Hierdie week het ons op Dinsdag, 15 November 2022, die laaste saalbyeenkoms voor die eksamen begin, gehou. Graag wil ek die Gr. 7’s (Mia Boshoff, Kate Mouton en Liam Botha) wat ‘n pragtige boodskap met praktiese wenke aan die leerders gelewer oor hoe om die komende eksamen aan te pak en nie onnodig angstig te raak nie, hartlik bedank vir die voortreflike aanbieding. Ek besef net weer elke dag die voorreg wat ons het om met merkwaardige leerders te werk.

Vandag begin die Gr. 7’s met hul finale laerskooleksamen en hulle skryf Wiskunde. Die Gr. 4 – 6’e begin op Dinsdag, 22 November 2022, met hul eksamen. Die Grondslagfase het reeds met finale assesserings op Maandag, 14 November 2022, begin. Graag wil ek al ons leerders sterkte met die eksamen toewens. Ons weet julle gaan jul beste gee.

Ek wil julle as ouers/voogde by voorbaat bedank dat julle ons opvoeders kollektief sal help om te verseker dat die komende assesseringsreeks/eksamen nie ‘n angswekkende en stresvolle ervaring vir jul kinders sal wees nie.

Hiermee ‘n paar praktiese wenke om jou kind so goed moontlik vir die komende eksamen voor te berei:

  • Stel ‘n studierooster saam met jou kind op en verdeel werk in kleiner porsies wat nie oorweldigend is nie. Beperk ook die studietyd tot 30 minute per sessie, want laerskoolkinders sukkel om langer as 20 – 30 minute op ‘n slag te konsentreer. Gereelde blaaskanse is belangrik en daar moet ook tyd vir ontspanning geskeduleer word anders mag jou kind die eksamenstudie baie negatief ervaar. Doen gerus saam met jou kind ‘n bietjie oefening deur byvoorbeeld ‘n entjie te gaan stap.
  • Skep ‘n ruimte waar studie in ‘n stil omgewing kan plaasvind sonder dat hul aandag afgelei kan word. ‘n Leerder moet verkieslik by ‘n tafel of ‘n lessenaar sit waar daar genoeg lig is en vars lug sirkuleer. Dalk is dit nie ‘n goeie idee vir ‘n kind om bo-op sy/haar bed te leer nie. Organiseer hul studie-area sodat hulle gemaklik kan fokus en effektief kan leer.
  • Maak seker jou kind eet gesond tydens die eksamen en kry genoeg slaap om optimaal tydens die tydperk te funksioneer.
  • Praat gereeld met jou kind oor hoe hulle elke dag van die eksamen ervaar. Maak dit duidelik dat jy hul vermoë vertrou en gee positiewe terugvoering. Moedig hulle aan om net hul beste te doen.
  • Moet asseblief nie jou kind/ers vir die eksamens bang maak deur hulle byvoorbeeld te dreig dat indien jy nie nou harder gaan leer nie, dan gaan jy die jaar herhaal nie. Dit werk nie, inteendeel dit maak kinders nog meer angstig.

Gedurende week 6 het ons ook die jaarlikse ouerinligtingsaande onderskeidelik op 15 en 16 November 2022 vir die huidige Gr. 3-ouers wie se kinders volgende jaar na Gr. 4 vorder asook die huidige Gr. 6-ouers wie se kinders na Gr. 7 vorder, gehou. Hierdie tipe gesprekke is baie informatief en help om ouers se angstigheid rakende ‘n nuwe fase met meer vakke te verminder. Baie dankie aan al die ouers wat dit bygewoon het asook aan Marinda en die Gr. 4- en Gr.7-opvoeders vir jul puik aanbieding. Laat my ook toe om die huidige Gr. 4- en 7-leerders hartlik te bedank vir die spesiale video’s wat hul onderskeidelik voorberei het om hul wonderlike ervaring van die onderskeie grade vanjaar met die voornemende ouers te deel. Dit is spesiaal en beklemtoon weereens die unieke etos by ons skool.

Baie dankie aan Marlize wat vir ons die afgelope week weer ‘n boekverkoping vanuit die biblioteek gereël het. Die grondslagfase leerders was ook baie bevoorreg om ‘n skrywersbesoek deur Riaan Manser te ontvang. Boekverkopings en voorlees van stories maak leerders baie opgewonde en in die proses promoveer ons die leeskultuur by ons skool. Motiveer gerus jul kinders om boeke by die biblioteek te kom uitneem en dit te lees. Ons weet almal hoe belangrik en verrykend lees is.

Die somerbuitemuurse program het op Donderdag, 17 November 2022, as gevolg van die eksamens tot ‘n einde gekom. Ons beplan egter ter voorbereiding van die kleure-atletiekbyeenkoms (07 en 09 Desember) om atlete gedurende skooltyd, net na die aflê van die daaglikse eksamenvraestelle, vir die byeenkoms voor te berei. Hierdie deelname is vir die atlete vrywillig.

Graag versoek ek weer dat die “drop and go / fetch and leave”-beginsel toegepas sal word wanneer ouers hul kinders kom aflaai/haal. Moet asseblief nie so stop dat jou voertuig die verkeer belemmer nie. Indien ouers/voogde wel uit hul voertuie wil klim, moet hulle asseblief hul voertuie in die parkeerareas parkeer sodat die vloei van verkeer nog steeds so effektief as moontlik kan plaasvind. Baie dankie vir die samewerking in die verband.

Ek sluit af met die volgende anonieme aanhaling wat op ons waarde vir die kwartaal fokus, naamlik Respek en wens julle ‘n wonderlike naweek toe.

“To be one, to be united is a great thing,
But to respect the right to be different is maybe even greater’’

Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF