderstaande aanhaling van Kirsten Armstrong (Olimpiese goue medaljewenner vir fietsry) met die fokus op dankbaarheid en positiewe denke. Ek wens vir julle ‘n wonderlike naweek toe.

“When we focus on our gratitude,
the tide of disappointment goes out and
the tide of love rushes in!”

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF