Gedurende die afgelope vakansie het ‘n groep Graad 7’s, saam met hulle ouers, en sommige saam met hulle gesinne, drie heerlike aande op die walle van die Breederivier deurgebring.

Dit het als begin met ‘n beplande roei op die Oranjerivier, iets wat nou al ‘n instelling by die Graad 7-Jannies is. Toe die Covid-pandemie ‘n stokkie daarvoor steek, is “Plan B vir Breede” opgeroep! Hierdie plan het so goed uitgewerk, dat ‘n paar ouers reeds voorgestel het dat dit deel van die Jannies-kalender word!

Ons het heerlik geroei, al het dit soms geknor om die ‘crocs’ reguit te stuur wanneer die wind van voor gekom het! Die stroomversnellings het gesorg vir ekstra opwinding: ‘n paar van ons is agteruit deur ‘n paar stroomversnellings. Soms was daar ‘n noodgedwonge swem wanneer die draaie nou net nie perfek wou uitwerk nie, maar ons is daardeur! Daar was ook ander lekker aktiwiteite vir die kinders, soos ‘abseil’, tafeltennis en snoeker. Saans het ons tot laat om die kampvuur gekuier. Louis Boshoff en LJ le Roux het ons op die laaste aand bederf met die heerlikste braaivleis – dankie, julle is voorwaar “Braaimeesters”!

Dankie aan almal wat vasgebyt het met die reëlings deur al die onsekerhede oor die Oranje-roei, tot op die Breederivier!!