Hierdie kwartaal neem ons afskeid van heelwat personeel wat ons hierdie jaar verlaat. ‘n Hele paar van hulle werk al jare by die skool. Met Covid kon ons ongelukkig nie ‘n behoorlike afskeid saam met hulle hou nie. Daar gaan nie hierdie kwartaal ‘n Suidooster verskyn om vir elkeen ‘n afskeidsbrief te plaas nie, maar ons wil wel graag vir elkeen op hierdie platform bedank vir jare lange toegewyde werk.

Juf. Marianna Oosthuizen
Daar’s geen twyfel dat juf. Marianna die tye saam met haar leerders geniet het nie! Daar was genoeg vryheid aan haar leerders gegun om ons leuse, Wees Uself, ten volle uit te leef. Leerders gaan nog vir jare praat van hul gawe graad 1-juffrou, wat altyd mooi lyk en lekker ruik! Op Vrydae is daar altyd klavier gespeel en saam gesing en as ‘n mens op daardie oomblik in haar klas ingestap het, kon jy die lekker atmosfeer aanvoel. Sy het jare lank van die grootste geleenthede by die skool met styl en presisie gereël.

Geniet elke oomblik van die lekker lang vakansie saam met Meneer Oosthuizen. Mag dit vol interessante reise, mooi aande by die lekker huis in Vredehoek, kuiers by vriende en middae by die Mount Nelson wees!

Juf. Magriet van Zyl
Juf. Magriet het toegewyd-wees ‘n nuwe betekenis gegee. Die moeite wat daar in elke boekbespreking, biblioteeklesse en ekstra erkenning vir leerders gegaan het, is inspirerend. Die gretigheid waarmee die tegnologie-uitdagings aangepak is tydens die grendeltydperk was net so lekker om te beleef! Sy het ook hard gewerk om te help om Die Suidooster elke kwartaal suksesvol, betyds en sonder foute uit te bring.

Ons het so baie by jou geleer, veral hoe om weer op te staan en positief te bly wanneer die lewe moeiliker dinge na ‘n mens se kant toe gooi. Die leerders en personeel gaan jou baie mis!

Marili Thompson
Die finansies tannie wat ure voor haar rekenaar deurgebring het om Jan van Riebeeck se boeke te laat klop! Dit voel of sy net-net onder Meneer Oosthuizen was in die rang van die skoolorde. Marili was beslis die perfekte een vir die werk – rustig en kalm in enige krisis, streng, maar altyd bereid om te luister na jou motivering hoekom jy graag ‘n nuwe ietsie vir jou klas wil aankoop, en dan natuurlik uitstekend met syfers, organisasie en kophou met ongeveer 450 leerders se finansiële sake. Baie dankie vir 8 jaar se betroubaarheid en toewyding.

Rose Chikwata
Ma Rose het in die 21 jaar wat sy by die skool gewerk het, gesorg dat die skool se gange blink en later by die Nasorg aangesluit om daar ‘n handjie by te sit. Rose het ’n sagte hart vir kinders en was vir menige leerders hul skoolma wat nooit te besig was om ’n geselsie aan te knoop in Afrikaans, Engels of isiXhosa nie. Ons gaan jou deernis en omgee mis, Ma Rose.

Juf. Michelle-Marié Niemand
Juf. Niemand het aan die begin van die jaar deel van die Jannie-span geword. Sy het onlangs verloof geraak en daar is omtrent opwindende dinge wat vir hulle voorlê! Dit was lekker om haar deel van ons span hierdie jaar te hê en ons gaan verseker haar vriendelikheid mis!