Die assesseringsreeks vir Grondslagfase en kontroletoetse (eksamen vir gr. 4 – 7) kom dan vandag tot ‘n einde en ek is nie seker wie te meeste verlig is nie, die leerders of ons ouers? Moeder Natuur het ons week verder opgekikker met heerlike reën wat salig oor die stad en omliggende areas uitsak.

Hierdie is ‘n baie kort week met ‘n heerlike meevallertjie van ‘n langnaweek voor die wintervakansie volgende week op Vrydag, 24 Junie, aanbreek. Donderdag, 16 Junie, is ‘n belangrike publieke vakansiedag in die Suid-Afrikaanse konteks. Laat ons dus nie vergeet van die sowat 600 jongmense wat op 16 Junie 1976 hul lewens in Soweto opgeoffer het nie. Sowat 200 000 leerders het op dié dag teen die inwerkingstelling van Afrikaans en Engels as die enigste onderrigtaal betoog. Hierdie dag is meer as net ‘n historiese konteks; die dag het ook stem gegee aan ons jongmense oor kontemporêre probleme in ons land, want hulle is die toekomstige leiers. Ons jongmense en kinders word vandag in abnormale omstandighede groot met geweldige groot uitdagings. Ons geslag het dalk nie nou die oplossings nie, maar die jongmense van vandag met hul veerkratigheid en kreatiwiteit sal beslis die bul by die horings pak. Ons moet egter net tyd maak om na hulle te luister en nie hul oplossings eenvoudig net af te skiet nie.

Sondag, 19 Junie, is dit dan ook Vadersdag. Vadersdag word jaarliks op die 3de Sondag van Junie gevier om vaderskap en vaderlike bande te vereer, asook die invloed van pa’s in die samelewing. Mag al die vaderfigure in ons skoolgemeenskap op Vadersdag tot in die afgrond bederf en waardeer word. Baie dankie aan al ons pa’s wat elke dag as geestelike, emosionele en sosiale steunpilare vir ons kinders optree. Baie dankie dat julle nie net voorsieners is nie, maar dat julle aktief by jul kinders se lewens betrokke is deur vir hul liefde en waardering te wys.

Ek sluit dan af met nog steeds dankbaarheid in my hart, veral na afloop van die kwartaal waar ons skool in baie opsigte baie geseënd is: “Dankbaarheid is die kortse weg na geluk”.

Geniet ‘n wonderlike langnaweek saam familie en vriende.

Naas Beets
SKOOLHOOF