Ses Graad 6-leerders van Laerskool Jan van Riebeeck het as deel van die Standard Bank STEAM-projek ’n uitdaging aangepak wat ’n verskil in ons skoolgemeenskap kan maak. Tussen 18 deelnemende skole in Kaapstad het ons leerders gewys hoe tegnologie gebruik kan word om werklike probleme op te los.
Hul projek, ‘Smart Find’ fokus op ’n probleem waarmee ons almal kan identifiseer: verlore eiendom. Van waterbottels en kosblikke tot skoolklere, ons ken almal die frustrasie wanneer goed wegraak.
Met die ondersteuning en leiding van Juffrou Suné het die leerders ’n slim stelsel ontwikkel wat RFID-tegnologie en ’n Raspberry Pi gebruik om verlore items makliker te identifiseer en met hul eienaars te herenig.
Die leerders het self navorsing gedoen, gekodeer, elektroniese komponente gekoppel en saamgewerk om hul idee in ’n werkende oplossing te omskep.
Ons harde werk het vrugte afgewerp. JVR het deurgedring na die top vyf skole en die span het uiteindelik ’n fantastiese prys gewen: ’n 3D-drukker. Dit is ’n ongelooflike prestasie en ’n bewys van wat leerders met kreatiwiteit, spanwerk en deursettingsvermoë kan bereik.
Ons is ongelooflik trots op hierdie ses leerders en hul harde werk. Julle het JVR behoorlik trots gemaak.
Baie geluk aan ons Smart Find-span, Julle is ware jong innoveerders.
Ons span: Stef Nel, Gert van der Linde, Kent Chimukuyu, Heleen de Kock, Antjie Samuel en Mia Laubscher.
