Laerskool Jan van Riebeeck Nuus

Liewe Ouers,

Datums

Vrydag, 15 Februarie 2019 Atletiek: Distrik Suid Byeenkoms (Blue Downs Athletics stadium)

Saterdag, 16 Februarie 2019 Tweekamp Liga 7

Dinsdag, 19 Februarie 2019 Krieketwedstryd: O/9 vs. Herzlia Weizmann

Woensdag, 20 Februarie 2019 Krieketwedstryde: O/11

Donderdag, 21 Februarie 2019 Krieketwedstryde: O/13

Donderdag, 21 Februarie 2019 Toets: Gr.4-6 Geskiedenis

Donderdag, 21 Februarie 2019 Konsertdekor vergadering (18:00 in die saal)

Vrydag, 22 Februarie 2019 Toets: Gr.7 EBW

Vrydag, 22 Februarie 2019 Gr.1-3 Swemgala

Vrydag, 22 Februarie 2019 Gr.4 Studiemetodes

Vrydag, 22 Februarie 2019 Gr.4 – 6 Geskiedenis assessering

Vrydag, 22 Februarie 2019 Swemgala: Kampsbaai, WEG

Vrydag, 22 Februarie 2019 Sivvies

Saterdag, 23 Februarie 2019 Dapper Stappers: Beaverlac

Saterdag, 23 Februarie 2019 Atletiek: WP Atletiekbyeenkoms

Saterdag, 23 Februarie 2019 KRIEKET: Mini krieket O/9 A & B WEG (Fanie Theron Primary School, Krige St & Bosman St, Kraaifontein)

Saterdag, 23 Februarie 2019 Skaak: Welgemoed Toernooi, WEG

Woensdag, 27 Februarie 2019 Liewe Aarde: Herwinning sivvies

Woensdag, 27 Februarie 2019 Adri Marais (sekretaresse) verjaar

Woensdag, 27 Februarie 2019 Tweekamp Kampioenskappe

Woensdag, 27 Februarie 2019 Krieketwedstryde: O/11 vs. Camps Bay, TUIS (Jan Van Riebeeck Sportveld, 0A Quarry Hill Rd, Tamboerskloof)

Donderdag, 28 Februarie 2019 Krieketwedstryde: O/13 VS. Camps Bay, TUIS (Jan Van Riebeeck Sportveld, 0A Quarry Hill Rd, Tamboerskloof)

Vrydag, 1 Maart 2019 Gr.4-7 Swemgala

Vrydag, 1 Maart 2019 Tennis: Table View Dubbelstoernooi, WEG

Vrydag, 1 Maart 2019 Skaak: Inter-distrik proewe (Hoërskool Brackenfell High School, Rogland St, Brackenfell)

>> SIEN DIE VOLLEDIGE DAGBOEK <<

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Madiba Inwyding:

Dinsdagoggend was die inwyding van die iMADIBA MIKRO-MUSEUM wat ontwerp is deur Erhardt Thiel. Ons was ook bevoorreg om vir Zelda le Grange, president Nelson Mandela se persoonlike assistent vir 19 jaar, by ons te kon hê. Behalwe bogenoemde twee sprekers het ons eie Susie Samuel, gr. 1-leerder en kleindogter van Antjie Krog, ‘n gedeelte van ‘n gedig wat haar ouma aan Madiba opgedra het, gelees. Tom Moses, wat ook in die tronk was op Robbeneiland en nou verbonde is aan die museum op Robbeneiland, het van sy ervaringe met die leerders gedeel en Cassidy Alexander, 13-jarige leerder van Hoërskool Jan van Riebeeck, het 2 gediggies uit haar eie digbundel voorgelees. Daarna het al die leerders en personeel die volkslied gesing en uitbeweeg waar ons weer die volkslied gesing het en Zelda le Grange die lint geknip en die museum amptelik ge-open is. Die leerders was besonder netjies en goed gedissiplineerd! Dit was regtig ‘n pragtige geleentheid. Kliek HIER om die artikel te lees wat in Die Burger verskyn het.

Water by die Laerskool:

Daar doen stories die ronde dat die water by die wasbakke uit ons boorgat kom, wat onwaar is. Die boorgatwater word slegs gebruik vir al die toilette, swembad en vir die tuine en veld. Die water in die badkamers en gange is munisipale water en 100% drinkbaar.

Stef Bos Konsert:

Baie dankie aan almal wat Woensdagaand Stef Bos se konsert/optrede bygewoon het. Die opkoms was baie goed en dit was ‘n uitstekende konsert… die “singende Belgiese Hollander” was op sy stukke en het die gehoor op hulle voete gehad! Baie, baie dankie Stef… en hy het dit natuurlik gratis gedoen! Al die geld wat ons met hierdie konsert gemaak het, sal vir diversiteitsbeurse aangewend word. Baie dankie ook aan almal wat gehelp het met die organisering, die verkoping en baie dankie ook aan almal wat iets geskenk het.

---

NUUTSTE NUUS

Baie dankie aan die 74% van die ouers wat reeds hul data op MyJvR opdateer het.

Dit is uiters belangrik dat die ander 26% van die ouers, wat nog nie hul data opdateer het nie, dit so gou as moontlik doen. MyJvR word direk aan die skool se nuwe Admin stelsel gekoppel, so die kontakbesonderhede vir ouers wat hierop is, is die enigste manier hoe die skool u kan kontak i.v.m. skoolverwante aangeleenthede.

Ouers wat nog nie hul data opdateer het nie, sal vandag weer ‘n e-pos ontvang met die skakel, u nuwe gebruikersnaam en wagwoord. Die onderwerp van die e-pos is ‘myJVR Besonderhede’. Indien u nie vandag so ‘n e-pos ontvang nie, moet u asb. in u SpamBox kyk. Indien daar nie ‘n e-pos in u SpamBox lê nie, het die skool nie u korrekte e-posadres nie. U moet dan asb. dringend vir Jodene ‘n e-pos stuur by admin@jvrprim.co.za om ‘n regstelling te maak.

Neem asb. kennis dat die musiekkonsert moet skuif. Die saal is nie op 12 Maart beskikbaar nie. Die konsert sal nou as volg plaasvind:

Woensdag 13 Maart om 08:15 – Gr.2

Woensdag 13 Maart om 09:15 – Gr.3

Ons gaan hierdie jaar aan die Welgemoed Skaaktoernooi deel neem. Indien u kind belangstel om deel te neem, volg die SKAKEL en voltooi die vorm. Deelnemers moet asb hul skoolklere vir die kompetisie aantrek. Inskrywings word direk op Welgemoed se vorm voltooi, julle moet asb. self die vorms voltooi met alle nodige inligting. Ons het ‘n ooreenkoms met Welgemoed aangegaan dat die skool die inskrywingsfooi van R80 per speler sal betaal. Neem asb. kennis dat die inskrywings 21 Januarie sluit. Indien jou seun/dogter ‘n atleet is wat gewoonlik baie goed doen, neem kennis dat die WP Atletiekkampioenskappe ook daardie naweek plaasvind. Moet hom/haar asb. dan nie vir die skaak inskryf nie. Kliek HIER vir die uitnodiging.

Dit is vir ons heerlik om te kan sê dat ons uitgenooi is om hierdie jaar deel te neem by die SA-Tweekampbyeenkoms in Port Elizabeth op 29 – 30 Maart. Ons atlete het fantasties presteer in Oudtshoorn en as gevolg daarvan het hulle ons skolespan uitgenooi.

Baie geluk aan die volgende atlete wat ons gaan verteenwoordig: Mia Nortjé, Isabella van der Walt, Mari Swanepoel, Stef Mostert, John Willcox, Cara Swanepoel, Sophia Liebenberg, Alexander Benecke, Lourens van der Walt en Ruald Naudé. Welgedaan ,julle maak ons trots!

Ons gaan weer die swemgalas oor 2 dae hou. Die spasie rondom die swembad raak beperk en dis beter vir almal se veiligheid as ons ‘n junior en senior gala hou. Ons wil graag ‘n paar algemene reëlings vir die dag aan u oordra:

1. Ons gaan MASSA DEELNAME aanmoedig. Dit beteken dat daar nie voor die tyd enige inskrywings gaan plaasvind nie. Leerders neem op die dag aan die items van hul keuse deel. Dit beteken dat hulle mooi sal moet luister wanneer ‘n item aangekondig / uitgeroep word.

2. Alle swemmers MOET ‘n swempet dra. Indien hulle nie ‘n swempet het nie, gaan hulle nie mag deelneem nie.

3. Vryslag, borslag, vlinderslag en individuele wisselslag begin met ‘n duikslag in die swembad. Rugslag begin in die swembad.

4. Aan die einde van ‘n wedloop moet swemmers in die swembad bly totdat die afsitter die teken (‘n blaas van die fluitjie) gee dat hulle mag uitklim.

5. Vir borsslag en vlinderslag moet swemmers aan die einde van die wedloop met beide hande raak.

6. Volgorde vir individuele wisselslag: 1. Vlinderslag, 2. Rugslag, 3. Borsslag, 4. Vryslag

7. Volgorde vir wisselslag AFLOS: 1. Rugslag, 2. Borsslag, 3. Vlinderslag, 4. Vryslag (Vir die O/9 wisselslag AFLOS gaan ons die vlinderslag met Vryslag vervang)

8. GEEN kos en koeldrank by die swembad nie, slegs water in plastiekbottels word toegelaat.

9. Ouers is welkom om die galas by te woon.

10. Sien die onderskeie galas se itemlys vir die program. Ons gaan nie ‘n tyd aan die items koppel nie, want ons weet nie hoeveel leerders aan elke item gaan deelneem nie.

11. Die OPE afdeling is slegs vir Gr.7 leerders.

Indien daar enige ouers is wat ons kan help om tyd te hou, moet hulle asseblief hul naam vir Razelle Hanekom stuur by sport@jvrprim.co.za.

PROGRAMME

Die nuwe verlore goedere stelsel is goed op dreef en ‘n hele paar items het die pad terug na hul eienaars gevind. Daar is egter nog baie onopgeëisde items, so gaan loer asseblief op die SKAKEL of daar iets is wat bekend lyk. Die skakel is ook op die tuisblad van die skool se webtuiste beskikbaar.

Daar is hope kosblikke, waterbottels, sivvies en swemhanddoeke wat op hierdie lys verskyn! En skoolklere…. Ai, ons Jannies sukkel maar om hulle goed op te pas.

Die verlore goedere-prosedure werk as volg:

• Gemerkte items word deur graad sesse op Woensdae en Donderdae oggende aan hul eienaars terugbesorg.

• Alle ongemerkte items word genommer, gelys en nie-skoolklere items word afgeneem en op ‘n Google Sheet opdateer.

• Items wat op hierdie lys opgeëis word, word gemerk en aan die leerders terugbesorg Woensdae en Donderdae oggende.

• Items wat na vier weke steeds op die lys verskyn, word heraangewend en kan ongelukkig nie meer opgeëis word nie.

Alles in die regterkantse verloregoedere- kas is op die Google Sheet te sien. Moet asseblief onder geen omstandighede in die kas krap nie. As daar iets in die kas is wat jy dringend in die hande moet kry, stuur gerus ‘n e-pos na verloregoedere@jvrprim.co.za en ons maak ‘n plan om dit aan die leerder te besorg.

---

VERDERE NUUS

ALGEMEEN

Liewe Aarde wil spesiale melding maak van Isabella Pretorius en haar ‘Green team’ wat Donderdae middae De Waal park se rommel optel. Isabella is ‘n Graad 5 leerder in ons skool en reël alles self. Sy het ‘n spannetjie bymekaar gemaak wat haar help en kom self rekenaarlokaal toe om advertensies vir “The Green team” te skep en boodskappe uit te stuur. Liewe Aarde gee hierdie week vir haar ‘n lap inkopiesak om baie geluk te sê met die oulike inisiatief.

Die span kom weer op 21 Februarie om 16:30 in De Waal park bymekaar. Ons hoop meer Jannies sal op Donderdae kom help of dalk met soortgelyke planne begin!

Ouers moet aanvaar dat selfone en ander sosiale netwerke permanent deel is van hul kinders se lewe. Dalk is jou kind en tegnologie reeds onafskeidbaar. Ongelukkig stel dit jou kind bloot aan kuberboelie (“cyberbullying”). Kuberboelie is om deur die kuberruimte herhalend en opsetlik leed aan ‘n ander te doen. In die kuberruimte kan die jong adolessent as’t ware in enige iemand verander. Nie-verbaal kan daar nou ontoepaslike opmerkings gemaak word wat andersins nooit gesê sou word nie. Daar is ook geen direkte straf of gevolge nie.

Wat ‘n mens baie duidelik aan jou kind moet kommunikeer, is dat hierdie tipe kommunikasie byna onmoontlik is om “uit te vee” as dit reeds gestuur is. Enige persoon kan dit nou aflaai en stoor. ‘n Handige toepassing (“app”) om te gebruik, is Google se “Family Link”. Dit help ouers om sekere digitale reëls vir kinders onder die ouderdom van 13 neer te lê. Daardeur kan jy jou kind lei om verantwoordelik die kuberruimte te verken.

Marike Badenhorst

Opvoedkundige Sielkundige

iMadiba mikro-museum

Ek is ‘n oud-Jan van Riebeecker en al vir baie jare ‘n onderwyseres by ons skool. My hart wou bars van trots op jul goeie gedrag tydens hierdie geleentheid. Almal so stroopsoet. Almal so netjies. Almal so ordentlik met mooi Jan van Riebeeck maniere. Wees altyd trots om ‘n Jan van Riebeecker te wees! Julle is die BESTE! Simply the best!



Met Jan van Ribeeck-liefde

Juffrou Vicky Taljaardt

AKADEMIE

My kind sukkel met Wiskunde! Help my! Ek haat Wiskunde! My kind het ‘n passie vir Wiskunde en ek voel hy/sy moet gestimuleer word! Hierdie is maar ‘n paar opmerkings wat ek al gehoor het. Nou hoe nou?

Gelukkig het elke probleem ‘n oplossing, anders was dit mos nie ‘n probleem nie? Daar is ‘n aanlyn program wat Wiskunde vir leerders lekker maak. Waar basiese hoofreken op ‘n baie kreatiewe manier gestimuleer word. Die program het ontstaan in Australië, maar is nou aangepas vir die Suid-Afrikaanse kurrikulum vanaf Gr.R tot Gr.12. Die leerders doen dit by die huis of hulle kan dit in die middae by ons rekenaarlokaal doen. Die rekenaarlokaal is oop elke middag tot 15:00, behalwe op Donderdae (Edro gebruik dan die lokaal).

Daar is heelwat bekende skole wat reeds van hierdie program gebruikmaak as deel van hulle program om hulle wiskunde uitslae te verbeter. Gaan kyk gerus op die webtuiste.

Mathletics is R300 per leerder per jaar. Indien jy belangstel, betaal asb. die geld in die skool se rekening en gebruik jou kind se naam en graad as verwysing, bv: Pieter 7D. Stuur asb. bewyse van betaling na leon@jvrprim.co.za.

Dankie aan almal wat reeds die bewyse van betaling vir my gestuur het. Alle registrasies sal oor die naweek geskied en leerders sal vanaf Maandag toegang hê om die program te gebruik.

Wiskunde- groete,

Mnr. Hanekom

---

KULTUUR

‘n Spesiale dankie aan die volgende Gr.6 leerders wat gehelp het met die Madiba portrette :

Nina Houlihan

Emma Bartel

Anja Liebenberg

Klara von Lieres

Lauren Mwanza

SPORT

Ons O/9 A en B spanne het Vrydagaand, 8 Februarie, aan die Hugo Rust Mini-Kriekettoernooi, wat op Boland Landbouskool se velde plaasgevind het, deelgeneem. Die middag is deur 22 verskillende skole bygewoon. Elke span het 2 wedstryde gespeel. Ons het vir beide spanne sterk opponente gehad, maar dit het ons nie afgeskrik nie. Die O/9 A span het ‘n telling van 35 lopies teenoor 29 van Hugo Rust aangeteken, en die span geklop. Die tweede wedstryde het ons teen Worcester Primêr verloor met 11 teenoor ons 8 lopies. Die B span het ‘n beter middag gehad en het beide hul wedstryde gewen. Hulle het 38 lopies teen Courtrai se 14 aangeteken en 30 – 11 met Gericke afgereken. John Gillmer is in die derde rondte as speler van die wedstryd geïdentifiseer en het ‘n KFC geskenkbewys ontvang. Ons is baie trots op al ons manne en dame! Baie dankie aan al die ouers en familielede wat die middag / aand vir ons kom ondersteun het.

Die O/13-krieketspan het die week teen Seepunt gespeel en met 68 lopies gewen. Ons het die loot gewen en eerste gekolf. Al die seuns, en meisie, Lisa Best, het bygedra tot die oorwinning. Peet Karsten, Jordan Thomas en Ruben Janse van Rensburg het 15 lopies elk bygedra tot die totaal. Thornley Webber was ons top kolwer met 34 lopies. Hy het 7 viere geslaan om ons voorsprong te vergroot. Dit was nou ons beurt met die bal in die hand. Ruben het ‘n briljante eenhandige vangskoot van sy eie boulwerk gevat om die veldwerk af te skop. Hy het geëindig met uitstekende statistieke, 3 paaltjies vir net 3 lopies. Bernard Lombaard, Armand Meyer, Jordan Thomas en Christian Boshoff het almal met een paaltjie bygedra. Die speler van die wedstryd was Thornley Webber, wat uitstekend met die bal en kolf bygedra het, 3 paaltjies vir slegs 7 lopies!!Welgedaan 0/13 en juf Melissa Smook.

Ons Gemengde A en B spanne het Woensdag, 13 Februarie, onderskeidelik teen Monte Vista en Curro Century City wedstryde gespeel. Die Gemengde A span (Jacomien van der Westhuizen, Marcel Eygenberger, Daniel van Reenen en Lukas Wasserman) het 4-2 teen Monte Vista gewen. Die Gemengde B span (Leila Lonte, Neena Lonte, Darren Cloete en Daniel van Dyk) het teen Curro Century City 6 – 1 gewen. Baie geluk julle!

---

Kliek HIER vir advertensies van die week

“Education is the most powerful weapon which you can use to change the world.”

-Nelson Mandela

Vriendelike groete

J.H. Oosthuizen

SKOOLHOOF

Laerskool Jan van Riebeeck
Kloofstraat 52, Tuine, Kaapstad, 8001
021 423 4209