Beste gr.4-7 Ouer(s)/Voog(de)

Ons is baie opgewonde om ons gr.4-6 leerders eersdaags terug by die skool te verwelkom. Die brief sal al die reëlings deeglik uiteensit en hopelik al julle vrae beantwoord.

1. Skoolkwartale:
Kwartaal 2: 1 Junie – 7 Augustus (10 weke)
Kwartaal 3: 12 Augustus – 23 September (6 weke)
Kwartaal 4: 5 Oktober – 15 Desember (10 weke)

2. Oriënteringsdae:
Tydens hierdie dae word al die maatreëls met die leerders bespreek. Klasruilings (onderwysers wissel) vind plaas sodra oriëntasie afgehandel is. Leerders pak dus hul tas vir die betrokke dag se periodes. Die rooster bly dieselfde.

Gr.6 (Hele groep) – Vrydag, 26 Junie (7:45 – 14:10)
Gr.4 (Oranje) – Woensdag, 1 Julie (7:45 – 14:10)
Gr.4 (Blou) – Donderdag, 2 Julie (7:45 – 14:10)
Gr.5 (Hele groep) – Vrydag, 3 Julie (7:45 – 14:10)

3. Graadgroepe terug by die skool:
Vanaf die volgende datums kom die helfte van ons leerders elke dag skool toe. Ons het besluit om die kleurgroepe te gebruik om die logistiek vir families te vergemaklik. Die Blouspan (gr.6e) kom die eerste week Maandag, Woensdag en Vrydag skool toe en die Oranjespan Dinsdag en Donderdag. Die volgende week (wanneer gr.4+5 terugkeer) ruil dit weer om sodat alle leerders oor ‘n tweeweeksiklus alle periodes het. Die Oranjespan se gr.4+5’s kom dus tydens hulle eerste week terug Maandag, Woensdag en Vrydag en die Blouspan Dinsdag en Donderdag.

Gr.6 – Maandag, 29 Junie (Blouspan kom Maandag, Woensdag en Vrydag en Oranjespan Dinsdag en Donderdag.)
Gr.4 – Maandag, 6 Julie (Oranjespan kom Maandag, Woensdag en Vrydag en Blouspan Dinsdag en Donderdag.)
Gr.5 – Maandag, 6 Julie (Oranjespan kom Maandag, Woensdag en Vrydag en Blouspan Dinsdag en Donderdag.)
Gr.7 – Vanaf Maandag, 6 Julie, skakel hulle in by die res van die skool. (Oranjespan kom Maandag, Woensdag en Vrydag en Blouspan Dinsdag en Donderdag.)

4. Kleredrag:
Die leerders dra normale winteruniform. Daar is twee uitsonderings: Elke Woensdag is ‘n sivviedag en leerders mag met hul skoolsweetpak skool toe kom op die dag wat hulle LO het.

5. Prosedure vir aankoms in die oggende:
Die dra van ‘n masker, “buff” of “visor” is verpligtend. Geen leerder, besoeker of ouer sal toegang tot die skoolterrein daarsonder kry nie. Die sekuriteitswagte sal altyd ekstra maskers beskikbaar hê indien ‘n leerder sy of haar masker vergeet.

Leerders mag slegs agter afgelaai word en ouers moet asb. dadelik die skoolterrein verlaat. Gr.4+6’e beweeg dadelik na die snoepie se onderdakarea en die gr.5+7’s na die ingang voor juf. Vermeulen/juf. Storm se klas. Daar sal hulle hande ontsmet word, temperatuur gemeet word en die vyf belangrike vrae aan hulle gevra word. Daarna beweeg hulle na hulle registerklasse waar hulle wag totdat die dag begin. Geen leerder mag in gange of op die skoolterrein wag nie.

6. Klasruilings:
Die normale skoolrooster sal gevolg word. Indien die leerarea dit toelaat, bly die leerders in hulle registerklasse en die onderwysers beweeg rond. Leerders se banke en hande word telkens ontsmet as hulle die klas binnekom en verlaat.

7. Pouses:
Die speelareas vir gr.4-7 bly dieselfde. Onderwysers doen diens om seker te maak leerders gehoorsaam die reëls. Die klimrame en swaaie mag nie gebruik word nie. Indien dit reën, bly leerders in hulle klasse.

8. Prosedure vir wanneer die skool uitkom:
Leerders moet dadelik na hulle ouers se motor beweeg. Die terreinpersoneel sal aanwysings gee waar ouers kan parkeer. Ouers moet asb. in hul motors wag.

9. Akademie:

9.1 Hersiening:
Die onderwysers sal seker maak dat leerders alle belangrike konsepte onder die knie het wat tydens inperking behandel is. Ons sal met kwartaal 3 se werk begin sodra ons hierdie punt bereik aangesien volgende kwartaal ‘n kort kwartaal gaan wees.

9.2 Formele Assesserings:
Slegs die gr.7’s het reeds ‘n aanduiding watter formele assesserings hulle moet aflê. Ons sal julle deurentyd op hoogte hou en die leerders sal betyds in kennis gestel word indien daar ‘n assessering gedoen sal word.

9.3 Leerders wat afwesig is:
Alle materiaal sal steeds op Google Classroom gelaai word ter wille van leerders wat afwesig is. Dit sal egter nie so volledig kan geskied nie en die onderwysers sal eers na skoolure beskikbaar wees.

9.4 Dae wat leerders nie skool toe kom nie:
Op die dae wat leerders tuis bly, moet hulle fokus op die voltooiing van werk, vaslegging en voorbereiding vir die volgende dag en ‘n moontlike toetsweek.

10. Nasorg:
Nasorg gaan normaal voort. Stel asb. die finansiële kantoor in kennis indien julle nie meer van die diens gebruik gaan maak nie.

Wees verseker dat hierdie pandemie nie ons akademiese standaard of ons skoolkultuur sal laat wankel nie. Ons sal alles in ons vermoë doen om steeds uitnemendheid te verseker.

Dankie vir julle volgehoue ondersteuning!

Vriendelike groete,
Lucia de Jager
DEPARTEMENTSHOOF: INTERSENFASE