Beste Ouer(s)/Voog(de)

Al die onderwysers is dit eens dat ons veel eerder ons leerders in die oë sal wil kyk in plaas van afstand-onderrig toepas. Tog het ons die beste gemaak van ‘n vreemde situasie en ons glo dat ons op die regte pad is. Ons wil jul graag gerus stel indien jul bekommerd is oor jul kind se akademiese vordering. Ons bekwame span sal hard daaraan werk om agterstande te oorbrug, sodra ons terug is by die skool. Solank jou kind elke dag lees en skryf (albei tale) en byhou by sy/haar Wiskunde, kan die res maklik opgevang word. Ons kry daagliks versoeke en voorstelle en maak steeds aanpassings waar nodig.

Ons lys graag die uitdagings wat ons oorkom het:

  • Huishoudings sonder ‘n geskikte toestel kon tydens die vakansieweek ‘n Chrome Book by die skool kom uitneem. Die Grondslagfaseleerders se ouers kon ook daardie dag die gepaste leermateriaal, om in die plek van handboeke te gebruik kom afhaal en dit is ook elektronies beskikbaar.
  • Voorsiening is gemaak om behoeftige leerders met data te voorsien.
  • Ons knap IT-span het 99% van ons kinders op Google Classroom gekry. Die res word deur Whatsapp of e-pos bereik.
  • Die grondslag- en seniorfase het inderhaas ‘n volhoubare program geskep. Terwyl daar gestreef word na eenvormigheid, word ontwikkelingsfases in ag geneem.
  • Die onderwysers het binne ‘n rekordtyd hul IT-vaardighede opgeskerp en werk hard daaraan om dit daagliks te verbeter om sodoende ouers se las ligter te maak. Ons neem in ag dat sommige ouers steeds werk. In sommige gesinne werk albei ouers wat dit sekerlik nie maklik kan maak nie!
  • Ons poog om meer van Google Forms en Quizzes gebruik te maak sodat die beheer beter is.
  • Ons streef daarna om die hoeveelheid werk billik te hou, maar glo dat leerders steeds uitgedaag en gestimuleer moet word.
  • Al die onderwysers is beskikbaar om ouers en leerders by te staan waar nodig.

Te midde van al die onsekerheid is julle kinders in goeie hande en streef ons steeds na uitnemendheid. Ons is bewus van voorstelle wanneer die skole weer gaan heropen en dat al die grade moontlik nie op dieselfde tyd gaan begin nie. Daar is ook voorstelle dat die vakansies moet verval en die skooldae en tye verleng moet word, maar dit is alles bespiegelinge en niks is nog bevestig nie. Ons hou maar almal die nuus dop en sal met julle kommunikeer sodra ons amptelike inligting ontvang.

Vriendelike groete

Lucia de Jager