Baie dankie aan almal vir ‘n heerlike somer buitemuurse program. Dis ‘n fees om te sien hoe die kinders oor die paar weke ontwikkel het en dis wonderlik om te weet die aanvraag is so groot!

Die winter buitemuurse program skop op Woensdag, 7 April, af en sal weer op Donderdag, 15 April, eindig. Gedurende die laaste week van skool sal daar nie enige skool buitemuurs wees nie. Ons gaan op Maandag, 10 Mei, met die winterprogram vir kwartaal 3 afskop.

Ons is baie opgewonde om die gepubliseerde gazette (27 Maart 2021) se voorskrifte te ontvang en hoef nie enige drastiese aanpassings te maak nie. Die meeste van die regulasies wat ons in plek gehad het vir die eerste kwartaal sal nou ook gedurende die winterprogram gevolg moet word. Dit sluit in dat ons steeds GEEN toeskouers by enige oefeninge of wedstryde mag hê nie. Die gazette bepaal dat ons nou aan wedstryde, byeenkomste en toernooie mag deelneem. Ons is die jaar vir onderskeie sportkodes by ligas ingeskryf en wag nou op hul terugvoer (wat ‘n lys van vereistes vir elke sport insluit) en wedstrydbepalings. Alle bepalings en toernooie sal op die skool se webkalender gelaai word soos dit bevestig word. Die getal spelers wat in ‘n area mag wees, is vermeerder en ons gaan nie vir die winterprogram enige vooraf registrasies doen nie. Almal is welkom om aan die beskikbare sportkodes vir hul ouderdom deel te neem. Ons gaan wel die getalle monitor en aanpassings vir ‘n groep maak indien nodig.

Ons vra dat ouers asb. steeds die betrokke afrigter (soos op die winterprogram aangedui) in kennis stel indien jou kind/ers nie ‘n oefening kan bywoon nie.

Leerders sal elk ‘n harde kopie van die WINTERPROGRAM ontvang en dit sal ook op die skool se webtuiste beskikbaar wees.

Die onderstaande punte moet nagekom word tydens die oefeninge:

  • Maskers moet gedra word. (Terwyl ‘n opdrag aan hulle verduidelik word en hulle as groep nader aan mekaar is, moet dit gedra word. As hulle die instruksie uitvoer en daar is sosiale afstand, mag hulle die maskers vir daardie oomblik afhaal.)
  • Leerders sal met die skool se bussies na die Conradieveld / Hoërskool Sportvelde en terug vervoer word. Maskers moet altyd gedra word en leerders moet hul hande ontsmet voordat hulle in die busse klim.
  • Leerders trek hul JvR-sportklere vir die aktiwiteite aan.
  • Waar ons addisionele apparaat / toerusting gebruik, sal dit voor en na elke sessie ontsmet word.
  • Ouers mag steeds NIE op die skoolterrein uit hul karre klim NIE. Leerders sal na afloop van die aktiwiteit na die motor beweeg.
  • Ouers mag NIE op die veld / perseel by die Conradieveld kom nie. Hulle moet buite die Conradieveld se hek wag. Leerders sal na hul aktiwiteit hul ouers by die hek ontmoet.
  • GEEN toeskouers word toegelaat nie.