Ek glo almal gaan die komende langnaweek terdeë geniet met ‘n lekker meevallertjie van ‘n vakansiedag op Maandag, 10 Augustus, as gevolg van Vrouedagvieringe op Sondag, 9 Augustus, asook met die All Blacks-rugbyspan wat die afgelope week in die Moederstad voorberei om vanaand teen die Stormers sake uit te spook. So gepraat van rugby, ons o.11A- & B-, asook die o.13A- & B-rugbyspanne, het die week die wonderlike geleentheid gehad om hul staal teen Bishops (Bishops Diocesan College) te toon. Hierdie is weereens ‘n bewys dat rugby by ons skool die afgelope jaar so gegroei en ontwikkel het dat groter ‘rugbyskole’ bereid is om teen ons te speel en dus wonderlike blootstelling vir ons spelers en afrigters te bied.
Op Saterdag, 1 Augustus, het ons skool vir ‘n tweede agtereenvolgende jaar ‘n baie suksesvolle mini-sportdag (o.7 – o.9 rugby & netbal) aangebied. Dit was ‘n groot voorreg om ‘n magdom leerders, ouers en afrigters op die dag te ontvang. Twaalf skole is op die dag geakkommodeer, met 940 spelers wat by die skool en Conradieveld deelgeneem het. Elke span het aan drie wedstryde deelgeneem. Weereens was die gewilde toernooi ‘n reuse sukses en selfs BRUL-JANt, ons gelukbringer, het die dag bygewoon om dit nog meer spesiaal vir die spelers te maak. Ek glo julle sal saamstem dat ons beslis nie vir ‘n beter dag kon vra nie, aangesien die weer perfek saamgespeel het met ‘n perfekte, sonnige dag waartydens ons ons skool met sy pragtige fasiliteite aan soveel besoekende leerders, onderwysers, afrigters en ouers ten toon kon stel. Aangesien die mini-sportdag by twee verskillende venues aangebied word, is puik beplanning en logistieke organisasie van kardinale belang. Die dag was suksesvol weens puik beplanning, veerkragtigheid en deeglike uitvoering! Baie geluk en baie dankie aan ons sportkantoor (mnre. Leon en Rashard) vir die puik reëlings, asook al ons personeel wat so hard gewerk het om die dag se sukses te verseker. Ek glo dat julle as ouers/voogde saam met ons as personeel en leerders baie trots op die puik aanbieding van die mini-sportdag is.

Op Vrydagaand, 31 Julie, het ons skool die jaarlikse en gewilde Bring-en-Raai-kompetisie in die saal aangebied. Die saal was vol gepak met spanne en almal het die samesyn van die gewilde sosiale aand terdeë geniet. Baie dankie aan MC du Toit (Gr. 5- en Gr. 2-ouer) wat weereens puik as seremoniemeester opgetree het. Baie geluk aan die wenspan, naamlik Quiz-Kombius, wat die aand met die louere weggestap het. Laaste, maar nie die minste nie, wil ek graag vir Pieter Rademeyer en die ouers van ons leerderraad hartlik bedank wat aan die stuur van die reëlings gestaan het. Pieter, ons het groot waardering vir al jou moeite in dié verband en ons weet hoe besig jy as skoolhoof is!
Augustus-maand word ook weer met Kultuuroptredes onder andere Eisteddfod geassosieer en vanaf 01 – 07 Augustus neem verskeie van ons leerders aan die Kaapse Afrikaanse Eisteddfod deel, asook aan die JanArte Kunstefees vanaf 03 Augustus, wat deur Hoërskool Jan van Riebeeck aangebied word. Ons kore het ook die afgelope week soos volg opgetree en het beslis weer die kollig gesteel:
Senior koor: Maandagaand, 03 Augustus, te Hoërskool Jan van Riebeeck tydens die Tafelberg Koorfees.
Junior koor: Dinsdagaand, 04 Augustus, te Reddam Constantia tydens die Reddam Junior Koorfees.
Die EXCO (skoolbestuur) het vanaf Sondag tot Dinsdag, 02 – 04 Augustus, hul jaarlikse strategiese beplanningsessie suksesvol afgelê. Hierdie sessie is uiters belangrik om seker te maak ons trotse skool is strategies op die regte pad om ons skool na nog hoër hoogtes saam met ons dinamiese Beheerraad te lei. Tydens die sessies word daar onder andere die volgende items bespreek en gefinaliseer:
- 2027-kalender met buitemuurse programme (sportnaweke, toernooie, sporttoere, musiekkonserte, kooroptredes, skoolkampe, eksamen- en assesseringsdatums, funksies en sosiale geleenthede, ens.);
- 2027-klasroosters;
- 2027-werksindeling van personeel;
- 2027-sportplan;
- 2027-kultuurplan;
- 2027-graad- en vakhoofde word bepaal;
- Insette vir die 2027-konsepbegroting;
- 2027-veiligheids- en sekuriteitsplan;
- 2027-komitees word bepaal;
- Hersiening van die 2024 – 2029 Strategiese Plan.
Graag wil ek spesiale melding van ons skaakspanne maak wat die naweek van 01 – 02 Augustus aan die Metro Sentraal Topskole-toernooi te Laerskool Surrey deelgeneem het en uitstekend gevaar het:
- o.13 span behaal ‘n vierde plek uit 140 skole.
- o.11 span wen die kampioenbeker vir hul ouderdomsgroep.
- o.9 span wen die kampioenbeker vir hul ouderdomsgroep.
Baie geluk aan die spelers, juf. Jua-Marié, asook ons afrigter, Remondo, wat puik werk met ons spelers doen. Ons wens hulle alle sterkte toe vir die WP Topskole-toernooi wat voorlê.

Ek glo dat almal die spesiale vakansiedag, naamlik Vrouedag, wat Sondag, 09 Augustus, plaasvind, saam met hul gesinne as ‘n langnaweek sal geniet. Hierdie meevallertjie is die enigste langnaweek wat vanjaar buite die skoolvakansies plaasvind. Hou ingedagte dat dit nie sommer net nog ‘n publieke vakansiedag is nie, maar ‘n baie spesiale dag waartydens ons die belangrike rol van vroue in ons samelewing moet vier. Graag wil ek van die geleentheid gebruik maak om al ons wonderlike vroue in ons skoolgemeenskap hartlik te bedank vir die belangrike rol wat hulle speel. Vrouedag moet gevier word om hulde te bring aan vroue wat groot bydraes tot vroueregte in Suid-Afrika gemaak het. Ek glo dat vroue die spreekwoordelike gom is wat gesinne en families bymekaar hou. Hulle vorm die pilare van ons gemeenskap terwyl hulle soveel rolle moet vertolk. Ons vergeet dikwels dat vroue ‘n onregverdige balans moet handhaaf tussen persoonlike ontwikkeling, kinders grootmaak, die huwelik en dan ook met ons as mans moet kompeteer om die korporatiewe leer te klim. Kom ons vier hierdie maand alle aspekte van vrouwees en bring hulde aan alle vroue, ongeag hul klas of ras. Maak dus gerus seker julle bederf die vroue in jul lewens!
Ek gaan die kwartaal weer voort om nog bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ‘n poging om ons pragtige taal verder te promoveer. Deel gerus met jou kind/ers:
“Soos ‘n vis op droë grond”
Die uitdrukking verwys na wanneer ‘n mens totaal magteloos voel of ontuis uit jou eie omgewing is.
Ek sluit dan week drie af en mag julle die lekker meevallertjie van ‘n gesellige langnaweek saam met jul gesinne en vriende geniet.
Groetnis
Naas Beets
SKOOLHOOF