Die einde van kwartaal 1 het vir my net te vinnig sy opwagting gemaak met elf bedrywige weke agter die rug. Vandag ontvang elke leerder sy/haar rapport om erkenning te ontvang vir hul harde werk en toewyding die afgelope kwartaal. Ek het elke rapport geteken en so ‘n kort persoonlike boodskappie vir elke leerder geskryf om hul toegewydheid te onderskryf. As skoolhoof kyk ek met trots terug na al die opwindende en suksesvolle aktiwiteite wat gedurende die afgelope kwartaal plaasgevind het. Graag wil ek die personeel hartlik bedank wat so hard die afgelope kwartaal gewerk het en die beginsel van uitnemendheid in alles wat ons aangepak het, toe te pas. Om suksesvol te wees, beteken nie net om soms hard te werk nie, maar eerder om elke dag te verbeter op die vorige dag. Ons skool is werklik geseënd met ‘n dinamiese personeel met omgee-harte en nie skroom om die ekstra myl te loop nie. Laat my ook toe om die Beheerraad onder leiding van Merwe Scholtz te bedank vir al hul onbaatsugtige werk wat hulle verrig om ons trotse skool na nog hoër hoogtes te lei. Baie dankie ook aan Susan Derksen en die OOV-lede vir hulle leeue-aandeel in al die suksesvolle funksies wat aangebied is. Laaste, maar nie die minste nie, ‘n opregte dank aan ons wonderlike ouers/voogde wat ons week-in en week-uit die afgelope kwartaal so lojaal ondersteun het. Julle omgee, aktiewe betrokkenheid asook insiggewende insette by die skool is instrumenteel in ons skool se algehele sukses en vooruitgang. Ek glo dat ons skoolgemeenskap ook saam met ons as personeel ongelooflik trots is op wat die afgelope kwartaal vermag is.
Vanaf 24–26 Maart het ons gr. 6-leerders ‘n skoolkamp by Bergkroon te Wellington bygewoon. ‘n Skoolkamp in die laaste week van die kwartaal, glo ek, is die spreekwoordelike kersie op die koek vir die gr. 6’e. Die opwinding op Maandagoggend, 24 Maart, met die vertrek van die busse was baie groot. ‘n Skoolkamp is altyd propvol nuwe avonture en ‘n wonderlike geleentheid om jou skoolmaats en jouself beter te leer ken, asook om aan spanwerk, beplanning, deursettingsvermoë en veerkragtigheid te werk. Ek glo hulle kon seker nie meer wag om hul wonderlike ervarings en stories met julle as graad 6-ouers/voogde te deel nie. Baie dankie aan juff. Lucia, Andri, Shahneé en mnr. Keenen wat so mooi na hulle gekyk het.
Die einde van die kwartaal beteken ook dit was weer tyd vir die gewilde musiekkonserte. Hierdie musiekkonserte het as volg plaasgevind:
-
Die gr. 6-konsert op Donderdag, 20 Maart
-
Die gr. 7-konsert op Maandag, 24 Maart
-
Die gr. 2- en 3-konserte ook op Maandag, 24 Maart
-
Die gr. 4- en 5-konserte op Woensdag, 26 Maart
Die kwartaallikse musiekkonserte is altyd opwindend en kosbaar. Baie geluk aan al ons musiekleerders wat aan die konserte deelgeneem het; julle maak ons so trots. Ek besef ook hoe intimiderend dit moet wees om voor ‘n gehoor wat bestaan uit ouers, grootouers, onderwysers en leerders op te tree. Anders as spansportdeelname tydens ‘n wedstryd, staan jy in hierdie geval stoksielalleen en vat dit baie moed en karakter om op jou eie voor ‘n redelike groot gehoor op te tree. Baie dankie aan juf. Rolene en die musiekdepartement vir hul leeue-aandeel in die voorbereiding en onderrig van ons musiekleerders. Dit was ‘n riem onder die hart om te sien hoeveel ouers, voogde, oumas en oupas die konserte ondersteun het. Dit beteken so baie vir die kinders!
Die NWT-Ekspo wat die gr. 5- en 6-leerders op 12 Maart aangebied het, het die gr. 4-leerders so geïnspireer dat hulle graag hul eie miniatuur-weergawes van bekende landmerke wou bou. Ek was natuurlik in die bevoorregte posisie dat hulle hul indrukwekkende take vir my kom wys het. Baie geluk Gr.4’s met julle spogwerk.
Die gr. 7’s het ook die week aan ‘n kodering- en robotikaprojek gewerk. Cara Nel en Ruben de Ridder het vir ons ‘n oplossing om die veiligheid van leerders tydens af- en oplaai van leerders by die skool voorgestel en dit ook vir my kom wys. Hulle het ‘n merkwaardige miniatuur-robot gebou wat kan help om die veilige kruising by die voetoorgang deur leerders te verseker sonder dat dit deur personeel beman hoef te word. Die robot is geprogrammeer om beweging van voorwerpe deur middel van sensors op te tel en stop dan alle voertuie om die voetoorgang veilig oor te steek. Baie geluk met die kreatiewe oplossing om die veiligheid van ons leerders te verseker!
Ons is saam met juf. Mardry Wright en haar man, Kyle, opgewonde aangesien hulle in September ‘n baba verwag. Ons is saam met hulle dankbaar vir hierdie nuwe fase wat op hulle wag.
Sterkte ook aan ons Gr. 7- leerders en ouers wat vanaf 27 Maart die Oranjerivier-toer aanpak. Geniet die spesiale tyd saam met jou kind, veilig roei en ek glo julle sal die kosbare ervaring vir ewig onthou.
Ek sluit af en wens vir julle as gesinne ‘n welverdiende vakansie toe. Lekker rus en herlaai behoorlik die spreekwoordelike batterye vir nog ‘n opwindende kwartaal 2 wat voorlê. In my verdere pogings om ons pragtige taal in ons skoolgemeenskap uit te brei, sluit ek dan die kwartaal met ‘n minder bekende Afrikaanse uitdrukking af:
‘Land van Kokanje.’
Kokanje verwys na ‘n denkbeeldige luilekkerland waar niemand werk nie, maar almal lekker leef. Mag dit vir julle ‘n Kokanje-vakansie vol van die saligheid van niksdoen wees!
Vriendelike groete,
Naas Beets
SKOOLHOOF