Die seisoene is besig om te draai en Septembermaand het die afgelope week haar welkome verskyning gemaak. Dit beteken ook dat daar meer sonnige dae na die lang winter op pad is. Die lentegeure van vars bloeisel is alreeds in die lug. Die lente is ‘n ontwakende seisoen en vir my is dit wonderlik om te sien hoe mense, diere en insekte die ontploffing van lentegeure aangryp om die koue van winter af te skud – almal is meer vrolik! Ek weet ook dat Moeder Natuur beslis nie haastig is om die lenteseisoen en warmer dae sonder enige teenstand aan die Moederstad te oorhandig nie. Lentedag word tradisioneel oral in Suid-Afrika op 01 September gevier, maar hier in die Moederstad kan die permanente lenteweer ons heel moontlik op ‘n latere stadium beskore wees. Ek weet dat ons almal sonnige dae sal verwelkom, maar Kaapstad en omgewing soek beslis nog reënweer aangesien ‘n groen droogte veral die Swartland en Overberg in die gesig staar. Ons leerders het vrolik gelyk met hul lentedrag en dit het beslis almal se dag opgehelder. Baie geluk aan die tweeling Hannah en Sarah in Graad 4 wat op 01 September verjaar het met die mooiste blommerangskikkingkolwyntjie. Ek was bevoorreg om een van die ‘kunswerke’ te ontvang.

Die afgelope naweek het ons ook amptelik van ons wintersportseisoen met ‘n interskole-naweek tuis teen Laerskool Welgemoed op ‘n hoogtepunt afgesluit. ‘n Interskole teen ‘n groter skool soos Laerskool Welgemoed, wat bekend is vir hul sterk sportkultuur, bring uitdagings, veral as jy net na uitslae kyk. Ons was beslis uit ons gemaksone gedwing en moes ons baie harder vir ‘n oorwinning werk. Ek glo ook dit versterk vaardigheidsontwikkeling, want teen sterker opposisie gebeur alles eenvoudig net vinniger, jy moet vinniger dink, beweeg en besluite neem. Die Groot Brag wat op Vrydagoggend, 28 Augustus, plaasgevind het, was beslis die hoogtepunt van die geesweek met die voorstelling van ons eerstespanne asook die wys van heelwat video’s deur bekende sportsterre en akteurs om ons Jannies voorspoed toe te wens. Baie dankie aan al ons personeel onder leiding van juf. Shahneé vir die opwindende geesweek asook om al die ongelooflike voorspoedvideo’s in die hande te kry. Ek glo ook dat die personeel se interskole-video wat op die Suid-Afrikaanse televisiesepie (sitkom) Die Kantoor gebaseer is, vir julle en die leerders baie vermaak verskaf het! Baie dankie juf. Jana wat die teks geskryf het en ook as regiseur opgetree het asook juf. Suné wat die video-opnames en samestelling behartig het. Ek hoop van harte dat almal die 2026-interskole en interaksie met ‘n noordelike voorstedelike skool terdeë geniet het.

Op Woensdagaand, 02 September, het beide ons senior- en junior koor die wonderlike voorreg gehad om saam met die internasionale Kinder- en Jeugkoor (Jiřičky) van Mladá, ‘n stad 55 km noordwes van Praag (Tsjeggiese Republiek), asook saam met Hoërskool Jan van Riebeeck se koor, by die NG Kerk Tamboerskloof op te tree. Jiřičky verwys na klein voëltjies, lyk amper soos swaeltjies, wat met vrolike sang geassosieer word. Die naam is ‘n baie gepaste simbool vir die jeugkoor wat musiek, vreugde en vriendskappe bring waar ookal hulle gaan. Dit was ‘n magiese ervaring waar volks- en koormusiek van die hoogste standaard behoorlik gevier is. Baie dankie aan ons gasteouers wat van die internasionale koorlede gehuisves het. Ek glo dit was ‘n verrykende ervaring vir ons koorleerders en gasteouers om hulle te huisves en sodoende blootstelling aan die Tsjeggiese kultuur en -gewoontes te kon kry.

Ons leerders saam met hul onderwysers oefen daagliks baie hard vir die komende konsert wat vanaf 14 – 17 September geskied. Die opwinding loop alreeds hoog en ons kan nie wag vir die afskop van die glanskonsert nie.
Op Woensdag, 02 September, het ons ook Sekretaressedag gevier. Ons is baie dankbaar vir Adri wat as die skool se sekretaresse so mooi na ons Jannies, ouers en personeel omsien. Baie dankie aan die res van ons administratiewe personeel, naamlik Jodene (menslike hulpbronne en leerder-inskrywings), Liesel (finansies), Megan (IKT), Sue-Ann (Jan Kas en admin) asook Roxanne (Huppelland se sekretaresse) vir julle onbaatsugtige diens – ons waardeer julle harde werk en toewyding!

Hoe mooi is ons kosbare taal, Afrikaans, wat so ryk aan kleurryke idiome en gesegdes is daarom hou ek aan om nog bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ‘n poging om ons pragtige taal verder te promoveer. Deel gerus met jou kind/ers:
‘Van ‘n donkie kan jy ‘n skop verwag’
Die uitdrukking beteken dat jy van ‘n onbeskofte persoon beslis slegte behandeling of gedrag kan verwag.