Laerskool Jan van Riebeeck Nuus

Liewe Ouers,

Datums

Saterdag, 2 Februarie 2019 Tweekamp: Interprovinsiaal (Oudtshoorn, South Africa)

Saterdag, 2 Februarie 2019 Seniorkooroefening 09:00 – 13:00

Saterdag, 2 Februarie 2019 Skaak: Distrik sentraal proewe

Sondag, 3 Februarie 2019 Marili Thompson (Finansies) verjaar

Woensdag, 6 Februarie 2019 Krieketwedstryde: O/11 vs. Sea Point, TUIS (Jan Van Riebeeck Sportveld, 0A Quarry Hill Rd, Tamboerskloof)

Donderdag, 7 Februarie 2019 Krieketwedstryde: O/13 vs. Sea Point, TUIS (Jan Van Riebeeck Sportveld, 0A Quarry Hill Rd, Tamboerskloof)

Donderdag, 7 Februarie 2019 Toets: Gr.5 NWT

Vrydag, 8 Februarie 2019 Klasbraai

Vrydag, 8 Februarie 2019 Gr.5 Studiemetodes

Vrydag, 8 Februarie 2019 Toets: Gr.4 & 6 NWT

Vrydag, 8 Februarie 2019 Krieket: Hugo Rust Mini-Toernooi, WEG

Vrydag, 8 Februarie 2019 Toets: Gr.7 NW

Dinsdag, 12 Februarie 2019 Thembela Swartbooi (Terrein) verjaar

Dinsdag, 12 Februarie 2019 Gr.4-6 Aardrykskunde assessering

Woensdag, 13 Februarie 2019 Gr.5-kamp

Woensdag, 13 Februarie 2019 Stef Bos se Valentynskonsert

Donderdag, 13 Februarie 2019 Gr.5-kamp

Donderdag, 14 Februarie 2019 Krieketwedstryde: O/13 BYE

Donderdag, 14 Februarie 2019 Toets: Gr.7 Tegnologie

Donderdag, 14 Februarie 2019 Gr.4-6 Aardrykskunde assessering

>> SIEN DIE VOLLEDIGE DAGBOEK <<

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Ons poog om hierdie jaar die leerders van Laerskool Jan van Riebeeck te verryk deur blootstelling aan ‘n verskeidenheid Kapenaars wat sukses op een op ander manier behaal het, te gee. Ons wil spog met die Mense van Kaapstad en ons leerders inspireer en motiveer om hulself te wees en om sukses op hul eie manier te behaal deur te fokus op die proses eerder as ‘n spesifieke eindproduk. Hierdie sprekers sal regdeur die jaar tydens saalbyeenkomste optree.

Ons is trots om Kapenaars genoem te word, om deel te wees van ‘n diverse gemeenskap en daarom dat ons besluit het om hierdie jaar klem op isiXhosa te plaas. Ons sal weekliks nuwe woorde aan leerders en ouers op ‘n verskeidenheid maniere bekend maak. Ons vertel in ‘n volgende nuusbrief meer hieroor.

Ons herinner alle ouers aan ons klasbraai wat volgende Vrydagaand vanaf 18:30 op die Conradieveld sal plaasvind. Die skool sal sorg dat daar genoeg braaidromme en hout vir elke klas sal wees, maar al die ander dinge moet julle asseblief self saambring. Jy moet dus self ‘n rooster, ‘n lamp, glase, eetgerei, stoele, komberse, drink- en eetgoed, ensovoorts saambring. Ek is seker daar sal genoeg braaiers, helpers en skinkers wees vir al die enkelouers, maar veral vir die enkel ma’s… so jy hoef regtig nie die geleentheid mis te loop omdat jy nie kan braai nie! Ons hoop om almal daar te sien.

---

NUUTSTE NUUS

Net ‘n herinnering dat die Seniorkoor op Saterdag, 2 Februarie, ‘n kooroefening van 9:00 – 12:30 het. Bring jul eie kospakkies en drinkgoed saam vir die oggend. Niemand mag die skoolgronde verlaat om iets te gaan koop nie.

Onthou asb. die volgende:

1) Gemerkte verlore items word terugbesorg in die eienaar se hand! Die graad sesse behartig hierdie reuse taak.

2) Ongemerkte items word in die wit kas skuins oorkant die biblioteek geplaas. Moet asb. nie in hierdie kas grawe vir gemerkte items nie! Dit is ‘n reuse taak om hierdie kas netjies te hou.

‘n Groep onderwysers nooi al die Jannies uit om deel te wees van ons splinternuwe klub: “Jannies vir Jesus”. Ons gaan begin deur elke Donderdagoggend van 07:00 af saam te sing in die saal. Belangstellendes is welkom om aan te sluit sodra hulle by die skool arriveer. Enige ouer wat betrokke wil raak, kan vir juf. Lucia de Jager ‘n e-pos stuur: (lucia@jvrprim.co.za)

Ons hou in Maart weer vakansie. Vir ouers wat belang sou stel in vakansiesorg, vul asb. die vorm en vrywaring in en bring dit terug Nasorg toe. Sien die BRIEF vir meer inligting.

Ons wil vir die volgende leerders baie sterkte toewens vir die skaakproewe wat hierdie naweek by Laerskool Surrey gaan plaasvind: Keegan Schoeman, Melandi Du Plooy, Heino Du Plooy, Liezel Snijders, Emma Snijders, Peet Karsten, Jan Karsten, Bernard Lombaard, Louis Bosman en Petrus Bosman.

Eerskomende naweek neem 18 van ons atlete deel aan die Interprovinsiale tweekampkompetisie in Oudtshoorn. Dit sluit in WP, Grens, Boland en SWD. Hierdie altete neem nie net vir hulle self deel nie, maar ook vir Jan van Riebeeck in die skolekompetisie. Ons is een van die drie top skole in die WP wat gekwalifiseer het om deel te neem aan die kompetisie, saam met Laerskool Kenridge en Durbanville.

Die atlete wat ons gaan verteenwoordig is:

Ané Swanepoel, Isabella Marais, Delmar Benecke, Adriaan Wessels, Ruald Naudé, Sophia Liebenberg, Cara Swanepoel, Alexander Benecke, Albert Griesel, Lourens van der Walt, Mia Nortjé, Isabella van der Walt, Kian Eksteen, Christiaan Viljoen, Mari Swanepoel, Stephan Griesel, John Willcox en Stef Mostert.

Ons wens vir elke atleet alle sterkte toe en ons kan nie wag om te hoor hoe dit gegaan het nie. ‘n Groot dankie aan mnr. en juf. Hanekom wat hulle sal vergesel en aanmoedig!

Ons wil ‘n vriendelike versoek op alle leerders doen wat aan buitemuurse aktiwiteite deelneem om asb. ‘n hoed te dra en ‘n waterbottel saam te bring. Daar was alreeds middae wat die temperatuur naby aan 40°C gedraai het. Kom ons beskerm ons kinders teen die nagevolge van die son. U samewerking in die verband sal baie waardeer word.

---

Verdere nuus

AKADEMIE

Vanjaar mik ons dat alle Jannies (en ouers wat wil) 100 isiXhosa woorde leer! Hier is die week se woorde:

Woord van die week nr.76: versot

Definisie: om baie van iets te hou

Sin: My broer is ‘n regte boekwurm. Hy is versot op lees.

Wenner: Elle Nortje (Gr.5S)

My kind sukkel met Wiskunde! Help my! Ek haat Wiskunde! My kind het ‘n passie vir Wiskunde en ek voel hy/sy moet gestimuleer word! Hierdie is maar ‘n paar opmerkings wat ek al gehoor het. Nou hoe nou?

Gelukkig het elke probleem ‘n oplossing, anders was dit mos nie ‘n probleem nie? Daar is ‘n aanlyn program wat Wiskunde vir leerders lekker maak. Basiese hoofreken op ‘n baie kreatiewe manier gestimuleer. Die program het ontstaan in Australië, maar is nou aangepas vir die Suid-Afrikaanse kurrikulum vanaf Gr. R tot Gr. 12. Die leerders doen dit by die huis of hulle kan dit in die middae by ons rekenaarlokaal doen. Die rekenaarlokaal is elke middag tot 15:00 oop, behalwe op ‘n Donderdag.

Daar is heelwat bekende skole wat reeds van hierdie program gebruik maak as deel van hulle program om hulle wiskundige uitslae te verbeter. Gaan kyk op die tuiste.

Mathletics raak goedkoper as daar meer leerders registreer. Die normale tarief is R695 per jaar. Hier is die afslag pryse, afhangende van hoeveel leerders belangstel:

11-39 leerders: R375

40-79 leerders: R300

80-199 leerders: R250

200-599 leerders: R200

Indien jy sou belangstel om die jaar deel te wees van die Mathletics-program, stuur ‘n e-pos na leon@jvrprim.co.za. Sodra ons die getalle het van alle leerders, kan ek aandui hoeveel dit per leerder gaan kos.

Dankie vir almal wat reeds laat weet het. Die finale getalle, kostes en alle instruksies sal volgende week in die nuusbrief verskyn.

Wiskunde groete,

Mnr. Hanekom

---

ALGEMEEN

Baie geluk aan Elisabet Gr.1 en Isabella Marais Gr.2 wat Jannies van die week is. Dankie dat julle so gereeld herwin by ons depot. Geniet julle R100 geskenkbewys by Col’Cacchios!

Onthou – almal wat by ons skool herwin kan op die laaste Woensdag van elke maand verniet sivvies dra – die eerste Herwinnings sivvies van vanjaar is op 30 Januarie.

Naam en van: Ludwig Smit



Graad:
4F

Waar bly jy?: Mowbray

Gunsteling vak(ke): Wiskunde, Aardrykskunde en Geskiedenis

Ek is ‘n trotse Jannie, want ek hou van skool en fietsry en ek speel graag met my antieke elektriese modeltreine.

Hoërskool Jan van Riebeeck het hierdie jaar vyf graad 8-verteenwoordigers op die VRL en hulle het reeds saam met die res van die leiers hulle opleiding ontvang. Johann Jordaan, Simon van den Berg, Adam Liebenberg, Adriaan Huysamen en Timoné Joubert verskyn hier saam met die skoolhoof, mnr. André Franken.Drie van hulle is ons oud-leerders !!

The Green Team se eerste uitstappie was ‘n reuse sukses! Baie dankie aan al die Jannies wat kom rommel optel het in De Waal Park! Ons maak volgende Donderdag om 16:30 weer so.

---

KULTUUR

Kom kuier saam op 13 Februarie 2019 vir ‘n aand saam met Stef Bos. Die unieke, geliefde en energieke sanger tree op by Laerskool Jan van Riebeeck in Kaapstad. Die konsert is ten bate van beurse vir diversiteitsontwikkeling by dié skool.

Dié Hollander wat ook sy hart vir Kaapstad gegee het, is bekend vir sy sang-vertolking, maar ook vir sy betekenisvolle lirieke. Sy konserte is gewoonlik ‘n versameling lekker en roerende liedjies in Afrikaans en Hollands – met ‘n storie op die regte tyd. Die konsert begin om 19:00. Besprekings kan gemaak word op Quicket.

SPORT

Die O/11’s het Woensdag, 13 Februarie, tuis teen Kronendal gespeel. Kronendal het besluit om eerste veldwerk te doen. Ons teken 62 aan in 15 boulbeurte met Alexander Benecke wat die meeste lopies (9) aangeteken het. Kronendal verbeter die lopies binne 12 boulbeurte. Ons beste bouler was Jan Karsten met syfers van 3 beurte, 3 paaltjies en 5 lopies. Ongelukkig verloor ons die wedstryd met 5 paaltjies, maar soos hulle sê “onwards and upwards”.

Die Jan van Riebeeck O13-krieketspan het Kronendal in hul eerste krieketwedstryd van die 2019-seisoen met 5 paaltjies gewen. Ons seuns het eerste geboul en almal het op die veld bygedra. Thornely was ons voorste paaltjiewagter, met 4 paaltjies vir net 4 lopies, gevolg deur Bernard, wat 2 vir 2 geneem het. Beide boulers was op ‘n “hat-trick” gewees! Jordan het met ‘n briljante vangskoot die veldwerk afgehandel en Kronendal is vir net 25 lopies uitgeboul. Hierdie lae totaal was nie maklik om te jaag nie en ons het ‘n paar vroeë paaltjies verloor. Jordan en Bernard het gelukkig die skip op koers gehou en ‘n oorwinning in die sewende boulbeurt verseker. Jordan het boonop 11 nie uit nie, behaal.Welgedaan manne, met ‘n uitstekende eerste wedstryd!

Ons wag nog om die finale uitslae van Saterdag se byeenkoms te ontvang, maar dit het Saterdag baie goed gegaan met ons atlete. Baie dankie vir al die ouers se ondersteuning. Die voorbereiding van ons atlete vir hierdie byeenkoms het reeds in 2018 begin met die Kleureatletiek. Ons skool se atlete het Saterdag duidelik bo die ander skole se atlete uitgestaan wat vaardighede en ontwikkeling betref, hiervoor kan ons baie dankie sê aan al ons atletiekafrigters vir hul deeglike voorbereiding en beplanning. Die atlete wat deurdring na die volgende rondte neem weer op 15 Februarie in Bluedowns aan die Distrik Sentraal se byeenkoms deel.

Ons seuns en dogters A- spanne het gister al die pad Brackenfell toe gegaan om teen Laerskool Bastion se Seuns O/13 B en Dogters O/13 A spanne te speel. Bastion het al 1900 leerders en het ons met oop hande en harte verwelkom. Dit was ‘n tawwe stryd vir ons dogters en hulle het ongelukkig verloor. Die Seuns het nie teruggestaan nie en het ‘n oorwinning van 6-0 gehad. Ons Dogterspan het bestaan uit Leila Lonte, Mia Symington, Jacomien van der Westhuizen en Heloïse Strauss. Die Seunspan was Alexander Newton, Marcel Eygenberger, Danny Newton en Daniel van Reenen. Ons sien baie uit na hierdie seisoen!

---

Kliek HIER vir advertensies van die week

“When you reach the end of your rope, tie a knot in it and hang on.”

-Thomas Jefferson

Vriendelike groete

J.H. Oosthuizen

SKOOLHOOF

Laerskool Jan van Riebeeck
Kloofstraat 52, Tuine, Kaapstad, 8001
021 423 4209