Soos baie van ons ouers weet, is ons Jannie-gemeenskap besig om te groei… daar is tans ‘n hele paar van ons onderwyseresse swanger!
Dit ‘n baie opwindende tyd om ‘n nuwe baba in jou gesin te verwelkom en ons is saam met hulle dankbaar vir die groot seën. Hiermee dan ‘n lys van onderwysers wie binnekort op kraamverlof gaan en die planne wat ons of reeds gemaak het, of besig is om te maak, om hulle af te los:
- Juffrou Magdhelé Jansen (Gr 2-intern) gaan in September op kraamverlof en juffrou Cheree Roelofse los in haar plek af.
- Juffrou Michelle Compion (Gr 3-onderwyseres) gaan in Oktober op kraamverlof en juffrou Herculine Becker (huidige graad 1-intern) los tot die einde van die jaar in haar klas, af. Ons het volle vetroue in juffrou Becker en wens haar sterkte toe.
Juffrou Becker verlaat ons ongelukkig aan die einde van die jaar wanneer sy trou en Namibië toe trek, so ons soek nog iemand vir die eerste paar weke van die nuwe jaar. Sodra ons weet wie ons volgende jaar vir die eerste paar weke in graad 3 gaan help, sal ons dit aan ouers kommunikeer.
- Juffrou Marianne Conradie (Gr 4-onderwyseres) gaan in November op kraamverlof. Juffrou Charlene van Rooyen, wie hierdie jaar formeel aftree by ons skool, gaan ons tydelik uithelp volgende jaar en in juffrou Conradie se plek instaan. Ons is juffrou van Rooyen baie dankbaar hiervoor en weet sy gaan ‘n groot aanwins vir die graad wees.
- Juffrou Andri Baird (Gr 6-onderwyeres) gaan in November op kraamverlof. Ons het reeds iemand in gedagte wie moontlik in haar plek gaan af los, maar indien dit nie vir haar moontlik gaan wees nie, gaan ons die kraamverlofpos adverteer. Ons wil seker maak dat ons ‘n wiskunde vakspesialis in haar plek aanstel en kan ouers verseker dat ons hierdie taak ernstig opneem.
- Juffrou Nicola Potter (Gr 1-onderwyseres) gaan in Januarie op kraamverlof en juffrou Magdhelé Jansen gaan in haar klas aflos. Juffrou Jansen is al lankal gekwalifiseerd en het nie net al haar eie klasse gehad nie, maar ook al by Huppelland afgelos. Ons het volle vertroue in juffrou Jansen en weet dat sy haar goed van haar taak sal kwyt.
Ons wens ons onderwyseresse baie sterkte toe met hierdie opwindende fase van hul lewens en kan nie wag om ons nuwe “klein-Jannies” te ontmoet nie.