Die somersokkie is uiteindelik op ons! Ons sien uit na ‘n aand van heerlik dans en kuier saam met maats! Hier volg ‘n paar algemene reëlings om seker te maak dat die aand SEEPGLAD verloop.

Strandreëls:

1. Ouers moet asb. die harde kopie uitnodigingskaartjie in hul motor hou as kinders afgelaai en opgelaai word. Dit help ons terreinpersoneel om kontrole te hou van wie in en uit die skool beweeg.

2. Ouers mag slegs gebruik maak van die hek in Nuwe Kerkstraat. Die ander hekke sal gesluit wees.

3. Hekke sal 19:00 toemaak en weer 21:10 oopgemaak word.

4. Na die aflaai van leerders, sal daar ‘n geleentheid vir ouers wees om foto’s te neem saam met leerders by die tennisbane. Geen ouer sal toegelaat word om voor of gedurende die sokkie in die saal te wees nie.

5. By aankoms ontvang leerders ‘n pynappelkoppie met ‘n gekleurde armbandjie. Hierdie armbandjie se kleur bepaal die tyd wat leerders hul pizza kan gaan haal en hul foto in die “photo booth” kan gaan neem. Leerders moet asb. nie die armbandjie verloor nie. Die verskillende tye sal in die saal aangekondig word. Die koppie moet ook mooi na gekyk word, sodat leerders heel aand water en ystee kan geniet.

‘n Spesiale dankie aan Stephanie le Roux, Emmy Scholtz en Riana Viljoen vir al hulle moeite en harde werk om hierdie jaar se somersokkie ‘n wonderlike ervaring vir die Jannies te maak!