Ons Wuppertal uitreikprojek se opkoms het ons asems behoorlik weggeslaan. Laerskool Jan van Riebeeck se leerders en families, sowel as Huppelland en selfs ‘n ouetehuis, Panorama Palms, het ingespring om items te versamel vir die gemeenskap wat in sak en as gedompel is. Ons mikpunt was om ‘n vragmotor vol liefde en goedere na Wuppertal te stuur en ons het dit bereik! Ons kon op 6 Februarie 2019, ‘n “container” propvol klere, meubels, kos en skoonmaakmiddels laai en stuur na die klein dorpie wat dit tans so nodig het. Ons wil net opreg dankie sê vir elke persoon wat ‘n bydrae gemaak het, die terreinpersoneel wat so flink gehelp het met die verpakking van die goedere en dan ‘n spesiale dankie aan Gerhard Conradie wat vir ons die vragmotor en “container” verskaf het.

Jan van Riebeeck het hande gevat en saam ‘n reuse verskil gemaak. Hou Die Burger dop vir ‘n berig oor die projek, asook Media 24 se webtuiste vir ‘n kort onderhoud.