Vrouemaand het op 31 Augustus ongelukkig tot ‘n einde gekom, maar laat ons nooit vergeet die belangrike rol wat vrouens elke dag in die samelewing speel nie. Stadig maar seker raak die dae langer en die nagte korter, want gister moes ons streng gesproke Lentedag gevier het. Kapenaars weet dat Lentedag eerder nader aan 24 September in Kaapstad aanbreek, want Moeder Natuur het gewoonlik ander idees vir Kaapstad en omgewing wanneer dit by seisoensverandering kom. Die wete dat warmer en lekker sonskynweer om die draai lê, lig sommer ons gemoed al is dit koud en renerig die afgelope tyd.

Ek glo julle het almal die skielike grondverskuiwingsprojek agter die skool waargeneem met heelwat swaarvoertuie en masjienerie wat die afgelope tyd grond in en uit gery het. In ‘n baie kort tydjie is die onooglike heining langs die sportveldjie verwyder en al 12 geelhoutbome is suksesvol hervestig. Dit is ongelooflik die spasie wat onmiddellik geskep is. Ek is baie dankbaar aan ‘n spesifieke ouer (weldoener) wat vir ons help om die agterste klein sportveldjie te vergroot en te ontwikkel en dit op sy eie kostes. Hoe bevoorreg is ons nie dat hy nie net die projek befonds nie, maar ook aktief by die hele projek daagliks betrokke is. Die doel van die vergroting van die agterste sportveldjie is drieledig:

  1. Na voltooiing hoef ons nie meer die grondslagfase leerders vir sportoefeninge na die Conradieveld te vervoer nie. Dus is daar meer tyd om hulle direk na skool meer effektief af te rig, want soos julle weet, gaan daar heelwat tyd verlore met die op-en-af vervoer van leerders tussen die skool en die Conradieveld.
  2. Dit sal ons in staat stel om mini-hokkie en -rugbywedstryde op die nuwe veld te speel. Al die juniorspanne kan gelyktydig by die skool akkommodeer word indien ons sportdae aanbied.
  3. Ons vergroot ook in die proses die speelarea vir pouses.

Verlede Donderdagaand het ek saam met juf. Rentia (kunsjuffrou) die prysuitdeling van die MathArt kompetisie (Gr. 7 – 12) wat nasionaal deur Universiteit van Nelson Mandela jaarliks aangebied word, bygewoon. Die prestige aand is in die ArtsCape in samewerking met die WKOD gehou. Daar is 20 medaljes in die hele Wes-Kaap toegeken waarvan ons skool 8 (x1 goud, 4 silwer en x3 brons) daarvan ontvang het. Dit is ‘n merkwaardige prestasie en weereens ‘n trotse oomblik vir ons skool aangesien ons die aand ook ‘n spesiale toekenning vir die skool met die meeste medaljes tydens die kompetisie verwerf het.

Die volgende graad 7-leerders het silwer en goue medaljes vir hul kunswerke tydens die gala-aand ontvang:

  • Lara Basson (silwer) met kunswerk “Thoughts of language in Maths and blue”
  • Cara Swanepoel (silwer) met kunswerk “Relativity, Time, Space and Multiverses”
  • Luja Marx (silwer) met kunswerk “Circle of Life”
  • Liza Hitge (silwer) met kunswerk “Genetics by the numbers”
  • Mïlla Joubert (goud) met kunswerk “Communicate in the language of science”

Die volgende graad 7-leerders het brons medaljes ontvang wat ons tydens die saalperiode uitgedeel het:

  • Kate Mouton
  • Helene Greeff
  • Nell von Lieres
  • Adele Holtzhausen

Ek wil nie personeel graag uitsonder wat verjaar nie, maar ek dink ek sal my plig versuim indien ek nie noem dat Philip op Woensdag, 31 Augustus 2022, ‘n volle veertig jaar jonk geraak het nie. Die rede waarom ek Philip se verjaardag spesiaal in my nuusbrief noem, is omdat Philip vir ons skool so ‘n groot aanwins is en hy te alle tye as ‘n ware ambassadeur optree. Sy vriendelike geaardheid en bereidwilligheid om te help, is merkwaardig. Philip stel vir ons almal ‘n voorbeeld van bedagsaamheid en werklike omgee. Ons wens vir Philip ‘n baie geseënde nuwe lewensjaar toe. Mnr. Warren se graad 5-klas het ‘n baie spesiale kaartjie vir Philip gemaak om hom geluk te wens, maar ook hul waardering vir al sy omgee te wys.

Ek sluit dan weer af met die bekende woorde van Madiba wat op ons waarde vir die kwartaal fokus, naamlik Eerlikheid en wens julle ‘n wonderlike naweek toe.

“As I have said, the first thing is to be honest with yourself. You can never
have an impact on society if you have not changed yourself …
Great peacemakers are all people of integrity, of honesty, but humility.”

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF