Ek voel vandag besonders geseënd en dankbaar weens die feit dat dit in alle opsigte relatief met die skool baie goed gaan. Ons kernbesigheid, naamlik akademie het weer onlangs met die bekendmaking van die 2021 WKOD se sistemiese uitslae bevestig dat ons baie trots kan wees op die akademiese standaard wat ons jaar in en jaar uit handhaaf. Effektiewe kwaliteitsbestuurpraktyke word gereeld hersien om te verseker dat ons Jannies kwaliteit onderrig en ondersteuning ontvang. Ons is werklik geseënd met passievolle opvoeders en ondersteuningspersoneel wat kollektief werk sodat ons Jannies hulle volle potensiaal kan bereik. Ons personeel loop die spreekwoordelike ekstra myl, want opvoeding is vir hulle ‘n passie eerder as ‘n beroep.

Die dankbaarheid loop ook verder oor as ek sien hoe goed dit met die skoolsport gaan, veral met die uitdagings as gevolg van die Covid-19 pandemie oor die laaste 2 jaar. Ek verwys nie net na die puik sportuitslae die afgelope tyd nie, maar ook na die ongelooflike deelname deur ons leerders aan al die geleenthede wat daar vir hulle geskep word. Ons leerders geniet die spansportaktiwiteite en raak skoon angstig as die weer begin dreig om oefeninge, wedstryde of toernooie in die wiele te ry. Sportkodes soos skaak en landloop is weer besig om momemtum te kry. Ek was aangenaam verras toe ek op Vrydagmiddag, 13 Mei, by die skaakwedstryde wat by ons skool in die biblioteek plaasgevind het, ingestap het. Ons gemengde o/11-skaakspan het die spesifieke middag wedstryde teen drie skole uit Gugulethu, naamlik Luzoko, Litha en Vukuhayne gespeel. Ons leerders het dit baie geniet en dit was ‘n riem onder die hart om te sien hoe vinnig hulle sommer onder mekaar maats gemaak het en mekaar oor die fynere kunsies van skaak touwys gemaak het. Hier het ons skaak gespeel teen kinders wat nie eers weet waar hulle volgende maaltyd vandaan gaan kom nie en dit het ons almal opnuut weer laat besef hoe bevoorreg ons almal by Laerskool Jan van Riebeeck is.

Ons kultuuraktiwiteite met musiekonderrig, koor, redenaars en Eisteddfod is weer in volle swang. Daar heers groot opgewondenheid onder leerders en ouers met die deelname aan die Eisteddfod. Baie dankie aan Sean met die suksesvolle kitaarkonsert wat op Woensdagaand, 11 Mei, in die skoolsaal gehou is. Ons kultuurleerders is baie talentvol en hulle kry ook die geleentheid om ‘n item tydens ons saalbyeenkomste op Dinsdae te lewer. Juf. Helecia en mnr. Ben beplan verder weer ‘n heerlike musiekkonsert op 21 Junie waarna ons baie uitsien.

Ek wil nie graag leerders uitsonder nie, maar ek sal my plig versuim indien ek nie vir Sophia Liebenberg (graad 7) hartlik gelukwens met haar opname in die o/13 Wes-Kaap netbalspan nie. Sy gaan deelneem aan die interprovinsiale toernooi vanaf 25 – 29 Junie 2022 te Boksburg, Gauteng. Ons is baie trots op jou, Sophia, en ons wens vir jou en juf. Ischké, wat ook as skeidsregter tydens die toernooi gaan optree, sterkte toe.

Ek sluit dan met die volgende bekende aanhaling rakende dankbaarheid af:

“Dankbaarheid gee sin aan gister, gee vrede vir vandag en skep ‘n droom vir môre.”

Geniet ‘n wonderlike naweek en sterkte aan ons netbal- en rugbyspanne en hul afrigters wat môre by Laerskool F.D. Conradie te Prince Alfred Hamlet deelneem.

Naas Beets
SKOOLHOOF