Skermtyd en die effek daarvan op ons kinders bly ‘n onderwerp wat oor en oor ter sprake kom en waaroor daar vele opinies is. Soos alles wat ouerskap betref, moet ons as ouers saam met ons kinders oor skermreëls besluit: Kan ons saam-saam ‘n eie ritme en balans vind wat vir ons as gesin werk en waarmee almal binne die gesin gemaklik is?
WAT SÊ DIE KENNERS?
Die jongste skrywe van die Psigiatriese Vereeniging van Suid-Afrika (April 2025) stel die volgende riglyne voor:
Voor 2 jaar: Fokus op fisieke spel met jou baba of peuter. Beweging en “nuuskierige” verkenning van sy/haar omgewing is nou krities. Verkieslik geen skermtyd nie.
Kinders 2 tot 5 jaar: Skermtyd moenie meer as een uur per dag wees nie en het die betrokkenheid van die ouer nodig om die kind vanuit ‘n opvoedkundige hoek en as “mede-aanbieder” te stimuleer.
Kinders 5 jaar en ouer: Plaas deurlopend beperkings op skermtyd – nie meer as twee ure per dag nie – veral gedurende ‘n skoolweek wat akademiese en ander verpligtinge van ons kinders verwag. Die goue reël hier is dat dit nie inbreuk maak op genoegsame slaap, fisieke aktiwiteite of ander sosiale interaksies wat krities is vir die gesonde ontwikkeling van jou kind of tiener nie. Besluit as gesin saam op elektroniese-vrye tydsgleuwe en hou daarby.
Draagbare tegnologie, soos slimfone en selfone, is veral ‘n uitdaging vir ‘n ouer om te bestuur. Die rede: Jou kind/tiener kan dit by hulle hou en sonder jou toesig gebruik. Dalk mag die volgende riglyne van waarde wees:
- Opvoeding rakende die effektiewe en sinvolle gebruik van enige tegnologiese toestel bly die verantwoordelikheid van die volwassene.
- Daar moet duidelike riglyne en vir die gebruik van tegnologiese toestelle beide by die skool as tuis wees.
- Besluit as gesin saam op elektronies-vrye tydsgleuwe en hou daarby.
- Elke ouer se eie skermtyd-etiket bly die beste leerskool vir ons kinders. Gebruik tegnologie sélf op so ‘n manier dat dit bydra tot jou kind se gebalanseerde en gesonde gebruik van skermtyd.
Maar is skermtyd nét sleg? Net ‘n taboe? Natuurlik nie! Ons almal ken tog daardie gevoel van verligting as ons kind vasgenael na ‘n program of episode van ‘n reeks kyk en ons kan net ‘n vinnige breek of ruskans kry. Ouers verdien dit en het dit nodig: net ‘n uur of wat om te herlaai. Dalk bly die goue reël maar net: wat werk vir mý gesin, nóú en binne hierdie spesifieke situasie?