Ons is so trots op ons leerders (en ouers) wat so getrou aan hul akademie werk. In ons strewe na uitnemendheid gee ons soveel moontlik aandag aan dit wat ons leerders nodig het om hul akademiese reis so maklik moontlik aan te durf. Ons is opgewonde oor ons sistemiese uitslae van 2022 wat baie goed teenoor ons distrik en provinsie reflekteer, maar weet dat ons nog meer moet doen om ons leerders te ondersteun. Ons akademiese fokus vir die res van die jaar sal berus op: 1) Lees om te leer; EN 2) Interaktiewe leer.

  1. Lees om te leer:

Om met begrip te lees en om kennis toe te pas, raak al hoe moeiliker. Hierdie vaardigheid word in alle leerareas benodig. Hoe beter ‘n leerder se leesvermoë is, hoe beter vind leer plaas. Die aanvraag na ekstra individuele hulp en leesondersteuning word al hoe meer. Daarom dat ons skool besluit het om ‘n leesintervensieprogram saam te stel wat deur die hele skool gevolg sal word.

  1. Interaktiewe leer:

Interaktiewe leer vind plaas om verskeie metodes van leer aan te moedig. Digitale leer d.m.v. tegnologiese toestelle is ‘n aspek om interaktiewe leer te bevorder. Ons leerders leer op allerhande maniere en ons wil dit bevorder. Ons poog om wêreldburgers op te voed wat kreatief moet kan dink en probleme oplos, lekker gemaklik moet kan kommunikeer en op hul voete moet dink en redeneer.  Leer en die ontdek van inhoud in verskeie leerareas staan nie alleen in silo’s nie, maar word geïntegreer oor vakgebiede om die werk baie meer relevant en lewendig te maak. Leerderbetrokkenheid is die antwoord tot leer – hoe om dit aan te moedig en te behou.  Leerders moet nuuskierig gemaak word sodat leergierigheid gevestig word. Die fokus is hier op die opvoeders en die manier hoe lesse aangebied word.