Ons is so bevoorreg om twee JvR-babas hierdie jaar nog by ons laerskool te verwelkom – dié van Maricqe Coetzer en Michelle Compion (albei gr. 3-onderwysers). Ons het gedurende kwartaal 4 dus twee aflosonderwysers in hierdie twee onderwysers se klasse. Ons is dankbaar dat Anéne Loots ingestem het om in Maricqe en Marlize ter Borg in Michelle se klasse af te los. Ons het heelpartye onderhoude gevoer om geskikte onderwysers vir hierdie spesifieke klasse te vind.

Dan is dit ook lekker om te noem dat Laerskool Jan van Riebeeck (ingesluit Huppelland) hul onderwysers die geleentheid bied om by en van mekaar te leer. ‘n Derde juffrou by LS JvR (dié keer by Huppelland – Magdel Fourie, Hasieklas) verwag haar baba in Oktober en ons het besluit dat Madri Greyling (LS JvR se nasorghoof) die geskikte kandidaat sal wees om in Magdel se plek af te los. Madri is ‘n gekwalifiseerde onderwyseres met hope energie wat die uitdaging met ope arms omhels. Ons is baie dankbaar vir haar entoesiasme. Dit beteken dat Dolinda Mfulo tydelik as nasorghoof sal instaan totdat Magdel in 2024 weer by Huppelland aansluit.

Ons wens die mammas wat op kraamverlof gaan baie sterkte en vreugde toe. Ons vergeet ook glad nie van die onderwysers wat tydelik in hul plekke aflos nie – baie sterkte. Ons sien uit om elkeen beter te leer ken.