Ek glo almal het die meevallertjie van ‘n lekker langnaweek geniet en getrou jul merkie op die munisipale verkiesingsdag, 1 November, in jul onderskeie kiesafdelings gemaak. Ek hoop en vertrou dat julle darem nie te lank in rye gestaan het nie. Die Kaapse weer bring maar altyd ‘n bietjie van ‘n uitdaging wanneer ‘n mens buite in lang rye moet staan. Ek en my vrou het geduldig in ‘n lang ry by Laerskool Tamboerskloof gestaan en was verlig om na 1 uur 10 minute ons kruisie te kon trek. Heelwat ouers het ook hul jong kinders saamgebring om die proses te ervaar. Dit was lekker om vir Isabella en Elisabet saam met hul ouers Esri en Albertus in die lang ry te sien en ons kon mekaar darem vertroos dat dit darem nie te lank gaan duur nie.

Op Dinsdag, 2 November 2021, het ek as skoolhoof ook die wonderlike voorreg gehad om vir die eerste keer sedert my aanstelling met die hele Intersenfase (Gr. 4 – 7 leerders en opvoeders) ‘n formele saalbyeenkoms te hou. Marinda het vir ons Jannies ‘n pragtige boodskap gebring waartydens sy hulle verseker het dat hulle nooit hul waarde as Jannies moet onderskat nie. Sy het haar potloodsakkie met die inhoud gebruik om haar boodskap prakties te verduidelik. Die rooi pen het net so ‘n belangrike funksie soos die uitveër. Of jy nou ‘n liniaal of ‘n skerpmaker is, elkeen speel ‘n rol en vervul ‘n baie belangrike funksie. Sy het die leerders verseker dat jy nie net ‘n top akademiese leerder of ‘n uitstekende atleet hoef te wees om waarde vir die skool toe te voeg nie. Elke Jannie voeg op sy of haar unieke wyse waarde toe tot ons puik skool. Baie dankie Marinda dat jy elke Jannie die versekering gee dat hul elkeen geag word en ons as personeel vir hulle baie omgee. Ons senior koor het ook opgetree met die sing van ons pragtige Feeslied. Baie dankie Helecia en Ben wat so mooi na ons kore omsien! Besoek gerus JvR-Kiek vir die video-opname.

Tydens die bogenoemde saalbyeenkoms het ek die voorreg gehad om ses sertifikate en ‘n medalje te oorhandig. Die WKOD se jaarlikse kunsuitstalling het, soos verlede jaar, aanlyn in samewerking met die Nelson Mandela Universiteit plaasgevind. Hierdie nasionale kunskompetisie is gemik op Gr. 7 – 12-leerders en ondersoek die raakpunte tussen Kuns en Wiskunde. Hierdie jaar se tema was Beautiful Mathematics en leerders is uitgedaag om oorspronklike kunswerke te maak wat Wiskunde op ‘n kreatiewe manier met die tema verbind. Baie geluk aan die volgende drie Gr. 7-leerders wat finaliste was en elkeen het ‘n spesiale sertifikaat vir hul prestasie ontvang: Elle Nortje vir haar werk Natuurlike Perfeksie; Lara Pieterse vir Ballet Time en Mia Schreuder vir haar werk, Math Cruise. Ons is baie trots op julle.

Die Lions Klub bied ook jaarliks ‘n internasionale kunskompetisie vir leerders tussen die ouderdomme van 11 -13 jaar aan. Vanjaar se tema was We are all connected. Elke klub mag 5 werke instuur waaruit een gekies word om die distrik te verteenwoordig en daarna ‘n nasionale keuse om op internasionale vlak die land te verteenwoordig. Baie geluk aan die volgende leerders wat elk ‘n spesiale sertifikaat en geldprys ontvang het: Emke van Wyk, Markus de Ridder asook Susan Burger wie se werk gekies is as die distrikwenner. Haar werk gaan dus deur na die volgende rondte van die kompetisie. Julle maak ons baie trots. Dan laaste, maar nie die minste nie, het ek ‘n medalje aan Adan Eksteen (Gr. 6-leerder) oorhandig wat die “Cape Town Cycle Tour” in tandem saam met sy pa vir die 2de keer met ‘n ongelooflike tyd van 4uur en 33 minute voltooi het. Dit is ‘n merkwaardige prestasie vir ‘n 12 jarige. Welgedaan, Adan, ons is baie trots op jou.

Laat my ook toe om om die nuwe hoof van Huppelland aan julle bekend te stel, naamlik Louise Neser. Louise was voorheen ‘n opvoeder by Huppelland en ons is baie opgewonde om haar terug by Huppelland vanaf 1 Januarie 2022 te verwelkom. Louise het vir ‘n ruk lank in Londen (VK) gewerk waar sy ook haar Meestersgraad in vroeë-kindontwikkeling verwerf het. Sy is tans ‘n departementshoof by die privaatskool St. John’s College in Johannesburg. Ons beste wense vergesel haar en mag haar nuwe tuiste in die Moederstad vir haar baie vreugde bring.

Graag sluit ek dan met die volgende aanhaling deur Aristole af en ek wens julle ‘n wonderlike langnaweek toe:

“We are what we repeatedly do.
Excellence then is not an act,
but a habit.”