Ek glo met twee weke van die kwartaal agter die rug het elke huishouding in ons skoolgemeenskap weer sy spreekwoordelike natuurlike ritme en skoolroetine gevind.

Verskeie sportwedstryde en -oefeninge het ook die afgelope week plaasgevind ter voorbereiding vir die sportnaweek te Laerskool Robertson wat vandag met hokkie afskop en môre met die netbal- en rugbywedstryde eindig. Ek hoop om julle ook by die heerlike sportnaweek te sien. By voorbaat dankie vir hierdie ondersteuning. Bo en behalwe die verskeie sportwedstryde waaraan ons Jannies oor die naweek gaan deelneem, is daar natuurlik die kosbare plattelandse gasvryheid, lekkernye en samesyn om na uit te sien. Diegene wat hierdie geleentheid gebruik as ‘n wegbreek om saam met vriende en/gesinslede te spandeer, moet die pragtige Robertson-omgewing baie geniet en veilig reis.

Dit is dan my voorreg om vir julle kortliks terugvoering te gee rakende ons welwillendheid projek vir kwartaal 2 wat deur juf. Nicola baie suksesvol gedryf is. Deel van Mandela Dag wat op 18 Julie 2022 internasionaal gevier word, is besluit dat ons ons 67 minute gaan verdiskonteer in ‘n voedingskema by Laerskole Ellerton en Prestwich. Baie dankie aan diegene wat ons met die projek bygestaan het om na geïdentifiseerde, behoeftige gemeenskappe uit te reik en te ondersteun.

Baie dankie aan al ons ouers/voogde wat binne graadverband vir ons die onderstaande voedselprodukte ruim geskenk het:

  • Graad 1: Pilchards in tamatiesous (blikkies)
  • Graad 2: Rys
  • Graad 3: Samp (droog in sakkies)
  • Graad 4: Bruin lensies (droog in sakkies)
  • Graad 5: Sugar beans (droog in sakkies)
  • Graad 6: Soja “Mince”
  • Graad 7: Olie

Op Dinsdag, 26 Julie, het ons Hoofseun (Owen Wiese) en Hoofdogter (Liza Hitge) saam met Stepanie le Roux (Alive Foundation) die bogenoemde skole besoek en die produkte aan die onderskeie skole oorhandig sodat daar vir hul behoeftige leerders voedsame etes voorberei kan word. Ons glo en vertrou dat ons bydrae ‘n reuse verskil in hul lewens sal maak.

Die spesiale “Change Mindset” opleidingsessie wat ons in samewerking met die WKOD op Saterdag, 23 Julie, vanaf 08:00 -15:00 vir al ons terrein- en administratiewe personeel (die laerskool en Huppelland) in ons skoolsaal aangebied het, was uiters suksesvol. Vir die meeste van ons terreinpersoneel was dit hul heel eerste werkswinkel wat hulle ooit bygewoon het. Laat my asseblief toe om vir Alexis Andraos (Sielkundige by WKOD) hartlik te bedank vir die professionele en effektiewe aanbieding asook Jodene vir die wonderlike inisiatief en reëlings.

Verder beoog ons om ‘n elektroniese tellingbord wat vir rugby-, hokkie- en krieketwedstryde aangewend kan word, by die Conradievelde op te rig. Ons benodig egter fondse en ek neem die vrymoedigheid om te versoek dat indien jy sou belangstel om ‘n finansiële bydrae te maak, my gerus by skoolhoof@jvrprim.co.za te kontak.

Ek sluit dan af met die onderstaande stelling wat fokus op ons waarde vir die kwartaal, naamlik Eerlikheid en wens julle ‘n wonderlike sportnaweek toe. Hoop om julle almal in Robertson te sien!

“Honesty is the fastest way to prevent a mistake to end up in a disaster”

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF