Dit is aangenaam om te rapporteer dat die sport- en kultuurprogram amper weer in volle swang is met verskeie wedstryde, byeenkomste en galas wat plaasvind. Opvallend is die dankbaarheid onder ons ouers/voogde dat ons leerders weer die geleentheid kry om aan sport- en/of kultuuraktiwiteite te kan deelneem.

Vir die eerste keer in 2 jaar gaan van ons Jannies weer opvoedkundige kampe bywoon. Groot was die opwinding en die energievlakke op Woensdagoggend, 2 Maart, toe ons gr. 5-leerders na die SOS-Kamp vertrek en die gr. 7’s na die Melkboskamp. Hierdie puik opvoedkundige kampe is ook ‘n verlengstuk van die skool en bied ‘n wonderlike geleentheid waar karakter gebou word, kommunikasievaardighede verbeter word asook die ontwikkeling van emosionele- en leiereienskappe. Wees verseker dat die kampe wat ons bywoon ‘n gestruktureerde, veilige en vriendelike omgewing vir ons leerders bied. Ek weet die gr. 5 en 7-Jannies gaan hul gate uit geniet en ek glo dat hulle nie kan wag om al die wonderlike stories en avonture wat hulle die afgelope 2 dae beleef het, met julle te deel nie.

Ek het ook die wonderlike voorreg om leerders se werk en/of projekte te sien wat hulle op ‘n daagliks basis by my mee kom spog. Ons leerders is ongelooflik talentvol en ek wens ek kan al die spogstukke en stories met julle deel. Dit is wonderlik om te sien dat ons leerders die vrywmoedigheid het om my kantoor te kom besoek, al is dit net om te groet, ‘n storie te deel of ‘n lekkertjie te vra – dit is so kosbaar! Dit is vir my belangrik dat die leerders moet weet daar is vir hulle ‘n oopdeurbeleid na die skoolhoof se kantoor. Meeste van ons het die skoolhoof se kantoor soos die pes vermy, want dit het altyd gepaard gegaan met ‘n negatiewe konnotasie. Vir my is dit egter belangrik dat ons leerders moet weet ek het baie deernis met hulle en ek stel opreg in elkeen van hulle se welstand belang. Die skool is my “happy place”, want ek geniet my werk terdeë en dit is vir my ook belangrik dat die skool hulle “happy place” moet wees waar elkeen erkenning binne ‘n veilige leeromgewing ontvang.

Ek wil nie soos ‘n platespeler klink wat vasgehaak het nie, maar ek doen weer ‘n ernstige beroep op ouers/voogde en au pairs wat kinders agter by die skool vanuit “New Church” kom aflaai en optel om asseblief nie op die ‘aflaai en ry-sone’ te parkeer nie (sien bordjies). Hou asseblief te alle tye die ’rooi rybaan’ oop vir verkeer om te vloei. Indien jy vroeg arriveer en daar wil wag tot jou kind opdaag, parkeer asseblief in die parkeerareas en nie op die ‘aflaai en ry sone’ nie sodat die vloei van verkeer nie belemmer word nie. Ons vra ook dat kinders asseblief vinnig (“kiss and drop off”) afgelaai en opgelaai word om die vloei van die verkeer te verseker. Ons is van die min skole waar ouers/voogde wel die voorreg het om hul kinders op die skoolperseel te kan af- en oplaai. Baie dankie vir almal se samewerking in die verband.

Op daardie noot wil ek afsluit met die volgende aanhaling rakende die skool se waarde van die maand, naamlik OMGEE:
“Liefde en omgee is verniet, jy kan dit elke dag uitdeel sonder dat dit ooit opraak. Dit kos nie ‘n sent nie, maar is goud werd.”

Geniet die naweek en sien julle vanaand by die klasbraai wat vanaf 18:00 by die Conradievelde plaasvind.

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF