Liewe Leerders, Personeel, Ouers en Beheerliggaam

Vrydag 21 Augustus 2020 sal my laaste dag by Laerskool Jan van Riebeeck wees. Na 26 jaar en 8 maande as hoof hier sal julle besef dat dit nie so maklik vir my is om net tot siens te sê nie… Dit was vir my en my gesin ‘n ongelooflike reis wat nou in hierdie “onnatuurlike” omstandighede tot ‘n einde kom. Ek sou so graag op ‘n ander manier van almal wou afskeid neem en behoorlik groet, maar onder die huidige omstandighede is dit nie moontlik nie.

Laerskool Jan van Riebeeck is ‘n ongelooflike skool en beslis uniek. As ek ooit kon oor kies waar en by watter skool ek vir so lank ‘n hoof kon wees, sal ek sonder om te huiwer weer Laerskool Jan van Riebeeck gekies het!

‘n Paar dinge van ons skool, sy leerders, personeel en ouers wat vir my uitstaan en altyd sal bybly is die volgende:

1.) Die skool se leuse, nl. “Wees uself”, is sekerlik die beste en mees gepaste leuse vir enige skool.

2.) Die betrokkenheid van die ouers en die bereidwilligheid om hulle hulp op vele terreine aan te bied.

3.) Die uitreik-aksies na minderbevoorregte skole en -gemeenskappe. Selfs in hierdie grendeltyd word dit daagliks gedoen, ook in ons eie skool en gemeenskap… en so baie van ons ouers doen dit sonder om “sigbaar” te wees of selfs erkenning daarvoor te ontvang.

4.) Die bereidwilligheid van die personeel om die ekstra myl te stap en die wonderlike gees wat hulle het, die goeie humorsin, die positiewe gesindheid waarmee take en opdragte aangepak word en hoe hulle mekaar ondersteun en aanspoor. Dit het ook baie duidelik in hierdie tyd van inperking na vore gekom. Die goeie samewerking tussen onderwysers en nie-onderwyspersoneel is ook opmerklik.

5.) Die fantastiese funksies wat meestal deur die skool se uiters bekwame OOV-lede aangebied word, sal ek ook altyd onthou… Die kabarette, wynveilings, voedsel- en wynfeeste, markdae, klasbraaie, sportbyeenkomste en natuurlik die konserte wat altyd van baie hoë gehalte is.

6.) Die uiters bekwame en professionele beheerliggame wat ook uit hulle pad sal gaan ter wille van die skool en sy gemeenskap. Ek dink nie almal besef hoeveel tyd hulle opoffer nie, en dit sonder enige vergoeding. Ek kon nog altyd spog by my skoolhoof-vriende hoe uiters begaaf en lojaal ons skool se beheerliggame oor al die jare is.

7.) Laaste maar nie die minste nie, is die wonderlike leerders van Laerskool Jan van Riebeeck! Ek sal die vriendelike gesiggies en drukkies vir altyd onthou. Ons leerders presteer op vele terreine, is baie kompeterend, maar gee ook die nodige erkenning aan maats en opponente. Hulle sê: “Een maal ‘n Jannie, altyd ‘n Jannie.”

Ek glo dat Laerskool Jan van Riebeeck sy karakter en uniekheid onder leiding van die nuwe hoof sal behou, nog hoër hoogtes sal bereik en van krag tot krag sal gaan!

My beste wense vergesel julle.

Vriendelike groete,
Johan (Oosie) Oosthuizen