Hierdie is in verband met wat tans in die rekenaarklas gebeur vir Gr.R tot Gr.4 en wat ons beoog om in die toekoms te implementeer.

Die basis waarop Gr.R tot Gr.4 tans werk is die Office pakket (Word, Excel, Power Point, Paint en Publisher). Hierdie programme word gebruik om (geïntegreerd met klaswerk) rekenaar-, muis-, en sleutelbordvaardighede aan te leer, in te oefen en prakties toe te pas. Hiermee saam word navorsingsprogramme soos Encarta, KidsCD en Google gebruik. Ons maak ook van Computers4kids gebruik wat alreeds geïntegreerde lesse uitgewerk het en wat dan toegepas kan word.

‘n Voorbeeld van ‘n geïntegreerde les: Gr.4 behandel die vorms van water in die klas en in die rekenaarklas maak hulle gebruik van Power Point om ‘n skyfievertoning oor die vorms van water te doen. Hulle gebruik Google vir navorsing en grafika. Hierdie skyfies word in hul gewone klas aan medeklasmaats vertoon.

Daar word ook tikvaardighede ingewerk, maar daar is te min tyd om behoorlik hieraan aandag te gee. Dit is aan te bevele dat leerders tuis sal oefen aan hulle tikvaardighede.

Ons het van die begin van die tweede kwartaal af Chromebooks in die rekenaarklas gekry. Die oorgang van die Thin Clients rekenaars na die Chromebooks is reeds vir Gr.5 tot 7 gemaak. Ons gaan egter eers volgende jaar daardie oorgang vir Gr.1-4 maak.

Die Chromebooks vereis van elke leerder om ‘n e-posadres en wagwoord te hê om enigsins in te teken. Daar is reeds vir alle leerders e-posadresse geskep, maar Gr.1-4 gaan dit eers van volgende jaar af begin gebruik. Chromebooks kan nie Office aflaai nie, dit is Google gebaseer. Wanneer hulle dus oorskakel na die Chromebooks, beoog ons om die volgende met hulle te behandel:

Google (vir navorsing)
Google Kiddle (vir navorsing)
Gmail
Google Drive
Google Docs
Google Slides
Google Classroom
Google Vorms
Google Calendar

Daar is nog baie ander Google Apps waarna ons kan kyk, maar dit sal afhang van hoeveel tyd ons het. Aangesien ons elke groep een keer in twee weke sien, is ons tyd saam met hulle baie beperk. Onderwerpe soos internetveiligheid en hoe om navorsing te doen sal behandel word. Ons sal steeds temas wat in klasse behandel word in die rekenaarklas inkorporeer, maar die fokus sal wees om so veel as moontlik rekenaarvaardighede aan te leer.
Die fondasie vir hulle rekenaarkennis word dus in die grondslagfase en Gr.4 gelê. Sodoende het ons die geleentheid om leerders in Gr.5-7 meer probleemoplossingsvaardighede aan te leer deur gebruik te maak van sekere eenvoudige programmeringsprogramme.

Hierdie beplanning kan sekerlik nog verander, aangesien ‘n mens nooit weet waarheen die rekenaarwêreld beweeg nie. Indien ons sien dat leerders vinnig die gebruik van ‘n rekenaar onder die knie het, kan ons ook op ‘n vroeër ouderdom al die probleemoplossingsvaardighede in klasse inkorporeer en selfs ook die uitbreiding van die huidige rekenaarkurrikulum oorweeg.