Aangesien ons Google gebaseer is, maak ons gebruik van Google om dokumente te skep, take te doen en inligting te soek (Google Docs, Google Classroom, Google Slides ens.).

Die skool is besig om alle rekenaars waarop die leerders werk met Chromebooks te vervang. Om die Chromebook te kan gebruik, moet leerders van e-posadresse gebruik maak om in te teken. Die eerste stap was dus om vir alle leerders e-posadresse te skep. Vir veiligheidsredes het ons die leerders se eerste drie letters van hulle naam en die eerste drie letters van hulle van gebruik om e-posse met die skool se domain saam te stel. Bv. as die leerder se naam Piet van Rensburg is, sal sy e-pos wees pievan@jvrprim.co.za. Die naam wat aan die e-pos gekoppel is, is ook slegs die eerste drie letters van hulle naam en die eerste drie letters van hulle van.

Ons het alles in plek gestel om dit veilig vir ons leerders te maak. Alle e-posse en aktiwiteite wat die leerders op die Chromebooks doen word gemonitor. Ons fokus op internetveiligheid sodat leerders bewus is van die gevare. Ons sal ondersteuning van jou as ouer waardeer in hierdie opsig.

Ons leer leerders ook tikvaardighede aan. Daar is gratis programme op die internet beskikbaar (bv. http://www.typingstudy.com/) wat hulle help om dit te bemeester. Indien moontlik kan julle dit by die huis ook oefen, want ons het nie altyd genoeg tyd in die klas om te oefen nie.

Ons beoog om volgende jaar van Gr.1 af leerders aan Chromebooks en Google Apps bloot te stel. Dit beteken dat ons meer tyd gaan hê om leerders van Gr.5 af probleemoplossingsvaardighede aan te leer deur gebruik te maak van eenvoudige programmeringsprogramme.

Hierdie beplanning kan sekerlik nog verander, aangesien ‘n mens nooit weet waarheen die rekenaarwêreld beweeg nie. Indien ons sien dat leerders vinnig die gebruik van ‘n rekenaar onder die knie het, kan ons ook op ‘n vroeër ouderdom al die probleemoplossingsvaardighede in klasse inkorporeer en selfs ook die uitbreiding van die huidige rekenaarkurrikulum oorweeg.

Indien jy enige navrae het, kontak gerus vir Leon Hanekom (Gr.7-leerders) en Suzaan Burger (Gr.5 en 6-leerders).

leon@jvrprim.co.za
suzaan@jvrprim.co.za