Die beleid verduidelik hoe die leierskap van Laerskool Jan van Riebeeck sal reageer indien ons bewus word van enigeen in ons skoolgemeenskap (personeel, leerders, ouers/voogde) wat in aanraking kom met die virus in verskillende scenarios. Die beleid sal voortdurend aangepas word om te strook met die bepalings van die WKOD en ander relevante wetgewing. Dit word van alle lede van ons skoolgemeenskap verwag om nie die skool te betree indien hulle nie gesond voel nie en nasionale kwarantynriglyne te volg indien hulle infeksie vermoed.

1. DEFINISIES
1.1 “direkte aanraking” beteken onbeskermde kontak byvoorbeeld ‘n handdruk of omhelsing
1.2 “terloopse aanraking” beteken teenwoordig wees in ‘n vertrek met die positiewe persoon
1.3 “noue aanraking” beteken persone wat ‘n tuiste deel

2. STAPPE
Die volgende stappe moet gevolg word wanneer personeel, leerders of besoekers positief toets, of in aanraking was met iemand wat positief getoets is.

2.1 Stappe wanneer ʼn leerder positief toets vir Covid-19
2.1.1 Die skoolhoof moet onmiddellik die bevestigde geval by die kringbestuurder/distriksdirekteur aanmeld, asook bevestig:
2.1.1.1 wanneer die leerder by die skool was vir die laaste keer;
2.1.1.2 met wie die leerder in direkte aanraking was; en
2.1.1.3 met wie die leerder in noue aanraking was.
2.1.2 Die skoolhoof en distriksamptenare sal die geval assesseer en die distriksamptenare sal die stappe wat gedoen moet word bevestig aan die skool.
2.1.3 Die Departement van Gesondheid is verantwoordelik vir die identifisering van mense met wie die leerder in aanraking was en sal die WKOD adviseer oor enige verdere stappe wat geneem moet word of voorsorgmaatreëls wat getref moet word.
2.1.4 In die meeste gevalle sal dit nie nodig wees om die skool te sluit nie weens streng sanitasie-prosedures. NEEM KENNIS, slegs die Hoof van die Departement van Onderwys kan die besluit oor sluiting van ʼn opvoedkundige instansie neem. Die Hoof van die Departement sal deur die distrik ingelig word en sal optree volgens die raad van die Departement van Gesondheid.

2.2 Stappe wanneer ʼn leerder aan ʼn moontlike geval van COVID-19 blootgestel was
2.2.1 As ʼn leerder in direkte of terloopse aanraking met ʼn moontlike geval was, is geen beperkings of spesiale beheermaatreëls nodig terwyl daar gewag word op laboratoriumuitslae vir COVID-19 bevestiging nie.
2.2.2 Dit is nie nodig om die skool te sluit of ander leerders of personeel huis toe te stuur nie.
2.2.3 Die skool moet voortgaan om aan alle COVID-19 vereistes te voldoen.
2.2.4 Personeellede hoef geen stappe te neem voordat die uitkoms van die toetsuitslae nie bekend is nie.

2.3 Stappe wanneer ʼn leerder blootgestel is aan ʼn bevestigde geval van COVID-19
2.3.1 Enigiemand wat in noue aanraking met ʼn bevestigde geval van COVID-19 was, moet geïdentifiseer word en versoek word om vir 14 dae tuis te bly vanaf die datum van blootstelling om vir simptome te monitor. Die leerder mag nie skool bywoon nie.
2.3.2 Indien die leerder wat in noue aanraking was enige simptome toon terwyl hulle by die huis is, kan die Wes-Kaapse Regering of die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes se kitslynnommers geskakel word vir mediese hulp en verdere toetsing.
2.3.3 Leerders wat nie in noue of direkte aanraking van ʼn bevestigde geval was nie, moet skool bywoon.
2.3.4 Leerders wat in aanraking was met ʼn bevestigde geval wat reeds gesond is, moet skool bywoon.

2.4 Stappe wanneer ʼn personeellid positief toets vir COVID- 19
2.4.1 Die personeellid wat positief toets moet om siekverlof aansoek doen en tuis bly.
2.4.2 Alle personeellede en leerders wat in noue of direkte aanraking met die personeellid wat positief getoets het was, moet vir ‘n periode van 14 dae in selfafsondering gaan sedert die laaste aanraking met daardie positiewe persoon. Gevalle van terloopse aanraking, woon steeds skool by.
2.4.3 Alle personeellede wat in selfafsondering moet gaan, moet ook om spesiale verlof aansoek doen.
2.4.4 Daar moet ʼn lys van sodanige personeellede gehou word en daardie lys moet by die betrokke distrikskantoor ingedien word.
2.4.5 Die distrikskantoor moet skriftelike bewyse hou en dit by Hoofkantoor se Menslikehulpbronne-afdeling indien.
2.4.6 Die reiniging/ontsmetting van die besmette gebied moet verrig word soos voorgeskryf en in terme van die skool se Covid-beleid.
2.4.7 Die gesondheid van die personeellid sal aanhou monitor word.

2.5 Stappe wanneer ʼn personeellid in aanraking met ʼn bevestigde geval van COVID-19 was
2.5.1 Alle personeellede wat in noue aanraking met die personeellid was wat positief getoets het, moet tuis bly in selfafsondering vir ʼn maksimum van 14 dae vanaf die laaste aanraking.
2.5.2 Personeellede wat hulself moet afsonder, moet om spesiale verlof aansoek doen en kan terugkeer sodra hul toets negatief was.
2.5.3 Die skoolhoof moet toesien dat die werksgebied van personeel in afsondering deeglik gereinig word.
2.5.4 Daar moet in aanraking gebly word met sodanige personeellid om hulle te monitor en evalueer.
2.5.5 Die name van die personeellede moet aangeteken word by die skool en ʼn afskrif moet by die distrikskantoor ingedien word.
2.5.6 Die distrikskantoor moet hierdie inligting by Hoofkantoor indien.