Vandag sluit die skole landwyd vir ’n welverdiende vakansie vir leerders en personeel na ’n bedrywige eerste kwartaal. Vir my het die einde van die kwartaal net te vinnig sy opwagting gemaak, met elf opwindende weke agter die rug. Kwartaal een is gewoonlik besonders besig; bo en behalwe die akademie sluit dit verder ’n kombinasie van somersporte en voorseisoen-wintersportvoorbereiding, asook heelwat kultuuraktiwiteite, in. Ek glo ook dat dit vir julle as ouers deeglike logistieke beplanning geverg het om seker te maak jul kind(ers) kom betyds by al die opwindende aktiwiteite uit – daarvoor wil ek vir julle hartlik bedank!
Vandag ontvang julle jul kind(ers) se elektroniese rapport(e) om erkenning vir hul harde werk en toewyding die afgelope kwartaal te gee. Die doel van rapporte is beslis nie om ouers/voogde paniekerig te maak nie, maar eerder om terugvoering oor jou kind(ers) se vordering die afgelope kwartaal te gee. As skoolhoof kyk ek met trots terug na al die opwindende en suksesvolle aktiwiteite wat gedurende die afgelope kwartaal plaasgevind het. Graag wil ek ons personeel hartlik bedank vir hul harde werk, toewyding en omgee die afgelope kwartaal. Baie dankie dat julle die beginsel van uitnemendheid in alles wat ons gedoen en aangepak het, toegepas het. In my opinie is sukses nie permanent nie; dit is tydelik! Dit beteken dat ons nie net soms hard moet werk nie, maar tydens elke geleentheid wat hom voordoen. Mag ons nooit selfvoldaan raak nie, maar eerder aanhou hard werk om op ons huidige suksesse te verbeter – ek sien dit as ’n lekker uitdaging!
Graag gee ek kortliks terugvoering rakende die somersporte wat tydens die eerste kwartaal plaasgevind het en wil ek al ons onderwysers en afrigters betrokke, bedank vir hulle kosbare aandeel:
- Mini-krieket (o.7 – o.9): 57 wedstryde is gespeel, waarvan ons 45 gewen het.
- Krieket (o.11 & o.13): 23 wedstryde (20 beurte) is gespeel en ons het 12 gewen.
- Tennis: 47 wedstryde is gespeel, waarvan ons 23 gewen het.
- Swem: Ons het aan vier galas en twee interhuisgalas (senior & junior) deelgeneem.
- Atletiek: 62 van ons atlete kwalifiseer vir Interskole, 8 vir Sone en 1 WP-atleet.
Baie geluk aan ons leerders en afrigters met die ongelooflike groei in deelname aan die onderskeie sportsoorte. Saam met dit kom goeie uitslae soos bo gemeld.
Ons skool is werklik geseënd met ’n dinamiese personeel met omgee-harte wat nie skroom om die ekstra myl te loop nie. Laat my ook toe om die Beheerraad onder leiding van Merwe Scholtz te bedank vir al hul onbaatsugtige diens wat hulle verrig om ons trotse skool na nog hoër hoogtes te lei. Baie dankie ook aan Susan Derksen en die OOV-lede vir hulle leeue-aandeel in al die suksesvolle funksies wat aangebied is. Ons sien baie uit na die Kaperjolle wat op Saterdag, 11 April, by die skool plaasvind! ’n Hartlike dank aan my bestuurspan (EXCO) vir jul puik leierskap en harde werk om seker te maak ons neem die beste besluite tot voordeel van ons leerders! Laaste, maar nie die minste nie, ’n opregte dank aan ons wonderlike ouers/voogde wat ons week-in en week-uit die afgelope kwartaal so lojaal ondersteun het. Julle omgee, aktiewe betrokkenheid, asook insiggewende insette by die skool, is instrumenteel in ons skool se algehele sukses en vooruitgang. Ek glo dat ons hele skoolgemeenskap ook saam met ons as personeel ongelooflik trots is op wat die eerste kwartaal alreeds vermag is.
Vanaf 25–27 Maart het ons gr. 6-leerders hul skoolkamp by Bergkroon te Wellington bygewoon. ’n Skoolkamp in die laaste week van die kwartaal, glo ek, is vir die gr. 6’e die spreekwoordelike kersie op die koek, want met hul terugkeer, is dit sommer amptelik vakansie! Die opwinding op Woensdagoggend, 25 Maart, met die vertrek van die busse, was tasbaar. ’n Skoolkamp is altyd propvol nuwe avonture en ’n wonderlike geleentheid om hul skoolmaats en hulself beter te leer ken. Die spanwerk, beplanning, deursettingsvermoë en veerkragtigheid wat skoolkampe vereis, gaan beslis later in hul lewe help. Ek glo hulle kon seker nie meer wag om hul wonderlike ervarings en stories met julle as graad 6-ouers/voogde te deel nie. Baie dankie aan juff. Lucia, Andri, Shahneé en mnr. André wat so mooi na hulle gekyk het.
Die laaste week van die kwartaal maak altyd voorsiening vir die gewilde musiekkonserte. Dit het as volg plaasgevind:
Die gr. 1–3-konserte op Maandag, 23 Maart
Die gr. 6- en 7-konserte op Maandag, 23 Maart
Die gr. 4- en 5-konserte op Dinsdag, 24 Maart
Die musiekkonserte is altyd kosbaar en was baie opwindend. Baie geluk aan al ons musiekleerders wat aan die konserte deelgeneem het; julle maak ons so trots! Ek besef ook hoe intimiderend dit vir ’n musiekleerder moet wees om voor ’n gehoor, wat bestaan uit ouers, grootouers, onderwysers en leerders, op te tree. Anders as spansportdeelname tydens ’n wedstryd, staan jy in hierdie geval stoksielalleen en vat dit baie moed en karakter om op jou eie voor ’n gehoor op te tree. Baie dankie aan juff. Rolene, Bea, mnr. Ben en die res van die musiekdepartement vir hul leeue-aandeel ter voorbereiding en onderrig van ons musiekleerders. Dit was spreekwoordelik ’n riem onder die hart om te sien hoeveel ouers, voogde, oumas en oupas die konserte ondersteun het. Dit beteken so baie vir die kinders! Ek is so opgewonde en trots om te sien hoe musiek en kultuur die laaste twee jaar by ons skool ontwikkel en gegroei het!

Graag noem ek die volgende opwindende aktiwiteite en uitstappies wat oor die laaste twee weke plaasgevind het:
- Op Woensdag, 18 Maart, is ’n algemene kennistoets deur gr. 5–7-leerders afgelê. Ons sal op ’n latere stadium die uitslae bekend maak.
- Ons graad 1’s het op Woensdag, 18 Maart, die Cape Town Science Centre besoek en dit baie geniet.
- Die graad 3’s het op Donderdagoggend, 19 Maart, vroeg op die rooibusse vertrek vir ’n besoek aan die ‘World of Birds’. Die opwinding en pret was so kosbaar!

- Baie dankie aan al ons ouers wat ons jaarlikse gholfdag op Donderdag, 19 Maart, te King David Mowbray Gholfklub ondersteun het. Daar was ’n vol veld van 80 spelers wat deelgeneem het. Die gholf was uitdagend met die Suidooster wat die baan spreekwoordelik beskerm het, maar die samesyn en lekker kuier voor en na die prysuitdeling was kosbaar. Baie dankie mnr. Rashard vir die puik reëlings, asook mnr. Keenen wat op die dag diens gedoen het.
- Die gewilde somersokkie vir graad 5–7-leerders het op Donderdagaand, 19 Maart, vanaf 18:00–21:00 plaasgevind. Dit bly maar altyd ’n hoogtepunt vir die leerders en hulle was pragtig getooi om die aand terdeë te geniet. Baie dankie juf. Mardry en span vir die puik reëlings, asook toesig.
- Ons graad 2’s het op Vrydag, 20 Maart, die ikoniese Tafelberg besoek. Die op- en afrit met die kabelkarretjies het groot opwinding veroorsaak en nie eers die triestige weer kon die opwinding demp nie.
- Ons eerste wintersportnaweek het vanaf 20–21 Maart tuis en weg plaasgevind. Ons eerste hokkiespanne (o.13A-seuns en -dogters) het op Vrydag, 20 Maart, weg teen Curro Durbanville gespeel, terwyl die res van die hokkiespanne tuis te St. Cyps op die astro hul wedstryde teen Laerskool Totius gespeel het. Ons het tans drie o.13-seuns- en dogtershokkiespanne. Dus, vir die eerste keer kon ons teen LS Totius ons o.13B- en C-spanne teen onderskeidelik hul o.13A- en B-spanne laat speel. Die groei in hokkie is fenomenaal. Rugby en netbal het die volgende dag tuis teen Laerskool Kampsbaai plaasgevind. Ons wintersportspanne het die seisoen op ’n hoë noot afgeskop met puik resultate. Baie dankie aan ons sportkantoor en al die afrigters vir al die puik reëlings en uitslae in die verband. My beste wense vergesel ons wintersportspanne vir ’n besige seisoen wat vanaf kwartaal twee voorlê.
- Baie dankie aan almal betrokke by die verkope van tweedehandse skoolklere op Maandag, 23 Maart, vanaf 08:00 by die skool. Die verkope het baie goed afgeloop en skoolklere, wat omtrent splinternuut is, is vir ’n appel en ’n ui verkoop.
- Ons Gr. 7’s het vanaf 25 Maart tot 31 Maart vertrek om aan die jaarlikse Oranjerivierroei deel te neem. Baie dankie aan mnr. Pieter Rademeyer wat aan stuur van sake staan, en mag julle as ouers die kosbare tyd saam met jul kind(ers) geniet. Ons wens julle baie pret toe en wees veilig.
- Die kwartaallikse markdag is op Donderdag, 26 Maart, deur die grondslagfase leerders aangebied. Dit is baie goed deur die leerders ondersteun.
Die komende vakansie neem ons o.11-rugbyspan aan die prestige Willie le Roux-rugbytoernooi vanaf 27–31 Maart te Laerskool Lochnerhof in die Strand deel. Baie dankie mnr. Rashard dat jy die seuns tydens die vakansie gaan vergesel en mag julle die toernooi terdeë geniet.
Hiermee gaan ek voort om bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ’n poging om ons pragtige taal verder te promoveer:
“om iets vir ’n appel en ’n ui te verkoop”
Die uitdrukking beteken om ’n item vir baie min, teen ’n laer prys of spotgoedkoop te verkoop.
Ek sluit dan af met geseënde Paaswense en mag jou spreekwoordelike paasmandjie oorloop van genade en vreugde. Geniet ’n wonderlike vakansie saam met jul vriende en gesinne. Reis asseblief veilig en sien julle dan weer op Woensdag, 08 April, wanneer die skole vir kwartaal twee heropen.
SKOOLHOOF