Groot opgewondenheid het Maandagoggend, 15 Februarie 2021, onder leerders, ouers en personeel geheers met die terugkeer van ons Jannies nadat skole op 15 Desember 2020 gesluit het. Baie dankie aan ons leerderraad wat ons leerders en spesiaal die Gr.1’s ontvang het, en na hul onderskeie klasse begelei het. Uiteindelik was daar weer lewe by die skool met vrolike kinderstemme wat nou daagliks duidelik hul teenwoordigheid aankondig. Roetine word ook weer deel van ons daaglikse lewe en dit is lekker om te sien hoe opgewonde die leerders is om weer hul maats in lewende lywe te sien. Die leerders is die hartklop van die skool en dit is ons voorreg as opvoeders om hulle te help om hul horisonne te verbreed en om nuwe dinge te leer en ervaar. Ek haal Solomon Ortiz aan: “ Education is the key to success in life, and teachers make a lasting impact in the lives of their students.’’

Dan kan ek nie anders as om te noem dat die feeshempies ‘n fees vir die oog is nie! Baie dankie vir elkeen wat hierdie inisiatief ondersteun. Diegene wat hempies bestel het, moet geduldig wees. Die bestelling is nog op pad.

Akademie sal altyd ons kernbesigheid bly. Die eerste week het seepglad verloop. In hierdie onseker-tyd is dit belangrik dat ouers en opvoeders as ‘n span na die emosionele welstand van ons leerders kyk. Daarom moedig ek ouers aan om gedurig met jul kinders te gesels om sodoende spanning en angs te beheer. Dis belangrik om aan hulle te verduidelik dat dinge nou abnormaal is, maar dat dit in die nabye toekoms sal verander. Graag wil ek julle ook as ouers / voogde vra om aktief by jou kind/ers se leer en onderrig betrokke te raak. Loer gerus in hul werkboeke, moedig hulle aan en teken voltooide werk soos deur die opvoeders versoek.

Ons werk hard aan die algemene netheid van die skoolgeboue en terrein. Ek glo julle sal met my saamstem dat die estetiese effek van mooi skoolgeboue en goedversorgde terrein deurslaggewend is tot ‘n positiewe leeromgewing.

Neem asseblief kennis van die volgende:

1. Verkiesing van die 2021 Beheerraad:
Soos julle bewus is, is 2021 weer die jaar om vir ‘n nuwe Beheerraad vir die tydperk 2021 – 2023 te stem. Ons beplan om die verkiesing virtueel d.m.v. VotingCrowd af te handel. Die voorlopige verkiesingsdatum is 30 Maart 2021. Sodra ons die formele goedkeuring kry, sal ons die prosedure vir julle deurgee. Graag versoek ek ouers om solank jul gedagtes te laat gaan rakende nominasies van ouerkandidate wat die belangrike rolle kan vul.

2. Dra van maskers
Graag versoek ons ouers om ons te help dat leerders asseblief maskers skool toe moet dra en nie ‘’Buffs’’ nie. Leerders trek die ‘’Buffs’’ oor hul ore en dit belemmer kommunikasie in die klas.

3. Klasverteenwoordigers /OOV
Verlede week is ouers d.m.v. die nuusbrief versoek om te oorweeg om as ‘n klasverteenwoordiger te dien. Ons het ongelukkig nie voldoende reaksie gekry nie. Ons versoek dat indien jy bereid is om as ‘n 2021-klasverteenwoordiger op te tree, jy asseblief ‘n e-pos met die volgende inligting aan Ria Hertzog (OOV-Voorsitter) by oov@jvrprim.co.za moet stuur:
● Jou naam en van
● Jou kind se naam en van asook sy/haar klas
● Jou selfoonnommer
● Jou e-posadres

4. Buitemuurse program:
Begin die week van 22 Februarie 2021. Moedig asseblief jul kinders aan om aan die aktiwiteite deel te neem.

5. Skoolaansoeke 2022
Open 26 Februarie 2021 en sluit 26 Maart 2021.

6. Sosiale byeenkoms
Ons besef dat ons ouers ‘n groot behoefte het om weer vir ‘n slag as skoolgemeenskap sosiaal te verkeer. Covid-19 protokol bepaal egter dat daar nie meer as 250 mense ‘n buitelug-byeenkoms mag bywoon nie, maar ons ondersoek tans die moontlikheid om ‘n vrywillige sosiale byeenkoms vir ouers en leerders by die Conradieveld te hou. Volgende week sal julle ‘n “Google Form’’ ontvang om belangstelling te bepaal. Verdere inligting sal volg.