Vir die eerste keer in 6 weke het ons weer ‘n vol Maandag tot Vrydag-week agter die rug met al die langnaweke wat mekaar as lekker meevallertjies opgevolg het. Die week voel egter skielik besonders lank en ‘n mens kan dit amper aan jou lyf voel. Ek glo ons skoolgemeenskap het ook sommer lekker hul vere reggeskud om weer gewoond te raak aan al die verskeie sport- en kultuuraktiwiteite wat by die skool plaasvind. Ek wil ook van die geleentheid gebruik maak om ons ouers/voogde hartlik te bedank wat die afgelope tyd wedstryde, toernooie, redenaars en musiekkonserte getrou bygewoon het om hul kinders en spanne te ondersteun. Dit is lekker om te sien hoe julle die geleenthede saam met jul kinders terdeë geniet. Die betrokkenheid van ouers, die omgee en kameradie onder leerders en ouers staan uit soos ‘n paal bo water. Dit is vir my ‘n groot voorreg om aan stuur te staan van ‘n skool wat hul waardes in alle opsigte met trots uitleef.

Baie dankie aan al ons ouers wat Dinsdagaand, 10 Mei 2022, die insiggewende inligtingsessie van Carla de Beer rakende hoe om veilig op sosiale media te verkeer wanneer dit by selfies, seksklets, kuberboelie en privaatheid kom, bygewoon het. Die vraag is, hoe gevaarlik is die gebruik van sosiale media, nie net vir ons as volwassenes nie, maar ook vir ons kinders? Daar is nuwe wetgewing wat selfs vir ons jong kinders gevolge inhou. Hierdie debat bestaan reeds baie jare. Vandat die televisie ons sitkamer betree het, wou ouers weet vir hoe lank op ‘n slag hul kinders toegelaat mag word om televisie te kyk, waarna hulle mag kyk en of die skerm as my kinderoppasser mag optree sodat ek net ‘n bietjie kan ontspan. Dit is egter vandag kinderspeletjies in vergelyking met die magdom toegang tot toestelle wat ons kinders kan gebruik. Ons het vandag toegang ook tot verskeie toeps, aanlynspeletjies en sosiale platforms. Die Covid-19 inperking het ons kinders ook gedwing om meer van die internet en sosiale media gebruik te maak as ooit tevore. Ons besef ook dat die gebruik van selfone, tablette, ander toestelle en natuurlik die gepaardgaande tegnologie deel van ons kinders se verwysingsraamwerk geword het. Dit hoef nie noodwendig altyd negatief te wees nie, maar daar is ernstige gevare aan verbonde soos kuberboeliery, webtuistes wat nie geskik vir kinders is nie en natuurlik heeltemal te veel skermtyd wat weer tot ander probleme kan lei. Die tweede vraag is, wat moet ons as ouers/voogde in die verband doen? Ek wil by Carla aansluit en aanbeveel dat dit fundamenteel belangrik is dat ons as ouers/voogde meer betrokke by ons kinders se gebruik van sosiale media raak en met hulle daaroor gesels. Moet beslis nie net op die gevare fokus en die heeltyd ‘n preek afsteek nie, maar fokus eerder dat die regte gebruik van sosiale media lekker en voordelig kan wees. Boesem hul vertroue in en tree op as mentor deur miskien saam met hulle ook nuuskierig te wees oor verskillende sosiale media platforms. Praat met hulle oor die gevare en die korrekte gebruik daarvan, eerder as om die heeltyd te preek. Maak verder asb. ook seker dat alle veiligheidsprotokol op die verskeie platforms geïmplementeer is.

Weer eens baie geluk aan al ons wintersportspanne met die puik uitslae van die afgelope week. Ons kan regtig trots wees dat ons met heelwat groter skole kompeterend op die sportveld kan wees. Baie dankie aan al ons opvoeders en buite-afrigters wat met soveel passie afrig en seker maak dat ons Jannies in die proses ook sport geniet. Groot dankie aan die sportkantoor onder leiding van Leon Hanekom wat seker maak ons Jannies kry genoeg wedstryd- en toernooiblootstelling. Die weeklikse vordering van ons spelers is duidelik sigbaar.

Ek sluit dan af met die volgende bekende aanhaling van Dalai Lama rakende ons kernwaarde van die kwartaal, naamlik verantwoordelikheid:

“We need to cultivate a universal responsibility for one another and the planet we share”.

Geniet ‘n wonderlike naweek en sterkte vir ons skaakspan vanmiddag teen Luzoko tuis asook ons o/12-netbalspan wat môre aan die Laerskool Panorama se o/12-toernooi deelneem.

Naas Beets
SKOOLHOOF