Dit is met ‘n swaar hart dat ek Jan van Riebeeck Dinsdag verlaat. Vir 7 en ‘n half jaar was dit my boekehuis in die skadu van die berg.

Uit die vele hoogtepunte is dit moeilik om iets uit te sonder. Maar niks het my soveel genot gegee soos ‘n kind wat kom sê dat hulle ‘n boek baie geniet het nie. Veral as daardie leerling ‘n nie-leser was. Daar was vir my geen goedvoel-oomblik soos om ‘n graad eentjie se gesig te sien straal wanneer hulle besef hulle kan boeke bo hul leesvlak lees of wanneer hulle ‘n prenteboek beetkry wat presies is waarvan hulle hou nie.

In my tyd by Jan van Riebeeck het my lewe deur meer as 4 seisoene gegaan. Maar in die rondgooi van die lewe, was die skool my veilige hawe. Met kinderdrukkies en briefies, kollegas wat omgee en ‘n ouergemeenskap wat deernisvol en met passie inspring om hierdie skool ‘n skool van uitnemendheid te maak.

Dankie liewe ouers, kollegas en kinders dat ek hier kon leef in my taal. ‘n Stukkie van my hart sal altyd hier bly, waar kind nog kind is en kennis gedy.

Tot weersiens,
Magriet van Zyl
JvR-biblioteek