Elke jaar word daar ‘n wiskundekompetisie by Laerskool Van Riebeeckstrand aangebied.  Die doel van die kompetisie is vir verryking. Leerders word aan uitdagende somme blootgestel en leer om sekere somme baie vinnig te kan beantwoord.

Ons het aan die begin van die kwartaal oggendlesse vir graad 6 en 7-leerders aangebied. Enige leerder wat wou, kon die lesse bywoon. ‘n Pretdag is gereël op 4 September waar 45 leerders die dag bygewoon het. Verskeie aktiwiteite is op die dag aangebied. Van spoedtoetse, woordsomme en ‘n skattejag tot Kahoots. Na afloop van die pretdag is die 16 leerders wat aan die kompetisie gaan deelgeneem het, geïdentifiseer. Die leerders wat deelgeneem het, was Jan Karsten, Katrien Stimie, Carla Snijders, Sebastian Maree, Luca Zulch, Fredrich Erasmus, Famke Schwartz, Mieke Hertzog, Alexander Benecke, Taniel Webber, Cara Swanepoel, Luja Marx, Ameli Snyman, Katja de Villiers, Izak Bezuidenhout en Owen Wiese.
 
Die kompetisie het Woensdag, 22 September, plaasgevind en ons leerders was reg vir aksie. Ongelukkig moes ‘n paar skole onttrek voor die kompetisie, maar die skole wat deelgeneem het, was Van Riebeeckstrand, Gene Louw, Mikro, Swellendam, Table View, Elkanah House en Jan van Riebeeck. Ons leerders het uitstekend presteer en ons spanne het 1ste, 4de, 8ste en 12de geëindig. Baie geluk aan Jan, Katrien, Carla en Sebastian wat met die eerste prys weggestap het. Om die beste skool van die dag te bepaal, word al die punte van die spanne bymekaar getel. Ons het koning gekraai en met dié prys ook weggestap. Dit is die 6de jaar in ‘n ry wat ons met beide trofeë wegstap (beste span en beste skool). Ons wil vir mnr. Hanekom en juf. Baird bedank vir al die ekstra tyd wat hulle opgeoffer het om dit vir ons leerders moontlik te maak en om Wiskunde op ‘n pret manier aan te bied.