Die spreekwoordelike mooiste, mooiste maand van 2022 is stadig maar seker besig om plek vir die vrolike Novembermaand te maak soos tyd ongesiens en onverpoos verby snel. Kwartaal 4 mag dalk kort wees, maar sluit heelwat opwindende aktiwiteite asook finale eksamens en assesseringsweke in. Ons toegewyde opvoeders en die RO-opvoeders is tans hard aan die werk om ons leerders deeglik voor te berei en te bemagtig om die uitdagings van die finale assesserings met gemak te hanteer.

Ons skool het sommer vinnig na die Oktober-vakansie sy operasionele ritme gevind en ons leerders het aan verskeie sportwedstryde, ‘n swemgala en kultuuraktiwiteite deelgeneem. Baie geluk aan ons senior koor met hul puik optrede laasweek tydens die Weskus Koorfees te Laerskool Sunningdale. Onder leiding van die Helecia en Ben het hulle as ware ambassadeurs vir ons spogskool opgetree en ons senior- en junior koor eenvoudig van krag-tot-krag geneem. Maak asseblief ‘n nota in jou dagboek om op Sondag, 27 November 2022, die Kerssangdiens by die NG Kerk, Tamboerskloof vanaf 19:00 by te woon. Meer inligting sal binnekort volg.

Ek wil nie graag ‘n leerder spesifiek uitsonder nie, maar ek sal my plig versuim indien ek nie vir Karu Rademeyer hartlik gelukwens met haar merkwaardige prestasie nie. Karu het vanaf 21 – 22 Oktober 2022 aan die nasionale Radikale Redenaarskompetisie in Boksburg deelgeneem. Sy is as nasionale wenner in die Engelse afdeling aangewys en het ‘n tweede plek in die Afrikaanse afdeling behaal. Welgedaan, Karu. Jy maak ons baie trots.

Ons o.11-tennisspelers het ook oor die naweek van 21 – 22 Oktober 2022 tydens die Ceres-Tennistoernooi puik presteer. Hierdie gewilde tennistoernooi word deur die meeste top tennisskole ondersteun en ons seunspan het op die einde van die dag ‘n ongelooflike tweede plek behaal. Merkwaardig om te dink dat ons en LS De Hoop se seunspanne presies op dieselfde punte na 2 dae van tennis vir eerste plek geëindig het, maar ongelukkig by die uittel vir die meeste aantal potte gewen, is hulle as die wenners aangewys. Baie geluk aan Anja wat die spanne (seuns en dogters) vergesel het en natuurlik die volgende seuns: Adriaan Wessels, Gustav van der Linde, Nils le Roux en Rafa Lamprecht. Baie geluk aan Rafa wat nog maar in Gr. 3 is m.a.w. nog o.9 is, wat al sy wedstryde oor die naweek gewen het. Welgedaan, Seuns. Ons is baie trots op julle!

Op Vrydagaand vanaf 18:00 – 20:00 het die inwyding van die opgradering van die kroegfasiliteit by die klubhuis te Conradieveld saam met spesiale gaste plaasgevind. Laat my toe om spesiaal vir Oloff Sieberhagen (ouer by Huppelland en by die skool) hartlik te bedank wat die projek befonds en self bestuur het. Die estetiese en die funksionele verbetering aan die klubhuis maak ‘n ongelooflike verskil en ek glo die skoolgemeenskap gaan nog daar sommer heerlik in die toekoms saam kuier.

Die opgradering van die parkeerarea en aanbring van duidelike rigtingwysers op die teer aan die agterkant van die skool is nog nie afgehandel nie. Dus vir die interim periode rig ek ‘n vriendelik versoek dat tydens die af- en oplaai van jul kinders om asseblief die “drop and go / fetch and leave”-beginsel toe te pas. Moet asseblief nie so stop dat jou voertuig die verkeer belemmer nie. Indien ouers/voogde wel uit hul voertuie wil klim, moet hulle asseblief hul voertuie in die parkeerareas parkeer sodat die vloei van verkeer nog steeds so effektief as moontlik kan plaasvind. Baie dankie vir almal se samewerking in die verband.

Ek sluit af met die volgende aanhaling deur Albert Einstein wat op ons waarde vir die kwartaal fokus, naamlik Respek en wens julle ‘n wonderlike naweek toe.

“Everyone should be respected as individuals,
But no one idolized’’
.
Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF