Die assesseringsreeks vir Grondslagfase en kontroletoetse (eksamen vir gr. 4 – 7) is in volle swang en voor die leerders dit besef is die eksamenstres verby en lê ‘n welverdiende vakansie voor om lekker uit te rus. Dit is verblywend om te sien hoe opgewonde ons leerders rakende die sportoefeninge wat tans tydens skooltyd plaasvind, is. Verseker help dit hulle om lekker te ontspan na afloop van ‘n uitdagende vraestel asook om hul konstante aandag van die studies en eksamen tydelike af te lei deur op iets anders te fokus.

Saterdagaand, 4 Junie, kon ons skool se opvoedingstrust sedert 2019 weer die gewilde veilingdinee aanbied wat nie die afgelope 3 jaar vir ons beskore was nie. Die suksesvolle maskerbal is in die historiese Mount Nelson Hotel aangebied. Die pragtige hotel aan die voet van die ikoniese Tafelberg is in 1918 pienk geverf om vrede te simboliseer. Die geskiedenis van die idilliese hotel met ons 100ste bestaansjaar maak die “Nellie” soos dit bekend staan, die perfekte venue. Dames is elegant in stylvolle aandrokke met gesigsmaskers geklee en die mans het deftig met hul aandpakke en strikdasse gepronk. Voordat die veiling afgeskop het, was daar 40 lotte stylvol uitgestal vir al die gaste om te besigtig waarop hulle kon bie. Die hotelsaal was pragtig versier en die dekorasies het die perfekte afronding verseker. Alles is haarfyn beplan en perfek uitgevoer om ‘n onvergeetlike aand van samesyn te bewerkstellig. Die veiling is deur MC. du Toit (gr. 1-ouer) hanteer en hy was instrumenteel tot die sukses van die veiling waartydens ‘n rekord opbrengs opgelewer is. Ek wil MC hartlik bedank dat hy altyd gewillig is om ons te help en dan moet ek ook noem dat hy beslis oor die kuns as ‘n meesterafslaer beskik.

Aan die stuur van die stylvolle en merkwaardige veilingsdinee was Coreen Scholtz, Esna Boshoff en Stephanie le Roux. Laat my toe om die drie dames saam met hul span spesiaal en hartlik te bedank vir al die harde werk agter die skerms en hul kosbare tyd om die sukses van die veilingsdinee te verseker. Ons ouers en gaste kan nie uitgepraat raak oor die fantastiese funksie nie. Dit was my en Sanelda se eerste veilingsdinee by Laerskool Jan van Riebeeck en dit was ‘n ongelooflike voorreg om as skoolhoof die funksie te kon bywoon. Baie dankie ook aan Oosie en Marianna wat die aand saam met ons bygewoon het en in die proses ‘n tafel vol van spesiale gaste (Vriende van die Skool) gemaak het. Die vriende van die skool ondersteun ons spogskool al vir jare en ons is dankbaar vir wat hulle al oor ‘n baie lang tydperk vir die skool gedoen het. Dit is dan vir my ‘n aangename voorreg om met julle te deel dat die veiling ‘n rekord bedrag op die aand gemaak. Meer as R1,673M vir 40 lotte is binne slegs 2 en half uur tydens die veiling gemaak. Dit spreek boekdele oor die gesindheid en karakter van ons skool- en ouergemeenskap. Groot dankie aan almal wat aan die veiling deelgeneem en hul beursies spreekwoordelike wawyd oopgemaak het om die rekord bedrag te kon insamel. Weer eens hartlike dank aan al ons borge, donateurs en ouers vir al die ruim skenkings en donasies. Graag deel ek dat Gerhard en Daneele Conradie ongelukkig nie die dinee kon bywoon nie, maar Gerhard het op Woensdag, 8 Junie, besluit om ‘n ruim bedrag te skenk sodat ons presies R2M wins kon maak. Gerhard baie dankie vir die ruim donasie! Die fondse wat tydens die veiling geïn word, sal terug geploeg word in die opgradering van die skool se vierkant.

Dankbaarheid is nog steeds deel van my tema, veral na afloop van die suksesvolle veilingsdinee en daarmee sluit ek dan af met die volgende bekende aanhaling: “Om dankbaar te wees sonder om dit te sê, is soos om ‘n geskenk toe te draai sonder om dit te gee”.

Geniet ‘n wonderlike naweek.

Naas Beets
SKOOLHOOF