Die 3de vlaag van die Covid-19 pandemie het die afgelope tyd werklik sy kloue diep in ons skoolgemeenskap geslaan. Dit opsig self bring verskeie operasionele uitdagings vir die skool met die eksamen / assesserings wat op hande is. Verskeie van ons gesinne is baie erg deur die pandemie geraak en verkeer tans in isolasie. Dus in ons poging om die impak van die 3de vlaag te probeer verminder asook om die veiligheid van ons skoolgemeenskap te prioritiseer, geld die volgende interimreëlings onmiddellik vir die volgende 2 weke (22 Junie – 2 Julie):

  • Skool sluit daagliks vroeër: Indien dit vir ouers/voogde moontlik is, kan hulle hul kinders daagliks om 10:00 (Grondslagfase) en 10:15 (Intersenfase) direk na die eksamen / assessering by die skool kom afhaal. Daar sal egter toesig vir leerders wees wie se ouers / voogde hulle eers om 13:00 kan kom afhaal. Grondslagfase het hul program aangepas om die dae tussen formele assesseringsvraestelle te gebruik vir die individuele assessering.
  • Busvervoer: Vertrek 12:30 vanaf skool.
  • Isolasie en eksamen / assesserings: Die klasonderwysers sal met ouers / voogde kommunikeer in verband met leerders wat moet isoleer en nie die eksamen / assesserings fisies kan skryf nie. Leerders wat dan ongelukkig moet isoleer, sal of die laaste week van die kwartaal of die 2de week in kwartaal 3 die geleentheid kry om eksamen / assesserings af te lê. Klasonderwysers sal individuele assesseringsplanne vir hierdie leerders opstel en met hul spesifieke ouers kommunikeer m.a.w. wat die beste reëling vir elke individuele leerder is. Neem asseblief dan ook kennis dat ons nie noodwendig vir die spesifieke leerders vorderingsverslae op die laaste dag van hierdie kwartaal sal kan gee nie.
  • Sport- en kooroefeninge by die skool: word onmiddellik tot verdere kennisgewing gestaak.
  • Snoepie: Enige kosbestellings wat reeds deur die Karri-toep geplaas is, moet direk na eksamen/assessering by die snoepie afgehaal word, voordat leerders huis toe gaan.

Reëlings vir die laaste week (5 – 9 Julie) van die kwartaal sal binnekort met julle gekommunikeer word.
Baie dankie vir jul begrip en samewerking om die veiligheid van die skoolgemeenskap te verseker.

Bly asseblief veilig.
Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF