Oktober, die mooiste, mooiste maand… Só besig C. Louis Leipoldt dit in sy bekende gedig.

“Viooltjies in die voorhuis – Viooltjies blou en rooi! Viooltjies orals op die veld, en orals ai, so mooi!”

Die bogenoemde gedig bevestig net weer die prag en praal in ons Afrikaanse literatuur. Watter ander taal kan homself so mooi uitdruk: Daar word oor koeitjies en kalfies gepraat terwyl ons heerlik boeretroos op ‘n koue oggend geniet of die laventelhaan val homself disnis! Ons is trots Afrikaans en min tale is so kleurryk en flambojant soos Afrikaans!

Met die aanbreek van Oktober kom ons aan die einde van kwartaal 3. Dit was ‘n besige kwartaal met verskeie uitdagings, maar ons Jannies, ouers/voogde en personeel het in alle opsigte met vlieënde vaandels geslaag. Die kwartaal se akademie word tradisioneel gekenmerk deur verskeie take en opdragte wat vir punte voltooi moes word. Baie dankie vir al ons ouers/voogde se waardevolle insette in die verband. Ons kon darem ook ‘n bietjie wintersport beoefen en ons Jannies het die spandeelname, wat vir so lank taboe was, terdeë geniet. Baie dankie aan al ons opvoeders en afrigters vir hul leeue aandeel om wedstryde en toernooie vir ons Jannies moontlik en genotvol te maak.

Die laaste week by die skool was vol opwinding met musiekkonsert, kultuurkaskenades, Woord-Makietie en die personeel wat netbalwedstryde teen die o/13-dogterspanne gespeel het. Ek was deel van die onderwyserspan wat teen die o/13A-netbalspan op Woensdag gespeel het. Alhoewel ons gewen het, is ek seker dat ons met hordes voetfoute weggekom het. Hierdie jaarlikse hoogtepunt het in die vierkant afgespeel met al die Jannies wat rondom die baan en vanuit die skoolgebou beide spanne luidkeels aanmoedig. Opvallend is die besondere gees wat tydens die wedstryde geheers het. Die kameradie onder die Jannies en personeel is ‘n riem onder die hart. Die ongelooflike verhouding tussen personeel en leerders is een van die kosbare elemente wat JvR uniek maak. Ek is so trots om deel van ‘n skool te wees wat sy leuse en waardes uitleef.


Graag wil ek die musiekdepartement hartlik bedank vir die suksesvolle aanbieding van die kultuurkaskenades asook die musiekkonsert. Baie dankie Helecia, Ben en Estelle vir julle passie en toegewydheid asook dat julle deurgaans ‘n baie hoë standaard handhaaf wat ons van baie ander skole onderskei.

Op Woensdag, 29 September, het ek ook die voorreg gehad om die Hoofseun en Hoofdogter van 2021 bekend te maak. Die verkiesing van ons hoofleiers het op 27 tot 28 September plaasgevind. Dit is dan vir my aangenaam om met julle te deel dat Héloïse Strauss as die hoofdogter en Danny Newton as die hoofseun aangewys is. Baie dankie aan hul onderskeie ouers wat die spesiale geleentheid kon bywoon om hul balkies aan te steek. Dit was spesiaal. Baie geluk aan ons hoofleiers. Ons beste wense vergesel hulle twee vir die groot taak wat voorlê.

Ons skoolpersoneel is ook die week getrakteer deur die OOV om onder andere Onderwysersdag (5 Oktober) te vier. Graag wil ek Ria Hertzog en haar span bedank vir die groot bederf. Die opvoeders was heerlik bederf met ‘n wynproe-aanbieding by Ria se huis wat deur een van ons ouers, René Groenewald, aangebied is. Die algemene werkers is ook bederf met ‘n besoek aan die Twee Oseane Akwarium. Baie dankie Ria en die OOV vir die heerlike bederf.

Die afgelope week het Khanyiso wat ‘n koffiestalletjie by Huppelland bedryf ook sy dienste by die laerskool beskikbaar gestel. Graag versoek ons dat julle hom sal ondersteun sodat hy op ‘n permanente basis vroegoggend vir ons kwaliteit boeretroos kan voorsien om die dag op die regte noot te begin. Verder deel ek ook die goeie nuus dat ons beplan om die Oktober-vakansie die grondslagfase se seunsbadkamer ook soos die res van die leerders se badkamers op te gradeer.


Ek sal my plig versuim indien ek nie die personeel hartlik bedank vir hul harde werk, passie, toegewydheid en lojaliteit om te verseker dat ons Jannies skoolgaan geniet. Dit is vir my uiters belangrik dat ons leerders skool toe wil kom, want dit is lekker, leersaam en inspirerend. Hou vol met die puik werk en omgee. Dit is kosbaar en gaan nie ongesiens verby nie! Baie dankie ook aan ons Beheerraad vir hulle tyd, betrokkenheid en waardevolle insette om te verseker dat die skool van krag-tot-krag gaan.

Ek wens vir julle ‘n wonderlike Oktober-vakansie toe. Veilig reis vir die wat weggaan, lekker rus en wees veilig. Graag sluit ek af met die volgende aanhaling wat verwys na die mooiste maand van Oktober:

“A beautiful day
begins
with a
beautiful mindset”