Graag verwelkom ons Maart-maand in week agt van kwartaal een. Dit beteken dat die skole oor drie weke op 27 Maart vir ‘n kort en welverdiende vakansie sluit voordat ‘n besige kwartaal twee op 08 April afskop. Die seisoene is ook stadig, maar seker besig om te draai met die son wat soggens ‘n bietjie later opkom en vroeër ondergaan.

Vanjaar het ons vir seker ook ‘n unieke kalenderperiode, want die Lydenstydperk (Lent) het vir die Christelike geloof begin, terwyl Ramadan ook vir Moslemfamilies begin het. Aangesien beide die Lydenstydperk en Ramadan deur die fases van die maan bepaal word, vind die Lydenstydperk elke jaar plaas in die 40 dae voor Paasfees, terwyl Ramadan elke jaar ongeveer 11 dae vroeër skuif. Hierdie jaar oorvleuel die Lydenstydperk en Ramadan. Dit is ’n seldsame oorvleueling. Dit sal eers weer in 2059, oor 33 jaar, gelyktydig plaasvind.

Ons wens al ons Christen-ouers ‘n geseënde Lydenstydperk, asook aan al ons Moslem-ouers/vriende ‘n geseënde Ramadan Mubarak toe.

Ons skool was vanaf Maandag weer voltallig met die terugkeer van die gr. 5- en 7-leerders vanaf hul onderskeie skoolkampe die vorige week. Ek het met van die ‘kampers’ gepraat en hulle was almal eens dat hulle die skoolkampervaring terdeë geniet het. Natuurlik was hulle verlede Vrydag met terugkeer doodmoeg van die min slaap, die uitdagings van die onbekende avontuur en al die opwindende aktiwiteite wat aangebied is.

Skoolkampe bou beslis karakter, verbeter kommunikasievaardighede, vereis deursettingsvermoë en ontwikkel leierskapvaardighede. Ons leerders het oorgenoeg te ete en te drinke ontvang, maar het definitief hul ouers/voogde se tuisgemaakte kos asook die gemak van hul ouerhuise gemis. Ek glo hulle waardeer sommer weer van vooraf hul ouerhuise en is dankbaar vir al die wonderlike voorregte wat hulle baie keer as vanselfsprekend aanvaar.

Verlede Vrydag het ons jaarlikse Junior Swemgala plaasgevind en ons grondslagfase-swemmers was spreekwoordelik soos visse in die water terwyl hul luidkeels deur hul mede-leerders, ouers/voogde en grootouers aangemoedig is. Die junior swemgala bly vir my ‘n hoogtepunt. Dit is baie opwindend, veral omdat die gr. 1-leerders vir die eerste keer ‘n geleentheid gekry het om aan ‘n amptelike skoolswemgala deel te neem.

Hierdie week het die wintersportbuitemuurse program ook in volle swang afgeskop en sien ons uit na verskeie wintersportwedstryde en -sportdae.

Op Maandag, 23 Februarie 2026, het ons eerste beheerraadsvergadering in die mediasentrum plaasgevind. Baie geluk aan die volgende BR-lede wat die komende jaar in die volgende belangrike ampte verkies is:

Voorsitter: Merwe Scholtz
Onder-voorsitter: Hugo van den Heever
Tesourier: Sybil Müller
Sekretaris: Marinda Brink

My beste wense vergesel ons dinamiese beheerraad. By voorbaat dankie vir jul leeue-aandeel om ons trotse skool jaar-in en jaar-uit na nog hoër hoogtes te lei.

Na afloop van die WP-atletiekbyeenkoms wat op Saterdag, 28 Februarie, te Blue Downs plaasgevind het, het een van ons agt atlete wat daaraan deelgeneem het, haar WP-kleure ontvang. Baie geluk aan Anabella Boshoff (gr. 7) wat met die louere as WP-kampioen vir spiesgooi o.13 dogters weggestap het. Dit is voorwaar ‘n merkwaardige prestasie en ons is saam met haar en haar ouers baie trots op wat sy vermag het.

Ons hou nou styf duimvas dat sy haar Wes-Kaap (WP, Boland en SWD)-kleure by die Wes-Kaap-byeenkoms op Saterdag, 14 Maart, te Coetzenburg sal verwerf. Anabella presteer nie net op die sportgebied nie, maar ook op akademiese gebied (‘n Top 10 akademiese leerder), asook op kulturele gebied met puik sangoptredes en sy is ‘n uitstekende vioolspeler!

Baie dankie aan mnr. Leon wat die groep van 8 atlete na die WP-kampioenskappe vergesel het, asook om Anabella môre na Stellenbosch te vergesel.

Graag wil ek van die geleentheid gebruik maak om die Beheerraad van HS Jan van Riebeeck geluk te wens met hul besluit om ‘n standaard-grootte astro-hokkieveld te laat installeer. Dit is beslis die regte stap om beide ons skole se hokkiespelers te akkommodeer, aangesien die hoërskool en ons as laerskool van die min skole is wat nie hul eie astro-fasiliteit besit nie. Die meeste wedstryde en/of toernooie geskied deesdae op astro-velde.

Die laerskool ondersteun beslis hierdie besluit wat vir beide skole groot voordele gaan inhou en dat ons as skole veral op sportgebied nouer sal saamwerk. Sien gerus die dokument vanaf die HS JvR se  Beheerraad wat ek op Saterdag, 28 Februarie, met julle op die “WA-announcements’’ gedeel het.

Vir ons as laerskool gaan dit dus heelwat meer spasie beskikbaar stel, aangesien daar dikwels met verskeie hokkiespanne gelyktydig (tien spanne vanaf o.11 – o.13) op een veld (Conradieveld) geoefen moet word. Ons hokkiegetalle het ook oor die laaste twee jaar drasties gestyg en met meer spasie gaan ons vir seker meer effektief kan afrig en selfs die huidige hokkieuitslae, wat goed is, kan verbeter.

Ek het op Dinsdagmiddag, 03 Maart, self die hokkie-oefeninge vir die junior spanne agter op die kunsgrasveld gaan bywoon en was aangenaam verras met 44 graad 1’s wat vir hul eerste hokkie-oefening opgedaag het.

Sterkte vir al die netbal- en rugbyspanne (o.7 – o.13) wat vanoggend om 08:30 na Porterville vertrek het om aan die gewilde Bulfees deel te neem. Weens die feit dat dit so ver is om te ry, maak ons van groot luukse busse (Elwierda) met professionele bestuurders gebruik om die veiligheid van ons leerders te verseker.

Hiermee gaan ek voort om bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ‘n poging om ons pragtige taal verder te promoveer:

‘’Om Gods water oor Gods akker te laat loop’’

Die uitdrukking word gebruik om iemand of mense se aksie/s te beskryf wat net dinge/sake (gewoonlik negatief) hul gang te laat gaan sonder om in te gryp. In Engels beteken dit: ‘’to let things slide’’. Die uitkomste is dikwels nie gewens nie.

Geniet ‘n wonderlike naweek saam met jul vriende en gesin.

Groetnis

Naas Beets
SKOOLHOOF