Vandag presies 25 jaar gelede was die wêreld in skok gedompel met die grusame aanvalle van 11 September waar duisende onskuldige mense gesterf het. In die volksmond staan dit nog vandag as 9/11 bekend. Ek weet dat daar heelwat samesweringsteorieë oor die voorval nog steeds die rondte doen, maar dit was ‘n gekoördineerde reeks selfmoordaanvalle wat in 2001 deur die Islamitiese terroriste-organisasie al-Kaïda teen die Verenigde State uitgevoer is. Altesaam 19 terroriste het vier passasiersvliegtuie gekaap en twee daarvan het in een van die Tweelingtorings-geboue (”Twin Towers”) van die Wêreldhandelsentrum in New York-stad vasgevlieg. Die derde vliegtuig het teen die Pentagon – die hoofkwartier van die Amerikaanse Departement van Verdediging in Arlington County, Virginië – gebots. Die vierde vliegtuig het gelukkig in ‘n landelike area in Pennsilvanië neergestort, maar daar was onskuldige mense aan boord. Mag die wêreld nooit weer so ‘n traumatiese gebeurtenis ervaar nie. Die rede dat hierdie insident my altyd sal bybly, is dat ek twee weke na die 9/11-insident met redelike angs en onsekerheid op ‘n vliegtuig vanaf Kaapstad na Berlyn (Duitsland) geklim het vir opleiding wat deur die WKOD geïnisieer was. Ek dink baie mense het vir ‘n geruime tyd na afloop van 9/11 verkies om eerder nie te vlieg nie.

Ek hoop en vertrou dat almal die heerlike sonskynweer van die afgelope tyd geniet, veral na die stormwinde wat op baie plekke groot skade aangerig het. Ek glo ook dat julle sal saamstem dat met die koms van meer sonnige dae baie goed vir almal se gemoedere is en dit het net betyds gekom om die aanvang van ons somersportoefeninge te komplimenteer. Ons het skaars met ‘n suksesvolle wintersportseisoen afgesluit en ons het die afgelope week sommer onmiddellik met die somersportprogram afgeskop. Dit was ongelukkig die laaste week van sport vir die kwartaal aangesien die fokus nou verskuif na die konsert wat volgende week (14 – 17 September) gaan plaasvind.

Die wintersportprogram vir 2026 was baie suksesvol en dit is vir my ‘n riem onder die hart om te sien hoe ons leerders die sportaanbieding by die skool geniet – dit is veral die spanformaat wat deur wintersporte gebied word. Dit is vir my belangrik dat ons leerders aan sport moet deelneem en in die proses aktief te wees. Dit is ook nie vir my nodig om die belangrike lewenslesse wat sport bied aan julle as ouers/voogde uit te wys nie. Sport en kultuur skep wonderlike geleenthede buite die vier mure van die klaskamer om belangrike lewenslesse te leer wat eendag vir hulle so waardevol gaan wees.

Ons werk sedert 2022 baie hard om ‘n gesonde sportkultuur by die skool te vestig en dus meer ontwikkelingsgeleenthede vir ons leerders te skep. Graag deel ek met julle ‘n bietjie wintersport-statistieke (hokkie, netbal & rugby) om die vooruitgang en ontwikkeling van sport by ons skool sedert 2022 te bevestig. Ons leerders het gedurende die 2026 wintersportseisoen (Kwartale 2 en 3) aan ‘n merkwaardige 1126 wedstryde deelgeneem, dit sluit natuurlik liga-wedstryde, sportdae en toernooie in. Daar is dus ‘n groei in wedstrydblootstelling van 25,6% vanaf 2025 tot 2026. Daar is veral moeite gedoen om seker te maak dat ons B- en C-spanne dieselfde hoeveelheid wedstryde as die A-spanne speel. Ek dink dit is merkwaardig en ‘n welverdiende kompliment aan ons sportkantoor vir hul leeue-aandeel in die verband.

Sien gerus onder die grafiese illustrasies van die aantal wintersportwedstryde per jaar wat vanaf 2022 tot 2026 plaasgevind het. Daar was dus sedert 2022 tot 2026 ‘n toename van 113,2% in die aantal wintersportwedstryde waaraan ons deelgeneem het.

Die toename in wintersportwedstryde beteken natuurlik dat meer leerders aan wintersporte oor die jare begin deelneem het.

Die groei in leerderdeelname aan netbal, rugby en hokkie (dogters en seuns) vanaf 2022 – 2026 per jaar is soos volg:

Netbal:

Rugby:

Hokkie: Dogters

Hokkie: Seuns

Soos julle kan sien, was daar sedert 2022 ‘n groot toename per jaar in die aantal leerders wat aan hokkie deelgeneem het, veral die seuns (114%). Ek glo ook dat die vestiging van die kunsgrasveld agter by ons skool bygedra het tot die groei en ons gesamentlike poging met Hoërskool Jan van Riebeeck om ‘n astrobaan te bou, sal nog meer leerders trek om aan hokkie deel te neem.

Groei en ontwikkeling het die afgelope vyf jaar nie net by ons sportaanbieding plaasgevind nie, maar ook by kultuur, veral die toename van musiekleerders en die aantal instrumente waarvan hulle kan kies. Die groei is veral merkbaar vanaf 2024 met die aanstelling van juf. Rolene as ons nuwe Hoof van Kultuur en Musiek. Die onderstaande grafiese illustrasie toon dat ons in 2022 ‘n totaal van 80 musiekleerders gehad het en vanjaar gevorder het tot 135 leerders.

Tot en met 2023 kon ons leerders net onderrig in klavier, blokfluit, kitaar en viool ontvang. Vanaf 2025 word daar onderrig in nege musiekinstrumente met die volgende instrumente wat ook bygekom het: saksofoon, klarinet, tjello, dwarsfluit en marimba. Verder steel die senior- en junior koor spreekwoordelik orals die kollig waar hulle optree. Puik kwartaallikse musiekkonserte, uitstekende uitslae van ons Eisteddfod-deelnames en redenaars is amper tasbare bewyse dat ons hard aan die werk is om kultuur en musiek sy regmatige plek by ons skool te vestig. Baie geluk aan ons junior koor met hul puik optrede op Dinsdagmiddag, 08 September 2026, tydens die Kaapse Afrikaanse Eisteddfod by Laerskool Simon van der Stel. Baie geluk, juf. Bea en mnr. Ben, met hul puik optrede en baie dankie vir jul harde werk en toewyding om ook ‘n koorkultuur by ons skool te vestig.

Vanmiddag neem ons senior robotika- en koderingspan (Kohl Kushner, Rafa Lamprect en Liam du Plessis), wat silwer medaljes tydens die streekkompetisie van die World Robotics Olimpiad gewen het, deel aan die nasionale kompetisie wat in Pretoria plaasvind. Ons is baie trots op ons 3-manspan onder leiding van juf. Suné dat hulle vir die nasionale kompetisie gekwalifiseer het – dit is voorwaar ‘n merkwaardige prestasie! Ons hou styf duimvas en mag jul die ongelooflike blootstelling en ervaring terdeë geniet.

Hoe mooi is ons kosbare taal, Afrikaans, wat so ryk aan kleurryke idiome en gesegdes is daarom hou ek aan om nog bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ‘n poging om ons pragtige taal verder te promoveer, deel gerus met jou kind/ers:

“Jou lyf aasvoël hou’’

Die uitdrukking beteken dat iemand sommer net voor ‘n etenstyd by familie of vriende opdaag, net om te eet en dan direk daarna te vertrek sonder om eers ‘n bietjie te kuier.

Die konsertkoors vir volgende week se konsertweek loop alreeds hoog en ons kan nie wag vir die afskop van die glanskonsert nie. Maak asb seker dat jy die konsertinligtingskrywe deeglik bestudeer. 

Ek sluit dan week agt af en mag die Bokke weer môreaand om 23:00 die All Blacks in Baltimore (VSA) wys waar Dawid die wortels gegrawe het. Geniet ‘n wonderlike naweek saam met jul gesinne, vriende en familie.

Groetnis 
Naas Beets 
SKOOLHOOF