Liewe ouers, leerders en personeel

A. Terug skool toe!

1. Ons hoop al ons leerders geniet hierdie week om lekker te ontspan en uit te rus! Ons sien ook baie uit om Maandag al ons graad 7’s te verwelkom.

2. Ons weet ongelukkig steeds nie wanneer die res van die leerders, insluitend Huppelland, kan terugkom nie. Ons is deurentyds in kommunikasie met die Departement van Onderwys en sal julle in kennis stel sodra dit bevestig word. Voorlopige aanduidings is dat ons teen middel Junie duidelikheid behoort te kry.

3. Kliek hier vir belangrike inligting vir ons graad 7 leerders en ouers. Die res van julle kan dit solank deurgaan en julle kinders begin voorberei. Ons sal ook vir julle ‘n video aanstuur om te wys wat die prosedure is wanneer leerders by die skool aankom. Ons skool se uitvoerende span het bitter hard gewerk om alles in plek te kry en ons sê vir hulle baie dankie. Dit is vir ons almal onbekend en ons leer soos wat ons aangaan, so wees asseblief geduldig.

4. Daar sal geen buitemuurs plaasvind vir die afsienbare toekoms nie.

5. Nasorg: Daar sal nie eerskomende Maandag nasorg wees vir enige leerders nie. Daar sal in volgende week ‘n besluit geneem word aangaande verdere nasorg.

B. Volgehoue aanlyn-studies

1. Die res van ons grade gaan voort met ons uitstekende afstandonderrigprogram vanaf Maandag. Wees gerus dat ons goed op koers is om die 2de kwartaal se kurrikulum binne die normale tydperk te voltooi. ‘n Pluimpie vir ons onderwysers en bestuurspan!

2. Waar daar graad 7’s is wat vir mediese of verwante redes nie vanaf Maandag skool kan bywoon nie, moet julle asb. die registeronderwyser in kennis stel.

C. Personeelaangeleenthede

1. Dit lyk of juf. Marli Vermeulen binne die volgende week of twee by haar man in Rotterdam gaan aansluit. Ons het vir juf. Izel Storm in haar plek aangestel. Izel het vroeër by ons skoolgehou en is dus baie vertroud met ons skool en gemeenskap.

2. Ons het die groen lig vanaf die Departement van Onderwys gekry om voort te gaan met die proses vir die aanstel van ‘n nuwe skoolhoof. Ons sal binnekort afskop met die kortlys en onderhoude.

3. Ek sal intussen aanbly as hoof tot die einde van hierdie kwartaal, wanneer ek die skool groet na amper 27 jaar! Ek sou graag al die kinders bymekaar wou groet, helaas is hierdie aardige tye waarin ons leef. Gelukkig is ek naby en sal wanneer omstandighede dit weer toelaat, ordentlik afskeid vier.

4. Marinda Brink sal vanaf die begin van die derde kwartaal as hoof waarneem totdat ‘n nuwe permanente hoof aangestel word.

Vriendelike groete,
Johan Oosthuizen