Die Beheerraad het onlangs na ‘n deeglike ondersoek besluit om ‘n nuwe kontrak met Nashua as verskaffer van fotostaatmasjiene en drukkers aan die skool en Huppelland te onderteken, aangesien die ou fotostaatmasjiene en drukkers hul raklewe bereik het en baie probleme asook menigte frustrasies veroorsaak het. Deel van die onderhandelinge met Nashua het die skenking van x12 65’ Samsung slimtelevisies ingesluit. Hierdie meevallertjie van x12 slimtelevisies vervang die huidige projektors in die Gr.4 – 7-klaskamers terwyl die projektors na die Gr.1 – 3-klaskamers geskuif is. ‘n Gloeilampie van ‘n projektor hou nie lank nie en moet periodiek ten duurste vervang word. Die slimtelevisies het nie net ‘n beter beeld en langer waarborg nie, maar skep onder andere vir ons ‘n wonderlike geleentheid om tegnologie meer gereeld in die kurrikulum te inkorporeer. Dit voorsien die opvoeder van ‘n alternatiewe leerinstrument om sy/haar klasse baie meer interessant te maak. Baie dankie Mnre. Leon Hanekom, Hannes Muller en die algemene werkers wat op Saterdag, 12 Junie, en Sondag, 13 Junie, hard gewerk het om die slimtelevisies professioneel te installeer. Ons is baie dankbaar vir hierdie tegnologie in ons klaskamers.

Naas Beets